DIE TOEKOMS VAN DIE GESTREMDE JEUG IN ’N INKLUSIEWE STELSEL IN S.A.

Toespraak van dr. Hermie Burgers tydens twaalfde W.A. Landman Gedenklesing en Jeugdagvieringe van ATKV Centurion.

 

In 1994 het 92 regerings en 25 internasionale organisasies ‘n wêreld kongres oor onderwys vir leerders met spesiale onderwysbehoeftes (Special Needs Education)  by Salamanca in Spanje gehou.  Daar is ingrypende besluite ten opsigte van onderwys aan gestremde  leerders geneem. Die kern van hierdie besluite het daarop neergekom dat alle leerders, ook gestremde leerders toegang moet hê tot onderwys. Tweedens moet dit moontlik wees vir alle gestremde leerders om die plaaslike skool naaste aan sy tuiste by te woon soos enige nie-gestremde dit kan doen.

Op grond van hierdie besluite het die regering na 1994 besluit om die Suid Afrikaanse onderwys by bogenoemde besluite aan te pas.  ‘n Komitee, die “National Committee on Education Support Services” is in 1996 in die lewe geroep om aan ‘n beleidsdokument te werk.  ‘n Baie deeglike dokument is in Julie 2001 bekend gestel as die Witskrif 6.

Hierdie dokument moes rekening hou met die situasie dat daar sowat 64 000 gestremde leerders in spesiale skole was teenoor die geskatte 280 000 wat nie in skole was nie.  Daar sou ongeveer 1666 addisionele skole gebou moes word om in die behoefte te voorsien.  Hul oplossing het kortliks daarop neergekom dat :

  1. Spesiale skole in plek sou bly en selfs versterk sou word,
  2. Verder sal daar “voldiens”  skole tot stand gebring word. Hierdie skole sou hoofstroom skole wees wat so ingerig en toegerus sou word om voorsiening te maak vir gestremde leerders.
  3. Verder sou sommige buitengewone onderwys skole (spesiale skole) as ondersteuningsentrums aangewys word.  Hierdie skole sou, in samewerking met die distrikskantore, hoofstroom skole van raad en hulp bedien sodat hulle in staat sou wees om gestremde leerders te hanteer.

Daar sou weg beweeg word van die mediese model na die sosiale model, waar nie na die gestremdheid gekyk word nie, maar na die leerder se onderrig behoeftes.  Vir die doel word daar 5 vlakke van behoefte ingedeel, waar vlakke 1-3 in hoofstroom akkommodeer moes word, terwyl vlak 4 en 5 in spesiale skole. Die praktiese probleem was egter dat daar indie agtergeblewe, landelike gebiede min spesiale skole bestaan.  Daar is nie voldoende koshuis geriewe by bestaande spesiale skole nie. Buitendien kan die leerders se ouers nie die vervoer en die koshuis gelde bekostig nie.  Die enigste uitweg is dus dat sulke leerders in hoofstroom opgeneem moet word.

Vanaf 2001 het die onderwys departement ‘n implementeringsplan van 20 jaar in die vooruitsig gestel.  Die proses ondervind egter talle struikelblokke soos byvoorbeeld die volgende:

  1. Gebrek aan ‘n nasionale befondsing beleid. Elke provinsie het sy eie beleid wat ook nie altyd baie duidelik is nie. Dit behels subsidie aan skole, personeelvoorsiening, bou van skole, koshuise en voorsiening van toerusting.
  2. Gebrek aan nasionale koördinering.
  3. Gebrek aan kundige mense wat weet wat die behoeftes en noodsaaklikhede vir gestremdes behels.
  4. ‘n Gebrek aan ‘n realistiese kurrikulum vir gestremde leerders, veral die verstandelik gestremdes en verstandelik erg- gestremdes.

KOMMENTAAR

Ek is van mening dat ernstig gestremde leerders in die agtergeblewe gebiede ook voorsien behoort te word van spesiale skole wat voorsiening maak vir al die gestremdhede sodat daar gespesialiseer kan word. Daar kan eenvoudig nie van hoofstroom personeel verwag word om te midde van hul groot klasse nog ‘n spesialis in al die verskillende gestremdhede te wees nie.

Vlak 1-3 leerders wat veronderstel is om in hoofstroom geakkommodeer te word, benodig weer ’n kurrikulum wat voorsiening maak vir praktiese vakke, soos houtwerk, sweis, haarkappery ens.  Om al hierdie fasiliteite in elke – of talle- hoofstroom skole te voorsien, is finansieel en logisties nie haalbaar nie.

My mening is dat die klein groepie gestremde leerders wat in hoofstroom opgeneem kan word wel geïnkluseer word.  Dit is leerders wat verstandelik kan aanpas, wat die ondersteuning van hul ouers het en waar die betrokke hoofstroom skool toegerus is en die regte ingesteldheid het, sodat die gestremde leerder nie “gedump”  word nie.

Ek stel voor dat daar ook vir die agtergeblewe, landelike gebiede spesiale skole opgerig word – dit wil sê vir erg gestremdes maar ook vir die verstandelik matig – en erg gestremdes sodat hulle ‘n kurrikulum kan volg wat by hul vermoëns pas. Ek is bewus daarvan dat dit groot finansiële implikasies het. Ek is egter ook van mening dat om vir die gestremde leerders in hoofstroom voorsiening te maak, soortgelyke finansiële implikasies het.

Die mense ten gunste van volle inklusie se argument is dat gestremde leerders in hoofstroom skole beter gesosialiseer word en dat die gemeenskap van kleins af geleer word om die gestremde te akkommodeer. Dit is waar dat dit ‘n groot behoefte in ons gemeenskap is, dat die gestremde deur die gemeenskap aanvaar word en opgeneem word in sosiale aktiwiteite.  Die anderkant van die argument is egter dat die gestremde leerder in die hoofstroom gemarginaliseer kan word ten opsigte van sy sport , kulturele en sosiale aktiwiteite omdat hulle nie soos in spesiale skole in groepsverband aan hierdie aktiwiteite kan deelneem nie.

Ten slotte sien ek ‘n jeug wat kan baat by die inklusiewe stelsel waar die eerste wêreld omstandighede  in plek is sodat daar in die hoofstroom voldoende geriewe en personeel is om die gestremde kind te versorg.  Ek voorsien egter groot gebreke waar daar nie voorsiening gemaak word vir diegene wat nie in hoofstroom kan inpas nie.

 

Comments are closed.