Archive for January, 2014

Ons begin die Nuwejaar met ‘n besoek aan die Infotox Kunsversameling

Friday, January 10th, 2014

ATKV Centurion begin die Nuwejaar met ‘n besoek aan die Infotox Kunsversameling.

ATKV Centurion het ook die Infotox Kunsversameling in Waterkloof besoek. Dit het ‘n verskeidenheid van skilderye, beeldhouwerk en pottebakkery bevat soos onder andere:

-Kunswerke van Jo Roos, Alexander Rose-Innes, Gregoire Boonzaaier, Marjorie Wallis en Walter Battiss;

-Beeldhouwerke van Anton van Wouw, Laurika Postma, Michael Edwards, Pierre Volschenk, Jo Roos en Xanti Mpaka;

-Pottebakkery van Andrew Walford en Esias Bosch.

Jo Roos is in 2010 deur die ATKV vereer vir sy jarelange unieke skilderwerk van Suid- Afrikaanse landskapstonele en beeldhouwerk van Afrikaanse digters soos o.a. Totius, Groot Trekleiers soos o.a. Gerrit Maritz en Suid-Afrikaanse politici soos o.a. HF Verwoerd, Nelson Mandela en vele ander.

Jo Roos was die eerste beeldhouer in die wêreld wat ‘n borsbeeld van President Mandela gemaak het. Dit staan by die munisipale biblioteek in Polokwane. President Mandela het dit self onthul en Jo Roos gekomplimenteer met sy puik handewerk en vakmanskap.

Jo Roos was ook een van ‘n groep kunstenaars wat gekies was om die Suid Afrikaanse betrokkenheid in die Eerste Wȇreldoorlog uit te beeld. Die reliëf is te sien in die die Delvillebosmuseum in Frankryk.

Infotox het in Mei 2008 ‘n biografie oor Jo Roos gepubliseer. Die ATKV het gedurende September 2010 ‘n weeklange uitstalling van Jo Roos se werk by die Voortrekkermonument aangebied. Hy het egter siek geword en is met die aanbreek van die openingsaand van die uitstalling in die hospitaal opgeneem.

Ons het by die hospitaalbestuur toestemming gekry om hom te gaan haal en het hom op ‘n rolstoel by die Voortrekkermonument ingestoot.

Die ATKV-toekenning was vir hom ‘n baie groot oomblik in sy lewe – die eerste en laaste toekenning en erkenning wat hy ooit vir sy kultuurbevordering en kultuurbydrae tot ons Afrikaanse en Suid- Afrikaanse kunsskat ontvang het.

Ons het hom direk na die funksie teruggeneem hospitaal toe, min wetende dat hy nie weer daar sou uitkom nie. Hy is ‘n paar weke daarna daar oorlede.

Op die foto verskyn van ons groeplede by van sy werke wat in die Versameling te sien is. Links bo is ‘n skildery van gemsbokke. Regs bo is ‘n unieke selfportret van hom. Sakkie Kotze staan by ‘n beeld wat Jo van sy getroue vriend Aster Viljoen gemaak het.

Vlnr.: Gert en Eunis van Tonder, Dricky Simpson en Sakkie Kotze. Agter staan Dr. Willie van Niekerk.kunsuitstalling Jan 2014 020

Matriekuitslae: Drie Afrikaansmediumskole in Gauteng as Toppresteerders aangewys.

Tuesday, January 7th, 2014

Baie geluk aan drie Afrikaansmediumskole in Pretoria wat as Toppresteerders in Gauteng aangewys is: H/s Garsfontein, H/s Waterkloof en H/s Menlopark. Slegs die drie topskole is dusver bekendgemaak. Ons vermoed daar is nog meer Afrikaansmediumskole onder die Toptien.
Baie geluk aan die matrieks en baie dankie aan die puik Afrikaanse skoolhoofde en onderwysers vir gehalte onderrig en leiding aan ons kinders. Afrikaans bo…!!!

Nuwejaarswense aan die senior burgers van Suid-Afrika

Monday, January 6th, 2014

Nuwejaarsgroete aan die Senior Burgers van Suid-Afrika…!!!

ATKV Centurion bring graag Nuwejaarsgroete aan al die Senior Burgers van Suid-Afrika.

Ons bedank weer eens al die lede van ons Beoordelaarspaneel met die eerste Nasionale Talentkompetisie vir Senior Burgers. Ons Nuwejaarswense geld ook vir hulle, want hulle is ook nou senior burgers. Hulle is van ons land se suksesvolste sangers en musikante met bewese talent. Hulle bevorder ons Afrikaanse taal en kultuur reeds oor ‘n baie lang tydperk met grasie en met ‘n liefdespassie.

Ons wens al ons senior burgers ‘n jaar van gesondheid, vrede, vreugde en voorspoed toe.

Op die foto verskyn van die Paneellede vlnr.:
Voor: Gert van Tonder (Groep2), Min Shaw, Mimi Coertse, Sakkie Kotze (Projekorganiseerder).
Agter: Lance James, Lieb Bester, Theo Erasmus, Rouel Beukes.
Ollie Viljoen, Sonja Herholdt en Martin Lane was nie beskikbaar vir die foto nie.IMG_0885