Archive for August, 2012

ATKV Centurionsangers organiseer, beplan, bemark, verkoop self kaartjies vir konsert in die Pierneefteater

Tuesday, August 28th, 2012

Van die sangers het die afgelope week ’n ander dimensie van sangerwees en sangeroptrede beleef.
Hulle moes self die konsert beplan, bemark, klank- en beligting reёl, kaartjies verkoop en sorg dat die Pierneefteater vol is.

Die ATKV Centurion Sangersforum nooi sangers met bewese talent, wat deur ’n Sangskool of CD-maatskappy na hulle verwys word, om lid van die Forum te word.
Die Centurionsangers en –musikante tree gereeld by skole, kerke, skoue, feeste en ATKV-oorde op.
Dit bied waardevolle geleentheid vir bekendstelling maar ook praktiese ervaring van aanpassing van optreestyl, kleredrag, liedjiekeuse vir elke unieke optreegeleentheid.


Op die foto is van die sangers wat hul eie bemarking en kaartjieverkope gedoen het:
Voor vlnr.:               Sakkie Kotze (ATKV), Magdaleen Jacobs, Simoné du Play, Jofranie Venter (Sangskool), Berthie Grobler.
Agter v.l.n.r.:           Branvon du Toit en Armand Jacobs

ATKV Centurion betuig dank en waardering aan boeregemeenskap van Ceres vir hul Patmos Jeugbediening.

Wednesday, August 15th, 2012

Ons betuig dank en waardering aan boeregemeenskap van Ceres vir hul Patmos Jeugbediening.

ATKV Centurion se Jeugleiersforum het as gasheer vir die Patmos Jeuggroep (Bo-swaarmoedgebied)  opgetree toe veertig van hulle Pretoria onlangs besoek het. Dit was die jeuggroep se eerste besoek aan Gauteng.

Ons het die plaasjapies met ‘n aansitete en ‘n musiekprogram trakteer en daarna op ‘n besigtigingstoer geneem. Die Uniegebou, Vryheidspark en die Voortrekkermonument is o.a. besoek. Hulle wou ook Loftus besoek en was aangenaam verras toe hulle die Blou Bulle kon sien oefen. Die Gautreinrit was ook vir hulle ‘n belewenis.

Om seker te maak dat hulle nie ook hier by ons  koud slaap nie, het ons aan elkeen ‘n duursame kombers geskenk wat ook as aandenking sou dien van ons warme ontvangs en programaanbieding.

Patmos Jeugbediening is deur die boeregemeenskap van Ceres gestig met die doel om aan hul plaaswerkers se kinders sinvolle jeugleiding te bied as teenvoeter vir die dwelm- en bendeprobleem in die omgewing.
Hulle het pastoor Allen Nicholas as Jeugwerker en Christelike Berader aangestel en betaal ook sy salaris.

Sakkie Kotze, voorsitter van ATKV Centurion en Nie-Uitvoerende Direkteur van die ATKV, het sy kollega op die Direksie, prof. Edna van Harte van die Universiteit van Stellenbosch versoek om ATKV Centurion se dank en waardering aan die boeregemeenskap van Ceres te gaan oordra. Prof. van Harte het onlangs as Dekaan van die Militêre Akademie op Saldanabaai afgetree. Dr. Raymond van Diemel, hoof van die Telematiese Onderwyseenheid van die Militere Akademie het haar vergesel.

Hulle is deur die Patmos Jeuggroep met sang verwelkom en ook deur die De Kock Boerdery se kore toegesing. Diѐ kore het ook tydens die pasafgelope Suidoosterfees aan die ATKV Sangkompetisie deelgeneem.

Na die kerkdiens wat op die plaas De Eiken gehou is, het beide besoekers die gemeenskap toegespreek en gemotiveer om voort te gaan met die wonderlike opheffingswerk wat daar gedoen word.

Prof van  Harte het haar bewondering uitgespreek oor die hegte band wat sy waargeneem het tussen plaaseienaar, plaaswerkers en jeugberader. Die gehalte van die sosiale programme en die behuising het haar veral beindruk. Sy glo dat die projekte wat op hierdie plase aangewend word as model kan dien om ander plaaseienaars en hul werkers aan te spoor.

Sy het namens ATKV Centurion se Jeugleiersforum dank en waardering aan die boeregemeenskap oorgedra vir die stigting van Patmosbediening en die deelname van die De Kock Boerdery se kore aan die ATKV Sangkompetisie.

Sy het die jeuggroep ook namens ATKV Centurion Jeugleiersforum opgeroep om deur hul jeuggroepaktiwiteite, hul drome en die toerusting wat hulle hier kry, ’n positiewe verskil aan die armoede-, drank-, dwelm- en bendeprobleme in hul omgewing te maak.

Volgens haar was dit baie duidelik dat dat die ATKV hul kragte kan byvoeg tot hierdie pogings.  Die toegeneentheid van die Patmos Jeuggroep teenoor die ATKV Centuriontak was veral baie duidelik.  Brue is beslis gebou tot voordeel van almal.


Op die foto verskyn vlnr.: pastoor Allen en mev. Dawn Nicholas, mnr. Wilhelm de Kock (namens die boeregemeenskap van Ceres), prof. Edna van Harte en dr. Raymond van Diemel.

Centurion Akademie se finalejaar Toerismestudente oortref met ‘n puik program.

Wednesday, August 8th, 2012

Finalejaarstudente in Toerisme by Centurion Akademie oortref met ‘n puik program.

Die studente moes as deel van hul opleiding, ‘n funksie reёl met ‘n aansitete en gaskunstenaars. Kaartjies moes verkoop word en die wins moes ten bate van ‘n welsynsorganisasie aangewend word.

Rouel Beukes, Mel Botes en Riaan Grobler het as gaskunstenaars opgetree. Die funksie het op 7 Augustus in Centurion plaasgevind.
Sakkie Kotze van die ATKV het die studente namens die inwoners van Centurion gelukgewens met ‘n baie goedbeplande, goedgeorganiseerde en aangename funksie met puik gaskunstenaars en ‘n smaakvolle driegangmaaltyd.

Die studente doen as deel van hul opleiding in Toerismebestuur, ook waardevolle ervaring op by die ATKV se sewe vakansieoorde.

 

Op die foto oorhandig Sakkie namens die studente ‘n tjek van tienduisendrand aan Ancha Smuts van die Louis Botka Kinderhuis.

Op die foto verskyn die trotse studente vlnr.: Ingrid Horak, Charles Schlesinger, Anniqa Naude, Ancha Smuts (Kinderhuis), Sakkie Kotze (ATKV), Carizaan Wannenburg, Tian Ras, Carina Vos en Alida D’Heil Henn.

ATKV Centurionsangers en -dansers by die Centurion Wildsfees en Musiekfees

Tuesday, August 7th, 2012

Die Centurion Wildsfees en Musiekfees het die monde laat  water en die lippe laat saamsing…!!!

Noem ’n wildsoort en dit was êrens in een van die talle wildspotjies te proe.
Die Centurion Wildsfees en Musiekfees was ’n eerste vir Centurion.

ATKV Centurion het saam met verskeie gemeentes van Afrikaanse Kerke en  die Centurionkoerant saamgespan en die Wildsfees en Musiekfees Saterdag 4 Augustus  ten bate van CMR (die Christelike Maatskaplike Raad) en Rusoord by die Doringkloof Mall aangebied.
Sakkie Kotze was sameroeper van die komitee wat die beste Lapa moes aanwys en lid van die “proekomitee” wat die beste wildspotjie moes bepaal. Die wenspan van die beste lapa kry ‘n midweek by ‘n ATKV-oord.

ATKV Centurion het die Musiekfees aangebied. Van ons  Musiekforumlede het vir die heeldag sang, -musiek en -danse gesorg.


Op die foto verskyn voor vlnr.: Mientjie Erasmus, Louis Buys en Angelique Allison (dansers)
Agter vlnr.: Herman Steyn, Venetia Kloppers, Debbie Holing le Roux, Sam van den Berg, Luzanne van Jaarsveld, Martin Schoerie en Ilana van Wyk.

Centurion Wildsfees en Musiekfees: Potjiekos proekomitee

Tuesday, August 7th, 2012

Die Wildspotjies by die Centurion Wildsfees was ‘n groot treffer.

Die Proekomitee moes behoorlik hul proe en smaak ken om die beste potjie aan te wys.


Op die foto is hulle by een van die potjies besig met die beoordeling. Vlnr. Sakkie Kotze en Ina Labuschagne (ATKV), Hannie du Preez en Danie Steyn.
Die twee hoofkokke van hierdie potjie staan agter:Martin Roodt en Francois Schoombie.

Die Wildspotjie van die NG gemeente Lyttelton Noord is as die beste potjie aangewys, die potjie van Kerk Sonder Mure was tweede en Die Centurion was in die derde plek.

Centurion Wildsfees en Musiekfees

Tuesday, August 7th, 2012

ATKV Centurion het saam met verskeie gemeentes van al die Afrikaanse Kerke saamgespan en ’n Wildsfees en Musiekfees ten bate van CMR (Christelike Maatskaplike Raad) en Rusoord aangebied.

Die ATKV Centurionsangers, -dansers en –musikante het die heeldag sang en musiek verskaf.

Sakkie Kotze was sameroeper van die beoordelaarspan wat die beste Lapa en beste Wildspotjie moes aanwys. Daar was vleis van sewe verskillende wildsoorte beskikbaar waaruit elkeen van die meer as 20 lapas hul eie wildspotjie kon saamstel.

Die wenner van die beste lapa se gasheer en gasvrou het twee aande by ’n ATKV-oord gewen.

Op die foto staan  van ons Musiekforumlede by die krokodilbraai en lippe aflek…is dit dalk ‘n goeie muti vir hul lippe voordat hulle op die verhoog gaan…???

Vlnr.: Angelique Allison, Wouter van Wyk, Willem Coetzee, Martin Schoerie en Channix Brecher.

RSG Loslippig in Centurion

Saturday, August 4th, 2012

Ian Wessels van RSG het sy program “Loslippig” laasweek ook in Centurion kom bekendstel.
Hy het sy  humorprogram vir twee aande in die Lemon Jack-teater in Centurion aangebied.

“Glad met die bek”, was iemand uit die gehoor se kommentaar.


Op die foto verskyn van die RSG-luisteraars wat ook een van die programaanbiedings bygewoon het. Vlnr.: die sangers Guillaume en  Sorina “die Witbank Flooze”, Ian Wessels (RSG) en Sakkie Kotze (ATKV)