Rapport artikel- Steroiede

Die gebruik van steroiedes deur skoliere, studente en sportlui.

Ons praat hieroor n.a.v. die Rapportberig oor die gebruik van Steroïedes.

Dr. Anke Brand, die voorsitter van ons Gespreksforum, het verlede jaar ‘n Doktorsgraad oor alle vorme van verslawing, met lof aan die St. Clements Universiteit in Switserland behaal.

 

Na aanleiding van Rapport se voorbladartikel Steroïede: Skole in Visier (Rapport, Sondag 20 Januarie 2013) en die onlangse erkenning van wêreldklas-fietsryer: Lance Armstrong is die fokus op die misbruik van verbode steroïede. ATKV Centurion Gespreksforum sluit hierby aan.

Anaboliese steroïede word wêreldwyd onwettig deur sommige sportlui gebruik om hul prestasie te verbeter. Die oorspronklike doel van steroïede was om die liggame van mense wat ondergewig en verswak is, op te bou. Dit word steeds daarvoor gebruik.  Dit is ’n goeie, etiese middel met ’n goeie doel, maar nou word dit misbruik deur veral atlete, rugbyspelers, liggaamsbouers en stoeiers.

Behalwe dat die gebruik van die middels oneties is, hou dit ook ernstige gesondheidsrisiko’s op lang termyn in. Van die newe-effekte is hoë bloeddruk, lewerskade, onvrugbaarheid en bloedklonte. Die newe-effekte hou regstreeks verband met die hoeveelheid wat gebruik word en dit neem eksponensieel toe. Verder lei die gebruik van steroïede ook tot onbeheerbare aggressie.

Byna twee derdes van alle skoolkinders wat steroïede gebruik, doen dit om mooi te lyk en net 30% wil beter presteer in sport. Só is bevind in die 2011 Discovery Sharksmart-opname.

Dr. Glen Hagemann, ’n sportdokter, het op ’n kongres van die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Sportmedisyne in Sandton gesê die navorsing, waaraan meer as 12000 tieners in die KwaZulu-Natal-omgewing deelgeneem het, het getoon sowat 4,6% van alle seuns het al steroïede gebruik en 1,2% van alle meisies.

Sommige gebruikers is so jonk as 13 jaar. Altesaam 63% van die deelnemers het gesê hulle het dit gebruik om goed te lyk en 11% omdat hulle deur hul maats of afrigters aangemoedig is om dit te gebruik. Byna een uit tien kinders se ouers het druk op hulle geplaas. Hangeman se studie bevestig ook dat die grootste gebruikers rugbyspelers is.

Die toenemende gebruik van steroïede deur jongmense hou direk verband met die verhoogde druk wat daar op die kinders is om te presteer. ʼn Opname toon kinders wat erg onder druk is om in sport te presteer, het ’n meer as twee keer groter kans om steroïede te gebruik as ander. Gebruikers het ’n vier keer groter kans as ander kinders om in gevegte betrokke te raak en selfmoordgedagtes te hê.

Voormalige Springbokrugbyspeler Victor Matfield verduidelik dat dit alles oor druk gaan. Hy is van opinie dat ouers baie keer half verantwoordelik is, want die vraag ontstaan: waar kry die kind geld om daai goed te koop? “Dis oefen, dis nie vir ietsie drink en die spiere kom nie. Jy moet reg eet, jy moet die regte lewenstyl hê. Dis waaroor dit gaan.” (http://www.sarie.com/lewe-liefdes/5-boek-minute-met-victor-matfield-deel-2)

Hagemann het gesê hy is veral geskok oor die feit dat minder as die helfte van die deelnemers glo dit is “kullery” om steroïede te gebruik. Net 39% het gemeen dit is verkeerd om dit te gebruik.

Mnr. Khalid Galant, uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Instituut vir Dwelmvrye Sport, het gesê die instituut het voorheen hul praatjies by skole gefokus op sportspanne, maar noudat dit blyk tieners gebruik ook die produkte om beter te lyk, word hele skole eerder by ingrypings betrek. Sommige van dié aanvullings is ongetoets en besmet met verbode middels soos stimulante en steroïede wat nie verklaar is nie.

Onlangse bewyse dui daarop dat steroïede wat oor ʼn lang tyd gebruik word asook die misbruik van steroïede die klassieke kenmerke van verslawing, insluitende drange, onvermoë om op te hou om die verbode middel te gebruik, negatiewe uitwerking op sosiale verhoudings asook onttrekkingsimptome ervaar. Hierdie onttrekking sluit in simptome soos buierigheid, moegheid, rusteloosheid, verlies aan eetlus, slaaploosheid, verminderde seksdrange, en steroïed drange in. Die mees gevaarlikste van die onttrekkingsimptome is depressie, omdat dit soms lei tot selfmoordpogings.

Verslawing is ʼn uiterste vorm van chemiese en/of ʼn sielkundige afhanklikheid, wat ʼn uiteindelik ʼn negatiewe invloed op so ʼn persoon se lewe kan hê. Hierdie obsessiewe, en/of kompulsiewe gedrag duur voort ten spyte van die wete dat hierdie middele nadelig is. Verslawing neem die plek in van alles in die persoon se lewe,  dit ontwrig gesondheid, familie lewe, finansies, verhoudinge asook werk.

Verslawing kan genees word, en hoef nie ʼn lewenslange vonnis te wees nie. Daar is ʼn oplossing en hulp beskikbaar. Ons plig is om mense in te lig, op te lei en toe te rus.

Navrae:     Sakkie Kotze              082 925 1488

Voorsitter ATKV-Centurion

Nie-Uitvoerende Direkteur van ATKV SA met portefeulje: Onderwys.

Comments are closed.