Archive for February, 2014

ONS VOLGEHOUE ONDERSTEUNING AAN HUIS PHYLLIS ROBERTSON

Sunday, February 23rd, 2014

ATKV ondersteun Huis Phyllis Robertson in Pretoria

Huis Phyllis Robertson in Pretoria huisves meer as sestig gestremdes van oraloor in Suid-Afrika.
Die Tehuis vier vanjaar reeds hul 52e bestaan. Hulle akkommodeer nie net gestremdes by geboorte nie, maar mense wat a.g.v. verskeie voorvalle en gevolge gestremd geword het soos bv. as voetganger of fietsryer raakgery, in ‘n motorbotsing beseer, van ‘n perd afgeval en permanente rugbesering opgedoen ens. ens.

Lede van ATKV Centurion se Gespreks-, Sangers-, en Musiekforum tree gereeld daar op om inwoners te bemoedig en te ondersteun.

Op Sondag 23 Februarie het die Tehilla Sanggroep daar opgetree en hul christensang met toepaslike verwysings uit die Bybel aangevul.

Op die foto verskyn drie van die inwoners, en drie van die personeel saam met twee lede van die Tehilla Sanggroep en Sakkie Kotze van ATKV Centurion Gesprek-. Sangers- en Musiekforum.

Voor vlnr.: Rina Bredenkamp (Admin. Beampte) en Susan de Jager (inwoner);
Agter vlnr.: Jacques van Wyngaard en Noaan Groenewald (inwoners), Sonja Cilliers en Christo de Witt (Tehilla Sanggroep), Martha Matseko (Mediese Beampte), Stephan Smalberger (Bestuurder) en Sakkie Kotze (ATKV Centurion en lid van die Direksie ATKV SA).

Op die foto verskyn van die inwoners na die gewyde musiekprogram aan ‘n heerlike Sondagmiddagete uit hul eie kombuis (vlnr.): Retha Schoeman, Susan de Jager, Johan van Niekerk, Christo Dippenaar, Peet Herbst, Veronica Trumpelman, Lindsy Backhouse en Johan Steyn,
Huis Phylis Robertson 003Huis Phylis Robertson 004

ATKV-gesin van Kathu gee aan hul kinders ‘n ware seevakansie- en kultuurbelewenis by Hartenbos

Tuesday, February 18th, 2014

ATKV-gesin van Kathu benut die seevakansie-, taal- en kultuurbelewing van Hartenbos ten volle.

Wat ‘n aangename bevestiging van die waardetoevoeging van die Wandelroete op Hartenbos as ‘n Kultuurroete…!!!
My vrou Beatrice en ek het op die Wandelroete gaan stap om die see te besigtig en al die gedigte wat allangs die roete op granietstene aangebring is, te lees en te waardeer.

Die gedigte van Afrikaanse digters met die see as tema, is allangs die Wandelroete op granietstene aangebring.
Dit was ‘n aangename belewenis toe ons op ATKV-lede van Kathu afkom waar Johan en Erika du Plessis een van die gedigte aan hul twee seuns voorlees en verduidelik.

Op die foto sit hulle by een van die granietstene met die gedig van H.A. Fagan “Ek het ‘n huisie by die see” daarop.
Voor sit hul twee seuns Stian (links) en Coetzee (regs).
Agter sit hul ouers Johan en Erika du Plessis. Sakkie Kotze, lid van die Direksie van ATKV SA sit heel regs.
Hartenbos en Prins Albert 086

ATKV-oorde komplimenteer ons taal- en kultuurbevordering.

Tuesday, February 18th, 2014

ATKV Hartenbos is ‘n unieke seevakansie-, sowel as ‘n Afrikaanse taal- en kultuurervaring.

Die ATKV-wandellaan allangs die seefront is ‘n unieke kultuurroete waar nege Afrikaanse digters se gedigte met die see as tema, op granietstene aangebring is.

Op die foto sit Nico Ras (links) en Sakkie Kotze (regs), albei lede van die Direksie van ATKV SA, by een van die granietstene met ‘n gedig van Adam Small “Toefie koers na die vismark” daarop.

Die Hartenbosmuseum word ook deurentyd druk besoek deur vakansiegangers en die publiek.
Dit bevat baie interessanthede van die omgewing sowel as die wordingsgeskiedenis van die ATKV.
Twee van die ossewaens wat tydens die ATKV se eie Simboliese Ossewatrek in 1938 gebruik is, is nog in ‘n puik toestand in die museum.

Hartenbos en Prins Albert 072

Baie dankie aan die Alkema-familie.

Tuesday, February 4th, 2014

Baie dankie aan die Alkema-familie vir hul volgehoue taal- en kultuurbevordering.

Die Alkema-familie hou vol met hul betrokkenheid by Afrikaanse taal- en kultuuraktiwiteite.
Pa en oupa Andre is voorsitter van die GHA en word deur sy vrou Sanet, en hul kinders ondersteun.
“Julle is ‘n voorbeeld vir al ons Afrikaanse taal- en kultuurorganisies. Ons kan nooit genoeg doen vir die bevordering van ons taal en kultuur nie, en as gesinne en families betrokke is, verhoog dit ons sukses” het Sakkie Kotze van ATKV Centurion bygevoeg.

Sakkie het die afgelope naweek tydens die GHA se viering van hul 20 jaarbestaan, die familie sonder hul voorafwete verhoog toe geroep en die dank en gelukwense aan hulle oorgedra. En…pa, ma, kinders met hul huweliksmaats en die kleinkinders was daar…!!!

Op die foto verskyn voor sittende vlnr.:
Sakkie Kotze, André en Sanet met Sané, een van die kleinkinders.
Agter staande vlnr.:
Riaan, Estiaan vasgehou deur ma Sonette, Adéle Alkema Burger met haar dogter Marlize, Ben de Muelenaere en
Martin Alkema.
GHA Alkema

Gelukwense aan die GHA vir 20jr Afrikaans..!!!

Tuesday, February 4th, 2014

GELUKWENSE EN DANK AAN DIE GHA VIR DIE BEVORDERING VAN AFRIKAANS DIE AFGELOPE 20 JAAR.

Die GHA het hul twingtigjarige bestaan die afgelope naweek luisterryk in Pretoria gevier.

Sakkie Kotze van ATKV Centurion het die Bestuur bedank en gelukgewens met al die suksesvolle taalbevorderingsprojekte wat die afgelope 20 jaar aangebied is.

Op die foto verskyn die Dagbestuurslede saam met Sakkie Kotze.

Vlnr.: Pieter Oosthuizen (Ondervoorsitter), Andre Alkema (Voorsitter) Sakkie Kotze (ATKV), Karine Bisschoff (Sekretaresse) en Joop Swanepoel (Randmeester).
“Ons laat Taal en Kultuur Leef…!!!”

ATKV Centurionsangers sing vir Senior Burgers.

Tuesday, February 4th, 2014

ATKV Centurionsangers sing vir senior burgers by die Kiepersol Dienssentrum in Centurion.

Drie van die ATKV Centurionsangers het ‘n saal vol senior burgers met sang en musiek bedien wat hulle met nostalgie ver laat terugdink het.

Gerald Meyer is ‘n groot Jim Reeves ondersteuner en het van Jim Reeves se bekendste internasionale treffers vertolk maar ook van die Afrikaanse liedjies gesing wat Jim Reeves hier kom leer het toe hy Suid-Afrika 50 jaar gelede besoek het en in die fliek “Kimberley Jim” opgetree het.
Van ATKV Centurion Musiekforum se lede het verlede jaar ‘n Gedenkprogram by die Kimberleymyn aangebied o.l.v Gerald Meyer en Trevor Nasser.

Marlene Bezuidenhout het weer die gehoor met haar sopraanstem bekoor en van die ou bekende Afrikaanse liedjies gesing.

Leon Arnaud het as grapjas en sanger opgetree. Hy het vir die humorstories gesorg en van die liedjies op sy Cd “Arms vol Rose” gesing. Hy het al die liedjies self geskryf en gekomponeer.
Leon was ook verlede jaar die algehele wenner van ons landwye Liedjieskryfkompetisie met die Anglo Boereoorlog en die 100 jarige herdenking van die Vrouemonument in Bloemfontein as tema. Sy liedjie oor Emily Hobhouse is ‘n treffer.

Op die foto sit Marlene Serfontein en Gerald Meyer. Agter staan Leon Arnaud en Sakkie Kotze (Voorsitter van ATKV Centurion en lid van die Direksie van ATKV SA)
sangers by Kiepersol 017

ATKV-taklede van Pretoria kuier saam

Sunday, February 2nd, 2014

sangers by Kiepersol 011ATKV-taklede kuier saam in Pretoria.

ATKV-lede is die afgelope week na ‘n saamkuier by die Ruimte Dienssentrum in Pretoria-Noord genooi waar daar op ATKV-takaktiwiteite gefokus is.

Daar is gesels oor ATKV-aktiwiteite vanjaar in die Pretoria-omgewing. Die fokus was op velerlei wyses van bevordering van die Afrikaanse taal en kultuur in die Tshwane/Pretoria-omgewing.

Op die foto verskyn van die takvoorsitters wat daar was saam met ‘n Direksielid en twee van die Hoofkantoorpersoneel.

Op die foto voor vlnr.: Annette Esterhuizen (tak Jakaranda) en Danelle van Rensburg (tak H/s Oosmoot)
Agter vlnr: Sakkie Kotze (tak Centurion en lid van die Direksie van ATKV SA), Mark-Anthony Nelson (Hoofkantoor), Soekie Nel (Tak Aksie en Woordvreugde) en Petro Greeff (Hoofkantoor)

Ons Jeugleiersforum se Nuwejaarsboodskap aan die Matrieks van 2013

Sunday, February 2nd, 2014

ATKV Centurion Jeugleiersforum se Nuwejaarsboodskap van Hoop aan 2013 Matriekskoolverlaters van Suid-Afrika.

sangers by Kiepersol 004
Geagte Matriekskoolverlater van 2013,
Hier staan ons aan die einde van een fase in ons lewe en aan die begin van ‘n volgende…!!! Van ons het ‘n vreugdevolle termyn agter die rug en ander nie. Wat ook al die geval was, staan ons almal nou voor dieselfde skoon blaai. Elke persoon het ‘n unieke manier hoe hy/sy die blaai gaan vul, maar jou houding gaan bepaal of hierdie volgende fase in jou lewe ‘n sukses gaan wees of nie.
Dit is belangrik om hoop te hê. Hoop is ‘n droom in werking.
Baie struikelblokke mag oor jou pad kom en jy voel dalk dat jou lewe eers na die struikelblokke kan begin. Inteendeel, al daardie struikelblokke is deel van ‘n mens se lewe en kan verhoed dat jy jou droom bereik. Hou moed en glo dat jy sterker aan die ander kant gaan uitkom. Niemand het gesê dit gaan maklik wees nie, maar alles gaan wel die moeite werd wees.
Merkwaardigheid is nie ‘n gawe wat net sekere mense besit nie, elkeen het dit. Die enigste verskil tussen die wat tou opgooi en moed opgegee het en die wat hul energie gebruik het en weer begin herbou het, is HOOP.
Moet nooit hoop verloor nie…!!! Neem saam met die hoop, ook die geloof en die liefde (1 Kor. 13:13) as jou kompas. Gebruik dié Bybelse kompas saam met die Afrikaanse taal en kultuur as jou reismaat.
Ons wens julle almal voorspoed en sukses toe vir 2014 en daarna.
Lewis Meiring. Namens ATKV Centurion Jeugleiersforum. www.tak.co.za