Archive for August, 2014

Ollie Viljoen: Ons eer sy nagedagtenis.

Sunday, August 31st, 2014

Ollie Viljoen het sy lewe lank Afrikaanse musiek met ‘n passie bevorder.
Ons was bevoorreg dat hy ook as beoordelaar van ons Talentkompetisie vir Senior Burgers opgetree het.
Sy musiektalent en sy musiekspel het ons Afrikaanse musiekskat gekomplimenteer.
Gelukkig is dit nie verlore nie en sal dit altyd vir jong opkomende musikante as inspirasie dien.
Namens al ons Centurionmusikante.

ATKV Centurionmusikant finalis in die SATMA-kategorie vir beste Boeremusiekalbum.

Sunday, August 31st, 2014

20140902_173225 ATKV Centurionmusikant as finalis in die SATMA-toekennings aangewys.

Willie Jooste, een van die ATKV Centurionmusikante, is as ‘n SATMA-finalis in die kategorie “Beste Boeremusiekalbum” aangewys.
Die Finaliste is Saterdag 1 September tydens ‘n funksie in Mmabatho in Noordwes bekend gemaak.
Die kategoriewenners word 4 Oktober tydens ‘n funksie by die Universiteit van Fort Hare in die Ooskaap aangewys.

Willie se Afrikaanse trekklaviermusiek is deel van ons musiekoptredes.
Hy gee as ons orkesleier die toon aan saam met ons ander musikante met hul klawerbord-, konsertina-, kitaar-, baskitaar-, mondfluitjie- en saagspel.

Ons wens hom alle voorspoed en ons lojale ondersteuning vir die Finaal toe.
Op die foto ontvang hy gelukwense van Sakkie Kotze (voorsitter ATKV Centurion).

Navrae: Sakkie Kotze 082 925 1488 www.tak.co.za

Baie kultuurtalent by H/s Oosmoot

Thursday, August 28th, 2014

ATKV Talentkompetisie by Hoërskool Oosmoot lok baie belangstelling.

Die ATKV-tak by H/s Oosmoot se Talentkompetisie was ‘n groot sukses.
Baie goeie kuns- en musiektalent by die H/s Oosmoot het van die ATKV
Talentkompetisie dié week ‘n groot treffer gemaak.

Die leerders van die skool het op die rugbyveld om die verhoog gesit en
die puik program in piekniekstyl met komberse, eet en drinke ten volle
geniet.
Leerders kon hul kunswerke daar uitstal en dié met sang- en musiektalent
kon dit op die verhoog bewys en uitvoer.

Reghardt Lamprecht is as wenner van die kunsafdeling aangewys. Hy het ‘n
unieke portretstudie op teesakkies geskilder. Ellen van der Westhuisen
is met haar sangitem as wenner van die musiekafdeling aangewys.
Michael Nieuwoudt is naaswenner met sy dansvertolking. Jaco Venter en
Marisca Brink het met hul sangitems albei ‘n derde plek behaal.

Op die foto verskyn voor vlnr.: Mark-Anthony Nelson (ATKV-beoordelaar),
Michael Nieuwoudt, Ellen van der Westhuisen, Marisca Brink, Danelle J. v
Rensburg (Voorsitter v d ATKV-Jeugtak) en Sakkie Kotze (ATKV-beoordelaar).
Agter vlnr.: Reghardt Lambrecht en Jaco Venter.
DSCN0326DSCN0328

ATKV-Rieldanskompetisie: Streekkampioen op Gharies aangewys

Saturday, August 23rd, 2014

ATKV-Rieldanskompetisie: Streekkampioen tydens uitdunne op Gharies aangewys.

Die Griekwa Ratezgat Rieldansgroep van Vredendal is die afgelope week tydens uitdunne op Gharies as Streekskampioen aangewys.
Vier Streekskampioene is nou al tydens uitdunne wat in die Weskaap en Noordkaap gehou is, aangewys.

Op die foto wens Sakkie Kotze die groepleier geluk en voorspoed toe vir die Finaal wat later vanjaar by die Taalmonument in die Paarl plaasvind.
Elias Nel, projekorganiseerder van die ATKV staan heel links.

Die Nuwe Graskoue Trappers van Wupperthal, verlede jaar se nasionale Juniorkampioen, tree vanjaar op Erfenisdag by die Voortrekkermonument in Pretoria op.

Namakwaland 047

ATKV-gelukwense aan Klipwerforkes

Friday, August 22nd, 2014

ATKV Gelukwense aan Klipwerforkes – bevorder Afrikaanse tradisionele musiek al vir 45 jaar.

Klipwerf het al 25 Cd-albums en 3 DVD’s die lig laat sien. Twee-en-twintig albums het al goue status bereik en 6 is met platinum bekroon.

Die orkes is reeds met ‘n ATKV-toekenning beloon vir hul bevordering van die Afrikaanse taal en kultuur deur hul tradisionele Afrikaanse musiek.
Hulle tree einde vanjaar as gaskunstenaars by ATKV Hartenbos op.

Die Klipwerforkes se huidige lede bestaan uit Kobus Visagie en Gené van Niekerk (klawerbord), Edwin Bradley (kitaar) en Derrick Germishuys (tromme).

Op die foto wens Sakkie Kotze (ATKV) vir Kobus Visagie (orkesleier) geluk met hul besondere prestasies.DSCN0199

Kultuurvennote kuier saam

Thursday, August 21st, 2014

Kultuurvennote verdryf die koue met danspassies op die maat van boeremusiek.

Die Pretoriatak van die Boeremusiekgilde het Saterdag 9 Augustus ‘n saamtrek in die Lytteltonse Stadsaal in Centurion gehou. Dit was ‘n ideale geleentheid om die koue te verdryf.

Van die ATKV Centurionmusikante het ook saam musiek gemaak en die voete laat jeuk.
Sakkie Kotze, voorsitter van die Centurion Musiekforum het in sy groeteboodskap klem gelê op die samewerking tussen al die Afrikaanse Kultuurorganisasies en ondersteuning van mekaar se aktiwiteite.

Willie en Sakkie het vir Danie Jacobs gelukgewens met sy verkiesing as voorsitter van die tak.
Op die foto verskyn vlnr. Willie Mynhardt (Voorsitter van die Boeremusiekgilde), Danie Jacobs (Pretoria takvoorsitter) en Sakkie Kotze (ATKV)
boeremusiekgilde 004

“Ons wys ons passie vir Afrikaanse musiek en danspassies by ‘n Internasionale Kultuurfees.

Sunday, August 3rd, 2014

ATKV Centurion Musiekforum verteenwoordig Afrikaanse Kultuurgroep by Internasionale Marimba Kultuurfees.

Musikante en dansers van ATKV Centurion het die Afrikaanse taal en kultuurgroep op Saterdag 2 Augustus by die Internasionale Marimba Kultuurfees by St. Benedict’s College in Johannesburg verteenwoordig.

Verskeie taal- en kultuurgroepe het aan die Kultuurfees deelgeneem. Danse soos Griekse-, Indiese-, Tshwana-, “Gumboot-” en “Hip Hop-” is onder andere aan die feesgangers bekendgestel.

Die ATKV Centurionmusikante en -dansers het tradisionele musiek en danspassies soos o.a. “Groen Koringlande”, “Stellenboschverlange”, “Die Karringmelkwals”, “Die Opskopmazurka”, en “Die Soutpansbergsetees”, gespeel en belangstellendes die fynere danspassies gewys.

Die saagspel van Herman Lamprecht het groot belangstelling getrek. Die feesgangers was aangenaam verras om te sien dat ‘n saag as musiekinstrument gebruik word.
‘n Jong seun Ignatius kon nie glo wat hy sien nie en het gevra of hy ook kan probeer. Op die foto wys Herman hom hoe om die saag en die strykstok te hanteer.

Sakkie Kotze het by die geleentheid die belangrikheid beklemtoon dat al die taal- en kultuurgroepe in ons land en oorsee meer van mekaar se kultuureie leer, sien en geniet. “Dit is die beste manier om meer begrip en verstaan van mekaar te beleef en goeie verhoudinge te bevorder” het hy o.a. bygevoeg.

Op die foto verskyn vlnr.: Herman Lamprecht, Kobie en Hendrik Fourie en Sakkie Kotze (Voorsitter)

Navrae: Sakkie Kotze 082 925 1488 www.tak.co.za ATKV Centurion
014018