ATKV Saamtrek in Pretoria lok baie belangstellendes.

‘n Saamtrek van ATKV-lede en belangstellendes in Gauteng het die afgelope naweek by Silver Lakes in Pretoria plaasgevind.
Soortgelyke byeenkomste het ook reeds onder blyke van groot belangstelling in Kaapstad, Port Elizabeth en Bloemfontein plaasgevind.

Mnr. Japie Gouws, Besturende Direkteur van die ATKV Groep het by die geleentheid die ATKV se verskeidenheid aktiwiteite bekendgestel en onder andere aangekondig dat Aftreebehuising by die ATKV-oord Klein Kariba in die vooruitsig gestel word. Drie lede van die Direksie van die ATKV nl. Johan Kruger, Michiel Jacobs en Sakkie Kotze was ook teenwoordig.

Reyno Wepener het die baie aanwesiges lus gemaak om die nuutste van die sewe ATKV-oorde, Eiland Spa, naby die Krugerwildtuin te gaan besoek.
Marietha Snyman Besturende Direkteur van LAPA Uitgewers het weer gespog met die ATKV se groot verskeidenheid puik Afrikaanse boeke wat so in aanvraag is deur lede en die publiek.
Evelyn Ferreira het belangstellendes uitgenooi om by ‘n tak in hul omgewing in te skakel en so deel te verkry in die bevordering van die Afrikaanse taal en kultuur op plaaslike vlak.

Die jeug was ook verteenwoordig met Gunther Muller, voorsitter van ATKV Centurion se Jeugleiersforum wat die opening waargeneem het en as seremoniemeester opgetree het. Die twee jong musikante van Eclips het weer die gehoor se voete laat jeuk met hul opgewekte vioolmusiek.


Op die foto verskyn vlnr. Johan Kruger, Michiel Jacobs, Japie Gouws, Marietha Snyman en Sakkie Kotze.

Comments are closed.