Archive for June, 2013

ATKV Centurionsangers en -dansers ook gaskunstenaars by Finaal van Talentkompetisie vir Senior Burgers.

Saturday, June 29th, 2013

Van die lede van ons Musiekforum het as gaskunstenaars, gasheer en gasvrou opgetree tydens die Finaal van ons Talentkompetisie vir senior burgers.
Op die foto staan Mienkie Erasmus (danser) voor. Agter vlnr.: Zelmia, Marlene Bezuidenhout en Ina Labuschagne (almal sangers), Louis Buys (danser), Sakkie Kotze (voorsitter) en Ricardo (sanger)IMG_0933

Bekende SA sangers en musikante beoordelaars van ons Senior Burger Talentkompetisie.

Saturday, June 29th, 2013

Van ons land se bekendste en suksesvolste sangers en musikante was die beoordelaars van ons landwye Talentkompetisie vir Senior Burgers. Hulle is self ook senior burgers.
Op die foto is van die beoordelaars voor vlnr.: Gert van Tonder, Min Shaw, dr. Mimi Coertse, Sakkie Kotze (ATKV).
Agter: Lance James, Lieb Bester, Theo Erasmus en Rouel Beukes.IMG_0885

Algehele wenners van ons Senior Burger Talentkompetisie deur twee van SA se Afrikaanse sangers met internasionale status aangewys.

Saturday, June 29th, 2013

IMG_0915
Op die foto staan heelvoor:Maritha Blom-Croucamp, kategoriewenner met haar Afrikaanse christenliedjie “Kom na My toe”
Agter haar staan Rouel Beukes en dr. Mimi Coertse (hoofbeoordelaars). Heelagter staan die kategoriewenners van Afrikaanse musiek met drie instrumente nl. die Willie Jay Trio vlnr. Zylie Joubert (klawerbord), Hendrik Smal (konsertina), Willie Jay (kitaar) en Sakkie Kotze (ATKV)

Senior Burgers presteer puik in ons landwye Talentkompetisie 2013

Friday, June 28th, 2013

Senior Burgers presteer in ons eerste landwye Afrikaanse Talentkompetisie 2013
‘n Sopraan en Boeremusiekmusikante as die algehele wenners aangewys.

Die eerste landwye Afrikaanse Talentkompetisie vir Senior Burgers het groot belangstelling ontlok en puik talent opgelewer.
Van ons land se bekendste en suksesvolste sangers en musikante, wat self ook nou senior burgers is, het as die beoordelaars opgetree. Twee van ons Afrikaanse sangers met internasionale status, nl. Dr. Mimi Coertse en Rouel Beukes was die hoofbeoordelaars. Ander lede van die paneel was: Gert van Tonder, Lance James, Lieb Bester, Marna Steyn, Martin Lane, Min Shaw, Sonja Heroldt en Theo Erasmus. Hulle was vol lof vir die puik talent wat weer onder ons senior burgers ontdek is. Van hulle het onder andere opgemerk:
“Dit was hoogtyd dat ons aan ons senior burgers wat nog oor sang- en musiektalent beskik, die geleentheid bied om van hulle te laat hoor. Dankie aan die ATKV” was Lance James se kommentaar. Hy vier vanjaar al sy 54e jaar op die verhoog.
“Ek is aangenaam verras oor die verskeidenheid en gehalte van sang- en musiektalent onder my mede senior burgers”, was dr. Mimi Coertse se kommentaar.

Die kompetisie vorm deel van ATKV Centurion se verskeidenheid Omgeeprojekte. Dit is ook in opvolging van ‘n vorige Omgeeprojek “Ons eer ons Senior Burgers” wat ‘n CD met dieselfde titel bevat. Die bestes van vanjaar se Talentkompetisie word in CD2 opgeneem. Hierdie CD’s is nie in die handel te koop nie. Ons mikpunt is om, soos wat ons donasies van die publiek en besighede ontvang, ‘n kopie aan elke ouetehuis en aftreeoord in Suid-Afrika beskikbaar te stel, sodat inwoners in die sentrale sitkamer daarna kan gaan luister.

Die Pryswennerskonsert het Donderdag 27 Junie in die Lemon Jackteater in Centurion plaasgevind.
Die Paneel van beoordelaars het die volgende senior burgers as wenners en naaswenners in die onderskeie kategorieё aangewys:

Kategorie 1: Sing ‘n Afrikaanse liedjie.
Wenner: Anette Jonker van Kroonstad “Ek kyk graag so diep in jou oё”
Naaswenner: Linda Malan van Cullinan “Liedjie vir Pa”

Kategorie 2: Sing ‘n Afrikaanse Christenliedjie.
Wenner: Marita Blom-Croucamp van Stilfontein “Kom na My toe”
Naaswenner: Ben Powell van Pretoria “Agnus Dei”

Kategorie 3: Speel Afrikaanse musiek met een instrument.
Wenner: Adrien Lubbe van Newcastle “Lied van Mali die slaaf” (klavier)
Naaswenner: Fred Colling van Pretoria “Sewes seties” (Kitaar)

Kategorie 4: Speel Afrikaanse musiek met twee instrumente.
Wenner: Willie van der Merwe van Meyerton “Bronkhorstspruitwals”
(konsertina en klawerbord)
Naaswenner: Rommel van der Riet van Pretoria (saag en mondfluitjie)

Kategorie 5: Speel Afrikaanse musiek met drie instrumente.
Wenner: Willie Jay Trio van Middelburg. “Tradisionele Vastrap”
(klawerbord, kitaar en konsertina)
Naaswenner: Willie Jooste Trio van Pretoria “Karringmelkwals”
(saag, trekklavier en mondfluitjie)

Die kategoriewenners wen ‘n tweedagverblyf by ’n ATKV-oord, LAPA-boeke, ’n CD van een van die beoordelaars, ’n kopie van CD1 en CD2 van “Ons eer ons Senior Burgers”

Die algehele wenners is deur dr. Mimi Coertse en Rouel Beukes aangewys nl. Marita Blom-Croucamp van Stilfontein en die Willie Jay Trio van Middelburg in Mphumalanga. Hulle wen ’n bootreis op die luukse Opera passasierskip.

Navrae: Sakkie Kotze
082 925 1488

Puik sang- en musiektalent onder senior burgers

Thursday, June 20th, 2013

Deelnemers aan laaste oudisie van ATKV Seniors 55 Talentkompetisie ook vol van talent.

Die beoordelaars is druk besig nadat die laaste oudisie in Pretoria plaasgevind het.
Op die foto verskyn van die senior burgers wat aan die laaste oudisie deelgeneem het.
Die beoordelaars, was hier ook beїndruk met die gehalte en kwaliteit van sang en musiekspel deur senior burgers wat vir die kompetisie ingeskryf het.
DSC01500

Beoordelaars van ATKV Seniors 55 Talentkompetisie by laaste oudisie.

Thursday, June 20th, 2013

Beoordelaars van ATKV Seniors 55 Talentkompetisie self Senior Burgers en van SA se suksesvolste Sangers en Musikante.

Op die foto verskyn van die Beoordelaars wat by die laaste oudisie die evaluering gedoen het:
Vlnr.: Marna Steyn, Trevor Nasser, Gert van Tonder, Sonja Heroldt, Martin Lane, Sakkie Kotze (Projekorganiseerder en lid van die Direksie van ATKV SA)
DSC01502

ATKV Centurionmusikante maak musiek by Maders

Sunday, June 9th, 2013

DSC01484

ATKV Centurionmusikante gaskunstenaars by unieke Kultuursentrum.

Sunday, June 9th, 2013

ATKV Centurionmusikante maak musiek by unieke Madersmuseum, -bakery, -slaghuis en -restourant.

‘n Unieke kultuuroptrede by ‘n unieke “Kultuursentrum” onder een dak.

Van die ATKV se Centurionmusikante het Saterdag 8 Junie die volgehoue Cd-boeremusiek by Maders vir ‘n wyle vervang met ‘n lewendige optrede terwyl kliёnte brood, pasteie en vleis koop of by die restourant aansit vir boerekos.

“Dit is en bly ‘n unieke private kultuursentrum”, het Sakkie Kotze, voorsitter van ATKV Centurion en Nie-Uitvoerende Direkteur van ATKV SA gesê. “Jy verkyk jou aan alles terwyl jy in die ry staan om bedien te word. Dit is verblydend om te sien dat ouers hul kinders saam bring, om terwyl hulle van die varswarm lekker pasteie eet, op ‘n geskiedenisrit deur die sentrum geneem te word. Die seuns geniet ook die reuse versameling van minimotors en -trekkers terwyl die meisies na die baie groot versameling van teelepels kyk. Die wordingsgeskiedenis van ‘n roomafskeier, ‘n melkklitser, ‘n petrolpomp, ‘n naaimasjien, ‘n tikmasjien, ‘n trapfiets ens. ens., word onder andere daar in al hul onderskeie modelle oor ‘n tydperk van 40 jaar uitgestal.

Op die foto maak ATKV Centurionmusikante musiek terwyl oud en jonk luister en toekyk. Gert Coetzee speel met ‘n saag wat sy pa in 1945 by ‘n Hardewarewinkel in daardie omgewing gekoop het.
Vlnr.: Willie Jooste (trekklavier) Gert Coetzee (saag) en Herman Steyn (mondfluitjie en kitaar).

ATKV Centurion Forum bied suksesprogram tydens Manneontbyt by Ger. Kerk Eloffsdal aan.

Sunday, June 9th, 2013

ATKV Centurion bied Kultuurprogram by Ger. Kerk Eloffsdal aan. 8 Junie 2013

Van ons musikante, ‘n digter en een van ons motiveringsprekers het Saterdag 8 Junie ‘n Kultuurprogram tydens die Manneontbyt by die Gereformeerde Kerk Eloffsdal aangebied.

Die musikante het gesorg vir opgewekte Afrikaanse luistermusiek. Daarna het Evelyn van der Merwe van haar gepaste gedigte voorgelees.
Ben Ferreira het met die manne oor positiewe denke gesels. Hy het onder andere daarop gewys dat mense wat deurentyd positief dink en positief doen, positiewe resultate en suksesse behaal.

Die groep het deurentyd applous van ‘n waarderende gehoor ontvang.
Die program is met ontbyt en gesellige verkeer afgesluit.

Op die foto verskyn voor: Gert Coetzee (saag). Agter vlnr.: Willie Jooste (klawerbord en trekklavier), Ben Ferreira (Gasspreker), Evelyn v d Merwe (digter), Herman Steyn (mondfluitjie en kitaar), Sakkie Kotze (Voorsitter)
DSC01477

Ons aartappelskilkompetisie by die Willem Prinsloo Landboumuseum is pret en erns.

Monday, June 3rd, 2013

Huidige aartappelskilkampioen wen weer – hierdie keer geblinddoek…!!!

ATKV Centurion bied reeds verskeie jare die aartappelskilkompetisie tydens die Mampoerfees by die Willem Prinsloo Landboumuseum aan.
Hulle het dit voorheen ook altyd in samewerking met Aartappel Suid-Afrika (ASA) by die Aartappelfees in Bethal aangebied.

Dit is ernstige sake maar ook groot pret…!!!
Die duisende besoekers by die Mampoerfees het die pret en die erns geniet en van hulle het self ook deelgeneem. Deelnemers gebruik almal dieselfde soort mes wat voorsien word. Die een wat binne drie minute die langste skil uit een aartappel skil, is die wenner.

Niki van den Berg die huidige SA-kampioen (3,3m) het ook deelgeneem, maar hierdie keer geblinddoek en tot groot vermaak en genot van die toeskouers. Sy skillengte was 1,48m.
Hy het daarna sonder die blinddoek ‘n skillengte van 2m binne 30 sekondes behaal.
Sy 84-jarige ouma Drien sit regs van hom en het ook aan die pretskilkompetisie deelgeneem.

Op die foto is hy besig om saam met van die besoekers aan een van die uitdunrondes deel te neem.
DSC01442