Archive for October, 2014

Baie geluk Willie Trekklavier…!!!

Friday, October 31st, 2014

ATKV Centurionmusikant presteer nasionaal.

Willie Jooste, trekklavierspeler van ATKV Centurion se Musiekforum, het ‘n nasionale musiektitel verower.

Hy is die afgelope week by die Nasionale Finaal van SATMA (South African Traditional Music Awards) by die Universiteit van Fort Hare, as wenner in die kategorie “Beste Boeremusiekalbum” aangewys.

Willie se Cd “Trekklaviertreffers”bestaan o.a. uit drie boeremusieknommertjies wat hyself gekomponeer en op die trekklavier bespeel het.

Op die foto wens Sakkie Kotze, voorsitter van die Musiekforum hom geluk met hierdie puik prestasie.
20140902_173225

ATKV Drakensville is puik gashere

Saturday, October 25th, 2014

ATKV Drakensville gasheer vir SAVF se 84e Kongres.

Die 84e Kongres van die Suid Afrikaanse Vrouefederasie (SAVF) het die afgelope week in swier en styl plaasgevind – danksy die puik gasheerdiens van die oordpersoneel.

Tweehonderd en vyftig afgevaardigdes het die SAVF-kongres bygewoon en was vol lof vir die puik fasiliteite, die heerlike etes en die personeel se vriendelikheid en ondersteuning.

Lizane Basson het namens ATKV HK groetewense aan die SAVF met hul 110e bestaansjaar oorgedra.
Sakkie Kotze het as jarelange vrywillige werker van die ATKV ‘n geskenk aan mev. Irna Hartzenberg, jarelange vrywillige werker en uittredende presidente van die SAVF oorhandig.

Foto’s: Die Kongres- en Onthaalsaal in swier en styl getooi.
Petri Theron (0ordbestuurder), Sakkie Kotze en Jan Slabbert (Restourantbestuurder)
20141021_10560520141021_105419

ATKV-groete aan SAVF

Saturday, October 25th, 2014

ATKV-groete aan SAVF met hul 110e bestaansjaar.20141021_142417

Die Suid Afrikaanse Vrouefederasie (SAVF) het hul 84e Kongres die afgelope week by ATKV Drakensville gehou.

Lizane Basson het namens die ATKV ‘n groeteboodskap aan die SAVF oorgedra met hul 110e bestaansjaar. Sy het o.a. verwys na die belangrike en onmisbare rol wat die SAVF deur al die jare as welsynsorganisasie in ons land vervul.

Sakkie Kotze, ‘n voormalige nie-uitvoerende Direkteur van die ATKV en huidige voorsitter van ATKV Centurion het as jarelange vrywillige werker van die ATKV, ‘n geskenk aan mev. Irna Hartzenberg as jarelange vrywillige werker van die SAVF oorhandig.

Mev. Hartzenberg is sedert 1977 as vrywillige werker by die SAVF betrokke. Sy het o.a. die ampte van derde-, tweede- en eerste visepresident beklee en was sedert 2002 president en voorsitter van die Uitvoerende Komitee.
Sy het vanjaar tydens die Kongres as president uitgetree, maar bly nog steeds betrokke as vrywillige werker.

Foto: Sakkie Kotze oorhandig ‘n geskenk aan mev. Irna Hartzenberg. Mev. Marieta Kemp, direkteur Maatskaplike Dienste staan langs haar.

Volkspelers vier eeufees.

Monday, October 13th, 2014

Beesvelgooi, sweepslaan, samesang en volkspele alles deel van die kultuuraktiwiteite van die Volkspelebeweging.

Die eeufeesviering van die Afrikaanse Volksang en Volkspelebeweging het die afgelope naweek in Bloemfontein plaasgevind.

Volkspelers vanoor die hele land het in Bloemfontein saamgetrek vir die Beweging se Eeufeesviering.

Die programaktiwiteite was kenmerkend van die beweging se honderdjarige bestaan – lekker kuier!, smul aan tradisionele geregte!, spontane samesang!, volkspele!, beesvelgooi! en sweepslaan…!!!

Die Feesnaweek is met die optrede van die Volkspele- en Duitse toergroepe en daarna massasang- en volkspeledeelname afgesluit. DSCN0444DSCN0448DSCN0459DSCN0452

ATKV Centurionlede ook by Eeufeesviering van die Volkspelebeweging.

Monday, October 13th, 2014

ATKV Centurionlede by Afrikaanse Volksang en Volkspelebeweging se Eeufeesviering in Bloemfontein 11 Okt 2014

Drie lede van die ATKV Centurion Sangers- en Musiekforum het ook die Eeufeesviering van die Afrikaanse Volksang en Volkspelebeweging in Bloemfontein bygewoon. Louis en Ina is ook aktiewe lede van Erika Volkspelelaer in Pretoria. Louis speel ook in die voorry van Tukkies se 0/18 Rugbyspan.

Op die foto verskyn hulle saam met Pieter Koen (Kyknet) wat ook in Pretoria woon. Pieter is ook deur ‘n groep volkspeleneefs met die beesvel die lug ingegooi. Hy het darem veilig teruggekom aarde toe om die volgende Kwela- en Jukeboxprogram aan te bied…!!!

Van links na regs: Louis Myburg, Pieter Koen, Ina Myburg en Sakkie Kotze (Voorsitter van ATKV Centurion)
DSCN0442

Ons verstewig kultuurvennootskappe tussen Afrikaanse Kultuurorganisasies.

Monday, October 13th, 2014

ATKV verstewig kultuurvennootskap met Afrikaanse Volksang en Volkspelebeweging tydens hul Eeufeesviering in Bloemfontein 11 Oktober 2014

Mnre. Japie Gouws (Besturende Direkteur van die ATKV) en Sakkie Kotze (pasuitgetrede ATKV Direksielid) is as eregaste na die Eeufeesviering van die Afrikaanse Volksang- en Volkspelebeweging die afgelope naweek in Bloemfontein genooi.

Mnr. Gouws het gelukwense en ‘n groeteboodskap aan die Volkspelebeweging gelewer.
Hy het ook die noodsaaklikheid van samewerking en ondersteuning asook vennootskap tussen al die Afrikaanse kultuurorganisasies se aktiwiteite beklemtoon.

Sakkie Kotze is ‘n jarelange vriend en ondersteuner van die Beweging. Hy het in die verlede menige volkspelelaer gestig en was ook voorheen jare terug, lid van die Nasionale Raad vir Volksang en Volkspele.

Op die foto oorhandig neef Mike Jacobs, voorsitter van die Nasionale Raad, ‘n kopie van die Eeufeesuitgawe van “Ons Volkspele-erfenis” aan elkeen van hulle. Dit is ‘n Volkspelehandleiding en bevat ‘n aantal nuwe en oospronklike volkspele.

Vlnr.: Japie Gouws, neef Mike Jacobs en Sakkie Kotze
DSCN0439