Archive for June, 2014

ATKV-gelukwense aan VLU-Eldoraigne met hul vyftigste verjaarsdag.

Thursday, June 19th, 2014

ATKV-gelukwense aan VLU-Eldoraigne met hul Vyftigste bestaansjaar.

Die VLU-tak Eldoraigne het hul vyftigste bestaansjaar Donderdag 19 Junie luisterryk met ‘n glansryke onthaal by die Raslouw NG-saal gevier.
Bykans 250 VLU-lede van oraloor het die verjaarsdagete bygewoon.
Vyftig kerse is aangesteek deur mev. Johanna van Biljon die huidige voorsitter, en 12 van die voormalige voorsitters wat teenwoordig was.

Sakkie Kotze het by die geleentheid dank en waardering teenoor die vrouens uitgespreek vir die kwaliteitbydrae wat hulle deur al die jare tot die bevordering van die Afrikaanse taal en kultuur lewer. “Ons het mekaar nodig as kultuurvennote en ons moet mekaar se kultuurtalente en -fokusse waardeer en ondersteun.”
Hy het die vrouens bedank vir die positiewe rol wat hulle in die gesin en in die gemeenskap speel om kinders en kleinkinders met christelike norme en waardes toe te rus. “Ons vroue is en bly die morele hoekpilare en die steunpilare in ons gemeenskappe. Ons het u nodig om rigting, balans en perspektief in ‘n snelveranderende en uitdagende samelewing te gee. U doen dit met waardigheid en meesterskap”, het hy onder andere gesê.

Coert Grobbelaar, lid van die ATKV Centurionsangers het die gaste met kwaliteitsang vermaak.

Op die foto oorhandig Sakkie Kotze ‘n Groeteboodskap aan Johanna van Biljon, voorsitter van die tak. Coert Grobbelaar staan links.

Sakkie Kotze 082 925 1488 webwerf: ATKV Centurion Vroue Landbou Unie Eldoraignetak vier 50jr bestaan 017

ONS ROEP ONS SENIOR BURGERS MET SANG- EN MUSIEKTALENT…!!!

Friday, June 13th, 2014

TWEEDE NASIONALE TALENTKOMPETISIE VIR SENIOR BURGERS 2014.

Ons nooi hiermee ons land se senior burgers met bewese kwaliteitsang- en/of musiektalent om aan ons tweede talentkompetisie deel te neem.

Deelnamekategorieë:
Sing enige Afrikaanse liedjie met enige musiekinstrumentbegeleiding.
Speel enige Afrikaanse nommertjie met enige musiekinstrumente.

Vra u kinders, kleinkinders, vriende, die kerk of die naaste Afrikaansmediumskool om u te help om die liedjie- en/of musiekinstrumentspel op ‘n Cd te kry of dit in MP3-formaat aan ons te epos.
U kan vir een of albei kategorieë inskryf. U kan ook meer as een liedjie en meer as een musieknommertjie inskryf.

Beoordelaars:
Ons span beoordelaars bestaan uit van ons bekendste en suksesvollste Afrikaanse sangers en musikante wat self ook vandag al senior burgers is nl. Rouel Beukes, Lieb Bester, Mimi Coertse, Theo Erasmus, Sonja Heroldt, Lance James, Martin Lane, Trevor Nasser, Min Shaw, Gert van Tonder (Groep 2) en Ollie Viljoen.

Inskrywingsvorm:
Stuur ‘n SMS na 082 925 1488 of ‘n epos na iakotze@mweb.co.za om ‘n inskryfvorm te bekom.

Sluitingsdatum:
30 Augustus 2014

Wenpryse:
Die twee kategoriewenners wen LAPA-boeke en ‘n tweedaeverblyf by ‘n ATKV-oord.

Navrae: Sakkie Kotze 082 925 1488 Besoek ons Webwerf: ATKV Centurion
IMG_0885

Voetejeukmusiek laat die koue wegdans…!!!

Tuesday, June 10th, 2014

KULTUURVENNOTE KUIER SAAM OP ‘N WINTERSAAND.

Voetejeukmusiek laat die koue wegdans…!!!

Lede van drie Afrikaanse kultuurorganisasies het Saterdag 7 Junie by die Pretoriatak van die Boeremusiekgilde saamgekuier – en sommer ook die Juniorbokke en die Springbokke se oorwinnings op die rugbyveld gevier…!!!

Die Boeredansers van Pretoria het die pas aangegee op die dansvloer en die voete en tone verder laat jeuk om by hulle te kom aansluit.

Sakkie Kotze van die ATKV het in sy toespraak die noodsaaklikheid van samewerking tussen die kultuurvennote en ondersteuning van mekaar se kultuuraktiwiteite beklemtoon.
“Ons bevorder almal die Afrikaanse taal en kultuur d.m.v. ons onderskeie organisasies se eie unieke kultuurfokus. Boeremusiekmusikante speel nie net mekaar se musiek nie, maar komponeer steeds nuwe eietydse komposisies.
Hulle lewer verder ook ‘n ander baie belangrike rol met die naamgewing van hul komposisies met verwysing na ons leefwyse, humor, alledaagse situasies en sêgoed soos onder andere: “Tant San van Christiana…”, “Die Karringmelkwals…”, “Hier wil ek nie bly nie…”, “Tant Antjie ruik na gom…”, “Die trane die rol oor jou Bokkie…”, “Oliekolonie…”, “Hasie hoekom is jou stert so kort…”, “Daar’s ‘n hoender wat ‘n eier nie kan lê…”, “Sonop oor die velde…”, “Daar’s ‘n wind wat waai soos hy nou daar waai…”, “Hou die roksak toe…”, “Oom Hans se Gemmerdans…”, “Soutpansbergpolka…”, ens. ens.
Die titels is baie beskrywend van ons taal en kultuur. Dit beskryf die liedjie en die musiek en kan nie sommer in enige taal in die wêreld vertaal word nie”, het hy onder andere gesê.

Op die foto verskyn vlnr.: Wessel Potgieter (Voorsitter: Noordstreek van die Boeremusiekgilde), Lucia van Wyk (Voorsitter van die Boeredansklub) en Fanus van Wyk, Beatrice en Sakkie Kotze (ATKV Centurion Musiekforum).

Op die ander foto verskyn twee van die baie musikante wat daar opgetree het saam met die kultuurleiers vlnr.:
Peet Visagie (Voorsitter: Pretoriatak van die Boeremusiekgilde) Lieb Bester (Bekende musikant en akteur), Theo Erasmus (trekklavier) Wessel Potgieter (Voorsitter: Noordstreek van die Boeremusiekgilde en Sakkie Kotze (ATKV)

Foto’s op ons webwerf: www.tak.co.za (ATKV Centurion)

Mampoerfees en boeremusiekgilde 016Mampoerfees en boeremusiekgilde 009

Musiek, aartappels, rissies en mampoer…!!!

Sunday, June 1st, 2014

ATKV Centurion weer met musikante, aartappels en rissies by die Willem Prinsloo Landboumuseum 31 Mei 2014…!!!

ATKV Centurion was weer vir die soveelste agtereenvolgende jaar bedrywig by die Willem Prinsloo Landboumuseum tydens die jaarlikse Mampoerfees.
Benewens al die ander opwindende kultuuraktiwiteite wat daar plaasvind soos perdry, ossewary, sweepslaan, broodbak, pap en kaiings eet, mampoerproe ens., speel die ATKV-orkes musiek terwyl die publiek aan die jaarlikse aartappelskil- en rissie-eetkompetisie deelneem.
Beide die kompetisies sorg elke jaar vir groot pret.

Deelnemers aan die aartappelskilkompetisie kies self een aartappel op die tafel en gebruik almal dieselfde soort mes om te skil. Die deelnemer wat na drie minute die langste skil uit die een aartappel geskil het, word as die wenner aangewys.
Die rekord staan op 3,21m uit een aartappel…!!!

Die rissie-eters sorg ook vir opwinding voor en na… die etery…!!!
Hulle kan self uit die rooi en groen rissies op die tafel kies om van te eet. Die een wat die meeste rissies binne 30 sekondes eet, kou en insluk, is die wenner. Geen vloeistof mag tydens die etery gedrink word nie. As jy ‘n rissie of meer uitspoeg voordat die tyd om is word jy gediskwalifiseer.
Die rekord staan op 28 rissies binne dertig sekondes…!!!

Boet Schoeman is deur die Kultuurstokersgilde van SA as die nasionale kampioen mampoerstoker aangewys. Hy is ook die voorsitter van die Gilde en het die meeste punte in alle klasse ontvang.

Op die foto verskyn ‘n paar van die deelnemers saam met die orkeslede.
Voor vlnr.: Pieter van der Merwe, Jan van der Merwe, Martie de Jonge, Alfred Rapp en Danie Swan.
Agter vlnr.: Karel du Toit (konsertina), Hennie Strydom (klawerbord en kitaar), Andries Reynecke (wenner van die aartappelskil), Sakkie Kotze (ATKV Centurion). Heel regs staan Rommel van der Riet (saagspeler).

Navrae: Sakkie Kotze 082 925 1488 www.tak.co.za
mampoerfees 2014 008