ONS VIER FEES…!!!

 
ATKV CENTURION BESTAAN VANJAAR AL VIR 25 JAAR EN DIE LEGENDARIESE GERT VAN TONDER VIER VANJAAR SY 50e JAAR IN DIE MUSIEKBEDRYF.
Gert van Tonder en sy sangmaat Sias Reynecke het in 1967 as Groep 2 begin saam sing.
Daardie dae was sanggroepe baie skaars en het hul unieke duetsang en nuwe liedjies vining groot aftrek gekry. Van hul bekendste liedjies is vandag nog steeds lekkker saamsing- en neurieliedjies soos o.a.: die “Oukraalliedjie”, Die Padda wou gaan opsit…” “Dink jy darem nog aan my?” ens.
Nadat Sias in 1967 oorlede is, het Gert met sy eie sangloopbaan voortgegaan. Vandag sing hy nog steeds.
Gert is ook lid van ons Sangersfrorum en tree gereeld saam met ons op. Hy het al meer as 160 lirieke geskryf soos o.a. die musiek en liriek van “Haas Das se Nuuskas.” Hy het ook sopas ‘n Cd “Musiek uit die Hart” vrygestel.
Gert het ook al ‘n ATKV-toekenning gekry vir sy jarelange bevordering van ons taal en kultuur deur sy lirieke en sang.
 
Die Centuriontak bestaan uit vrywillige kultuurwerkers wat deur al die jare die Afrikaanse taal en kultuur op baie verskillende wyses bevorder. Hulle het ook drie
forums wat gereeld  op verskillende aspekte fokus soos bv. die:
  • Sangers- en Musiekforum wat gereeld by o.a. skole, kerke, skoue, feeste, aftree-oorde en ouetehuise optree.
  • Leiersforum wat gereeld skool- en studenteleiers saamtrek met besprekings en fokusse op effektiewe leierskap;
  • Gespreksforum wat gereeld jongmense inlig en voorlig oor die hantering van stress en trauma, tendense t.o.v. jeugmisdaad, gevare van vigs ens.
Die tak spog ook met permanente projekte:
  • Ons PPS Prestige Prestasie Skouerbande “Mnr. Afrikaans en Mej. Afrikaans”. Die skouerbande word aan hoër- en laerskole asook UP, UNISA en TUT se Departemente Afrikaans geskenk. Dit word dan na elke eksamen deur die Toppresteerders in Afrikaans by die skool en op die kampus gedra tot en met die volgende eksamen. Die toppresteerders word dan ook gereeld gevra om hul groeteboodskappe aan Afrikaans by ons “Vlam vir Afrikaans” by die Voortrekkermonument te kom plaas sodat besoekers dit ook kan lees.
  • Ons “Vlam vir Afrikaans” is by die Voortrekkermonument opgerig ter herdenking van die amptelike erkenning van Afrikaans op 8 Mei 1925. Dr. Mimi Coertse het op 8 Mei 2015 die Vlam aangesteek. Ons nooi nou ook die publiek en enige belangstellende uit om ons webwerf: Vlam vir Afrikaans te besoek en ‘n groeteboodskap aan Afrikaans te stuur. Diè nuwe webwerf het ook nou al meer as 14,000 besoekers.
  • Ons webwerf: ATKV Centurion spog met al meer as 169,000 besoekers. Al ons aktiwiteite van al die jare verskyn met foto’s op die webwerf.
  • Ons Cd: “Opgedra aan ons Senior Burgers”. ‘n Kopie word aan ouetehuise en aftree-oorde geskenk sodat inwoners in die sentrale sitkamer daarna kan luister. Dit bevat musiek uit vergange se dae en sluit o.a. ook liedjies van Min Shaw, Jurie Ferreira, Lance James en Gert van Tonder in.
  • Ons “Bokke Hakke”– rugbyliedjie ter ondersteuning van die Springbokke.
  • Ons “Viva Bafana Viva”– sokkerliedjie ter ondersteuning van ons sokkerspan tydens die Wêreldbekertoernooi in die FNB-stadion. Van ons sangers het die liedjie tydens die amptelike opening in die stadion voor die openingswedstryd gesing. Kyk na die video. Kyk op die openingsbladsy van ons webwerf en soek vir sokkerliedjie DVD in die regterkantste kolom.
  • Ons liedjie ter ere van Cora Marie.
  • LW. Ons Cd “Opgedra aan ons Senior Burgers” sowel as die rugby-, sokker- en ereliedjie vir Cora Marie is op dieselfde openinsbladsy van ons webwerf te kry. Luister gerus daarna.
20170901_205254ATKV CENTURION VIER FEES SAAM MET GERT VAN TONDER VAN GROEP 2.
Op die foto verskyn van ons sangers en musikante wat saam met Gert van Tonder sy nuwe Cd en sy 50 jaar as sanger gevier het.:
Voor vlnr.: Willie Jooste (trekklavier), Rommel van der Riet (saag en mondfluitjie), Jan Venter (mandolien en banjo).
Agter vlnr.: Sangers Venetia Rose, Gert van Tonder en Marlene Bezuidenhout. Sakkie Kotze (Voorsitter).

Comments are closed.