Archive for April, 2015

Ons taksekretaresse bevorder kultuur deur haar skildertalent

Sunday, April 26th, 2015

Baie geluk met jou verjaarsdag vandag Beatrix Kotze.
Jy het ‘n kunstalent soos min. Dit was so lekker om vanjaar met die karavaan deur Namakwalant te toer en saam met jou die blommeprag te geniet.
Jou skilderwerk van ons inheemse blommeprag en SA-landskappe is pragtig. Baie dankie vir 35 jaar se saamwees. ‘n Baie aangename en voorspoedige nuwe lewensjaar jou toegewens. Ons wag vir nog meer suksesse met jou skilderwerk.
Sakkie Kotze. ATKV-takbestuur en -lede
DSCN1157

Verhoudinge in Suid-Afrika

Wednesday, April 22nd, 2015

Jeugleiers besin oor verhoudinge in Suid-Afrika.
Mnr. Sakkie Kotze, ondervoorsitter van die Direksie van die Leierskapinstituut was Woensdag 22 April die gasspreker by die maandelikse byeenkoms van jeugleiers by die Hoërskool Waterkloof. Hy is ook voorsitter van ATKV Centurion.DSCN1142
Mnr. Kotze het oor verhoudinge gepraat en o.a. verwys na huidige gebeure in Suid-Afrika wat verhoudinge tussen Suid-Afrikaners en buitelanders wat tans hier in die land is, baie negatief raak. Hy het egter ook gemeld dat die verhoudinge tussen die verskillende taal- en kultuurgroepe in Suid-Afrika tans ‘n laagtepunt beleef a.g.v. onder andere die skending van standbeelde en dienslewering op verskeie vlakke.
Die leiers het saamgepraat en redes bespreek waarom verhoudinge tans so swak is en wat elkeen in eie kring kan doen om verhoudinge te bevorder.

“Ons kan verhoudinge verbeter deur by onsself te begin en ons verhoudinge in kleinste kring te evalueer, vanuit my gesin en familie, my skool en vriendekring, my kerk en gemeenskap ens. Kom ons begin by onsself en maak seker dat ons verhoudinge met alle mense elke dag opreg is – ook op ons paaie en in ons winkelsentrums”, het mnr. Kotze onder andere bygevoeg.
Op die foto verskyn van die leiers wat teenwoordig was saam met mnr. Neels de Klerk (links). Hy bied die vak Lewensoriëntering by die skool aan. Regs staan mnr. Sakkie Kotze.

ATKV Centurion

Wednesday, April 22nd, 2015

ATKV CENTURION
Die Centuriontak van die ATKV
is ywerig om hul onverdeelde aandag te gee
en baie tyd aan taal- en kultuursake te bestee

Sedert 1982 het die tak se aansien nog meer gegroei
want hul aksies is op vaste beginsels geskoei
en die 100,000 besoeke op hul webwerf laat alles bloei

Hul gemeenskapsprojekte behels ook die gee
van voedsel en klere omdat hul omgee
aan minderbevoorregtes word baie tyd bestee

Talentkompetisies vir senior burgers word gehou
waar hul sang- en musiektalente ontvou
om so die gees steeds jonk te hou

Hul Sang en Musiekforum word gedurig aangewend
by die Uniegebou, Vryheidspark en die Voortrekkermonument
hul optredes by feeste, skole en kerke is welbekend

Die enigste Afrikaanse sokkerlied “Viva Bafana” was
deur die ATKV Centurion ewe gepas
geskryf om alle Suid-Afrikaners te verras

Ons probeer bou aan verhoudinge wat hou
trots Afrikaans en trots Suid-Afrikaans is ons nou
so probeer ons taal en kultuur lewend hou

(Jan Louwrens ATKV Centurion)

Eenhonderdduisend besoeke op ons webwerf…!!!

Wednesday, April 22nd, 2015

ATKV Centurion spog met 100,000 besoeke op sy webwerf…!!!

Die tak se webwerf is in 2000 geopen.

Toe die webwerf begin 2007 deur ‘n kuberkraker vernietig is, het die getal besoeke alreeds op 44,000 gestaan.
Ons webmeester Hardus Hattingh het die webwerf in Maart daardie jaar weer aktiveer en tans staan die besoekgetal alweer op meer as 56,000 – vandaar ons spoggery met 100,000 besoeke…!!!

Die tak word nog steeds bykans elke jaar as een van die aktiefste takke van die ATKV aangewys met volhoubare en suksesprojekte wat elke jaar aangepak word.
Vele nuuswaardige ATKV-programme is deur al die jare al op SABC2 en Enuus gebeeldsend en op RSG en gemeenskapsradiostasies uitgesaai.

‘n Berig en ‘n foto van elke ATKV-aktiwiteit wat aangepak word, verskyn op die webwerf.
Webwerwe: ATKV Centurion, ATKV Centuriontak en ATKV-tak Centurion

Morele verval

Tuesday, April 21st, 2015

MORELE VERVAL
Die skending van beelde is bisar
deur vandale polities erg verwar
en elkeen tree op soos ‘n nar

So bly hierdie erge gevaar
dat anargie ons in die oog staar
en tekens van morele verval is daar

Die wat lustig daaraan deelneem
wil ons van ons geskiedenis vervreem
Dis wat gebeur in ‘n misdadige sisteem

(Jan Louwrens ATKV Centurion)

Beskerm ons standbeelde

Tuesday, April 21st, 2015

BESKERM ONS STANDBEELDE
Die Erfenisstigting moet probeer
En bly van ons standbeelde in beheer

Anders gaan ons dalk later hoor
Ons het total alles verloor

Want as die staat dit wil behou
Gaan dit ons erg berou

En sal die spul nie verhoed
Die beelde word skroot met spoed

(Jan Louwrens ATKV Centurion)

Baie dankies aan Louise Senekal Sangskool vir 40 jaar se kwaliteitonderrig aan studente

Sunday, April 19th, 2015

Louise Senekal se Sangskool in Pretoria is sekerlik die oudste Sangskool in Suid-Afrika wat na 40 jaar deur die stigter daarvan Louise Senekal, nog steeds suksesvol bestaan en presteer.

Die ATKV Centurion Sangersforum nooi haar studente nog elke jaar om lid van die Forum te word – want ‘n kwaliteitsanger soos Louise Senekal lewer kwaliteitstudente en -sangers wat ook van hul eie sangloopbaan ‘n sukses maak. Die publiek se reaksie en waardering tydens ons Sangersforumlede se puik optredes by die Voortrekkermonument, Vryheidspark, die Uniegebou, feeste, skole, kerke en tydens ATKV-aksies getuig daarvan.

Louise het Sondagmiddag 19 April ‘n kwaliteitkonsert in die Pierneefteater aangebied waar sy as sopraan saam met kwaliteitsangers Dewald von Solms (tenoor), Pierre van der Westhuizen (tenoor) en Laetitia du Plessis (sopraan) ‘n program van onvergeetlike kwaliteit, areas en uittreksels uit bekende operas en operettes gesing het.

Sakkie Kotze het haar by die geleentheid bedank en gelukgewens met haar eie suksesvolle sangloopbaan en die groot sukses wat sy steeds na 40 jaar met haar sangskool behaal.

Op die foto’s verskyn sy saam met Sakkie Kotze, haar drie kollegas wat ook opgetree het, van haar huidige studente wat ook daar was en twee van die Sangersforumlede Japie du Plessis en Venetia Klopper.

20150419-1DX_6766-120150419-1DX_6772-220150419-1DX_677520150419-1DX_6779

,

Paul Kruger Stigting en F.W. de Klerk Stigting ook by Beraad oor standbeelde verteenwoordig.

Saturday, April 18th, 2015

‘n Nasionale Beraad oor die skending van standbeelde is op Vrydag 17 April deur die Nasionale Departement van Kuns en Kultuur by Vryheidspark in Pretoria aangebied.
Adv. Johan Kruger het die F.W. de Klerk Stigting by die Beraad verteenwoordig. Theuns de Wet was daar namens die Paul Kruger Stigting. Johan is ‘n huidige lid en Sakkie ‘n voormalige lid van die ATKV Direksie.
Op die foto verskyn hulle vlnr. Johan Kruger, Theuns de Wet en Sakkie Kotze (ATKV Centurion)DSCN1128

Nasionale Beraad oor vandalisering van standbeelde lok wye belangstelling.

Friday, April 17th, 2015

Verskeie Afrikaanse kultuurleiers ook by die Departement Kuns en Kultuur se Nasionale Beraad oor vandalisering van standbeelde teenwoordig.

Die Departement Kuns en Kultuur het op Vrydag 17 April ‘n Nasionale Beraad oor die beskadiging van standbeelde by Vryheidspark in Pretoria aangebied.

Al die politieke partye, kultuur- en erfenisorganisasies, asook kurators van museums, akademici, navorsers, en kultuurleiers vanuit al die taal- en kultuurgroepe in Suid-Afrika is na die Beraad genooi.

Die Nasionale Minister van Kuns en Kultuur, mnr. Nathi Mthethwa het die openingstoespraak gelewer waarna die gehoor aan ‘n oop gesprek kon deelneem.

Op die foto verskyn van die lede van Afrikaanse organisasies wat by die Beraad teenwoordig was.
Erfenisstigtinglede by die Dept. Kuns en Kultuur se Beraad oor standbeelde 15-04-15
Vlnr.: Sakkie Kotze, Jack Louw (Taalmonument in die Paarl), Evelyn Ferreira (ATKV), Ulrich Janke (Dept. Kuns en Kultuur), Sonja Lombard (Erfenisstigting en Voortrekkermonument) en Johan van Zyl (Oorlogsmuseum van die Boererepublieke in Bloemfontein).

Op die ander foto verskyn lede van die Erfenisstigting wat ook by die Beraad teenwoordig was vlnr.: Evelyn Ferreira, Pieter Mulder, Kallie Kriel, Cecilia Kruger, Jan Bosman, Gawie Snyman en Sakkie Kotze.Standbeelde Beraad  2 by Vryheidspark 15 April 2015

Pretorianers gaste by ATKV-Toekennings in Johannesburg 15 Mei

Thursday, April 16th, 2015

Pretorianers gaste by ATKV-toekennings aan Afrikaanse taal- en kultuurikone 15 April 2015 in Johannesburg.

Verskeie Pretorianers het die ATKV se prestige toekenningsfunksie in Johannesburg as uitgenooide gaste bygewoon.

Afrikaanse taal- en kultuurikone is op 15 April deur die ATKV in Johannesburg vereer vir hul lewenslange bydrae tot die bevordering van die Afrikaanse taal en kultuur. Hulle was almal ook vir baie jare op een of ander wyse by verskeie ATKV-projekte as o.a. adviseurs, beoordelaars ens. betrokke.

Bennie Bierman (o.a. voorheen Hoof van Musiek by die SAUK en koorleier van verskeie kore), Carel Trichardt (30 jaar aan die Dramadepartement by die Universiteit van Pretoria verbonde, filmakteur in verskeie Afrikaanse rolprente), Petru Wessels (o.a. Afrikaanse prosa- en poësie voordragkunstenaar. Sy en Carel het die Teaterhuisie in Pretoria begin en vir baie jare daar verskeie verhoogproduksies aangebied), Johan van Rensburg (o.a. die Alabama Studentegeselskap van die PUK en “Noot vir Noot”), Anneli van Rooyen (o.a. haar talle Afrikaanse lirieke en sang. Sy was ook die eerste wenner van ATKV Crescendo terwyl sy ‘n leerling aan Hoërskool Menlopark was)

Op die foto verskyn van die Pretorianers wat die Prestige Toekenningsfunksie in Johannesburg as gaste van die ATKV bygewoon het vlnr. dr. John Roos (voormalige Direkteur van Internasionale Musiekkompetisies by Unisa en beoordelaaradviseur), Anneli van Rooyen, dr. Mimi Coertze, Carel Trichardt en Petru Wessels (Hulle het onlangs na 50 jaar in Pretoria, na Somerset-Wes verhuis) en Sakkie Kotze (ATKV Centurion. Voormalige Nie-Uitvoerende Direkteur van die ATKV).DSCN1104