Archive for March, 2016

PUIK AFRIKAANSE TALENT UIT AMERIKA…!!!

Sunday, March 20th, 2016

KARIN HOUGAARD SE HART KLOP NOG STEEDS VOLUIT VIR AFRIKAANS.

Karin bly deesdae in Amerika. Sy is tans hier met vakansie en het Sondag 20 Maart voor ‘n vol Atterburyteater in Pretoria opgetree. Sy het van haar bekendste Afrikaanse lirieke gesing en gedigte voorgelees.
Sy is aan die einde drie keer teruggeroep verhoog toe. Daar was baie groot waardering vir haar sang-, liriek- en digtalent.

Haar sangloopbaan het reeds op skool momentum gekry toe sy in 1980 as ‘n st. 9-leerling aan Hoërskool Die Kruin, aan ATKV Crescendo deelgeneem en as algehele wenner aangewys is.

Verskeie van haar ATKV-vriende en medewenners van Crescendo is ook as gaste na die konsert genooi. Op die foto verskyn o.a. vlnr.: Johan van Rensburg, (bekende musikant van Noot vir Noot), Anna Davel (ATKV Crescendowenner van 1997), Karin Hougaard (Cresendowenner van 1980), Rina Hugo (Crescendowenner van 1978) en Sakkie Kotze (ATKV Centurion Musiekforum).
DSCN1860

TOPLEIERS ONTVANG TOPTOEKENNINGS

Thursday, March 17th, 2016

LEIERSKAPINSTITUUT VAN H/S WATERKLOOF VORM EN POLEER LEIERS VIR DIE TOEKOMS.

Negentien topleiers van die skool is Donderdag 17 Maart tydens ‘n spogfunksie by die skool vir hul topleierskap beloon.

Leiers word aan ‘n evalueringskriteria onderwerp wat teoretiese en praktiese werk i.v.m. leierskap insluit. Dit behels baie praktiese en alledaagse situasies waar besluite geneem moet word.

Nege Gr. 12-leerders het ‘n goue medalje en erekleure vir leierskap ontvang.
Een Gr. 11-, een Gr.10- en ses Gr. 9-leerders het ‘n silwer medalje en erekleure vir leierskap ontvang.

‘n Spesiale toekenning is aan twee van die topkandidate wat die oorlewingskamp bygewoon het en erekleure vir leierskap ontvang het, oorhandig nl. Karia Jordaan en Matthys van Heerden.
Op die foto verskyn hulle saam met vlnr. mnr. Burger Lindeque (Hoof van die Instituut), mnr. Daan Potgieter (skoolhoof) en Sakkie Kotze (Direksie van die Leierskapinstituut).
DSCN1852

ONS STEEK ‘N FAKKEL AAN VIR “AFRIKAANS 100”

Thursday, March 17th, 2016

8 MEI 2016 BY DIE VOORTREKKERMONUMENT
Die ATKV Centurionsangers is al jarelange kultuurvennote van die Voortrekkermonument. Ons bied gereeld naweke en op openbare vakansiedae musiekprogramme daar aan. Ons volgende musiekprogram gaan ook in samewerking met die Voortrekkermonument wees.
Ons vier op 8 Mei 2025 die eeufeesbestaan van Afrikaans as amptelike taal. Ons gaan nou op Sondag 8 Mei hierdie jaar tydens die musiekprogram, ‘n Fakkel aansteek vir “Afrikaans 100”.
Daar gaan kaartjies verkoop word ten bate van die Voortrekkermonument. Die kaartjies sluit toegang tot die terrein en die konsert. Ons maak later die program en waar die kaartjies gekoop kan word op ons webwerf ATKV Centurion bekend.
Ons nooi verteenwoordigers van Afrikaanse organisasies, -skole, -kerke, -besighede om ‘n “Groeteboodskap vir Afrikaans 100” langs die Fakkel te kom plaas. Ons reël dan toegang vir hulle. Meer besonderhede volg later. As u die groeteboodskap aan ons wil stuur, is daar bepaalde reëlings wat u vooraf moet weet. Hou ons webwerf dop.

KULTUURFEES FOKUS OP INHEEMSE TAAL- EN KULTUURGROEPE.

Saturday, March 12th, 2016

ATKV CENTURIONSANGERS EN -MUSIKANTE VERSTEWIG VERHOUDINGE MET ANDER TAAL- EN KULTUURGROEPE BY KULTUURFEES IN JOHANNESBURG.

Die onderskeie taal- en kultuurgroepe van Suid-Afrika het Saterdag 12 Maart die geleentheid gekry om hul sang, musiek en danse aan mekaar bekend te stel. Dit het tydens die Zindala Zombili “African Music and Dance Festival” wat by Constitution Hill in Johannesburg aangebied is, plaasgevind.

Al die taal- en kultuurgroepe in Suid-Afrika is daar verteenwoordig nl. Afrikaans, die Bapedi, Basotho, Batswana, AmaNdebele, Amaswazi, Amaxhosa, Amazulu en Xitsonga.
Verteenwoordigers van die Centurion Musiekforum het die waarderende gehoor met bekende Afrikaanse liedjies soos o.a. “Sarie Marais”, “Ou Tante Koba” en “Afrikaners is plesierig”, deurentyd laat hande klap en voete stamp. Hul sang, musiek en danse is afgesluit met die sing van die bede: “Gee hierdie land nuwe hoop, nuwe krag…!!!”

Op die eerste foto verskyn van die deelnemers op die verhoog voor vlnr.: Rommel van der Riet (saag en mondfluitjie), Herman Meyer (konsertina, trekklavier en saag). Agter staan die sangers vlnr.: Sakkie Kotze, Louis Buys, Ina Labuschagne en Pieter van Niekerk.

Ons was aangenaam verras met een van die lede van die Vendagroep met die volgende unieke Afrikaanse slagspreuk op haar T-hempie: “Hierdie unieke Niemand verwag ‘n klein Iemand”

Op die ander foto verskyn lede van die Sepedigroep saam met van ons musikante. Op die ander foto staan Sakkie Kotze langs Zindala Zombili, een van die orgniseerders. Die twee seuns verkyk hulle aan die musiekinstrumente ‘n konsertina en ‘n “saag” wat dan normaalweg gebruik word om hout te saag…!!!

Sakkie Kotze het voordat die Centuriongroep met hul aanbieding op die verhoog begin het, die organiseerders gelukgewens met hul inisiatief en puik program. “Dit is ‘n uitstekende manier om meer van mekaar se taal, kultuur, tradisies en gewoontes te leer. Daaruit spruit o.a. wedersydse aanvaarding en respek vir mekaar.” Ina Labuschagne het ons program afgesluit met die gebedlied: “Gee hierdie land nuwe hoop nuwe krag…”
DSCN1808
DSCN1837
DSCN1832
DSCN1834

FOKUS OP AFRIKAANS IN DIE SAKEWêRELD

Thursday, March 10th, 2016

AFRIKAANS VRIENDELIK VELDTOG SKOP OP HOë NOOT AF.

Afriforum se “Afrikaans Vriendelik” veldtog het vandag wye belangstelling getrek in die Atterburyteater in Pretoria. Verteenwoordigers van verskeie Afrikaanse besighede en -organisasies het dit op uitnodiging bygewoon.bygewoon.

Daar is veral gefokus op die bevordering van Afrikaans in die sakewêreld. Die sprekers het verskeie aspekte van die gebruik van Afrikaans in die sakewêreld belig.

Alana Bailey, Adjunkhoof van Afriforum het die Afrikaans Vriendelik veldtog amptelik bekendgestel. Sy het ondermeer verwys na die Afrikaanse Verbruikersgids waar enige Afrikaanse onderneming of besigheid gratis op die webwerf: Afrikaans Vriendelik veldtog, kan registreer. Enige lid van die publiek kan dan voortaan die webwerf besoek om te verneem van Afrikaanse besighede wat ‘n bepaalde produk in hul omgewing, dorp of stad verkoop. Afrikaanssprekendes is uitgenooi om die name van Afrikaanse besighede in hul omgewing aan Afriforum te stuur.
Waldimar Pelser, Redakteur van Rapport, het gepraat oor “Afrikaans as besigheidstaal”. Hy het o.a. verwys na besighede wat nie skroom om hul produk in Afrikaans te adverteer nie terwyl daar weer ander bekende besighede in Suid-Afrika is wat net in Engels of dalk ook in ‘n swart taal adverteer. Henk Schalekamp, ook van Afriforum het gepraat oor “Hoekom Afrikaans ?”. Hy het o.a. hul “Verseker” Versekeringspaket as suksesvolle Afrikaanse besigheidsproduk voorgehou.
Die bekende ekonoom en TV-aanbieder Dawie Roodt, het gepraat oor Afrikaanse ondernemings in Suid-Afrika. Hy het beklemtoon dat Afrikaans nog steeds ‘n belangrike rol in die sakewêreld kan en moet speel.

Op die foto verskyn lede van die ATKV wat ook die bekendstelling bygewoon het saam met twee van die gassprekers wat daar opgetree het. Vlnr.: Dawie Roodt, Alana Bailey, Karien Brits, Evelyn Ferreira en Sakkie Kotze.
nsmail-5

Vorige ATKV Woordveertjiewenner stel nog ‘n nuwe boek bekend

Thursday, March 3rd, 2016

LAPA Boekbekendstelling in Brooklyn.

Sophia Kapp se nuutste roman “Oorlewingsgids vir ‘n bedonnerde diva” is Donderdag 3 Maart deur LAPA Uitgewers en Exclusive Books by die Brooklyn Mall in Pretoria bekendgestel.

Haar passievolle skryflus het op skool al met ‘n passievolle leeslus begin. Sy het menige boeke op ‘n dag en oor ‘n naweek “verslind”.

Sophia is met ‘n ATKV-woordveertjie vereer vir “Die Erflating” wat in 2007 gepubliseer is. Sy het daarna nog twee Woordveertjies ontvang vir “Huis van die Wind” en “Driehoek”

Op die foto word sy deur Mari Beukes, digitale projekkoordineeder van LAPA en Sakkie Kotze van ATKV Centurion gelukgewens.
DSCN1792
DSCN1795

Ons bring hulde aan ‘n uitsaaier en musiekkenner van “Alle volke loof die Here”

Wednesday, March 2nd, 2016

Die ATKV neem met leedwese kennis van die afsterwe van Fanie Smit.

Fanie Smit is in 2012 deur die ATKV vereer vir sy jarelange bevordering van gewyde koorsang en musiek in die RSG-program Loof die Here, wat Sondagoggende net na die 08:00 nuus uitgesaai word… nou al vir meer as 40 jaar.

Dis grotendeels Fanie se kennis van musiek, die skaars opnames wat hy gespeel het en die warmte in sy gesaghebbende aanbieding, wat die program so gewild gemaak het.

Fanie sal onthou word vir die wyse waarop hy Afrikaanssprekendes se kennis en waardering van gewyde koorsang verruim het deur middel van die radioprogram Loof die Here.

Op die foto verskyn vlnr: Japie Gouws (Besturende Direkteur: ATKV-Groep), Fanie Smit en Sakkie Kotze (ATKV-tak Centurion)

foto