Archive for April, 2012

ATKV Centurionsangers ondersteun medelid Nadine met haar suksesvolle deelname aan “Lied van my Hart.”

Saturday, April 28th, 2012

Verskeie lede van die ATKV Centurion Sangers- en Musiekforum het al die Musiekproduksie “Lied van my Hart” in die Staatsteater in Pretoria bygewoon om ook ondersteuning te gee aan Nadine, ‘n medelid van die Forum.

Nadine vertolk saam met Steve Hofmeyr die hoofrol in die gewilde en suksesvolle Musiekblyspel ”Lied van my Hart” wat nog vir twee weke in die Staatsteater in Pretoria te sien is. Kaartjies is by Computicket te kry.


Op die foto verskyn twee van die Centurionsangers wat die produksie al bygewoon het.
Vlnr.:     Max van Heerden, Nadine, Davine van der Merwe en Sakkie Kotze (Voorsitter ATKV Centurion en ATKV Direksielid).

ATKV Centurionsangers en -dansers deel van Vryheidsdagvieringe in Pretoria

Friday, April 27th, 2012

Die ATKV Centurion Musiekforum was vanjaar weer saam met verskeie ander kultuurgroepe in Suid-Afrika deel van die jaarlikse Vryheidsdagvieringe by Jubileepark en die Uniegebou.

Die ATKV Centurionsangers en -dansers het die Afrikaanse taal- en kultuurgroep daar verteenwoordig en saam met al die ander taal- en kultuurgroepe in ons land al singend en dansend aan ‘n Karnavaloptog vanaf Jubileepark in Sunnyside na die Uniegebou deelgeneem.


Op die foto verskyn voor vlnr.: Mientjie Erasmus en Louis Buys
Agter vlnr.: Wessel en Sonja Brits, Angelique Allison , Mortimer van der Westhuizen, Anita van der Merwe en Louwrens Smit

ATKV Centurion Sangersforum help om sangers se Afrikaanse trefferliedjie bekend te stel.

Monday, April 16th, 2012

Die ATKV Centurion Sangersforum bestaan al vir 15 jaar en het ten doel om sangers en musikante met bewese talent, te ondersteun by wyse van bekendstellings- en optreegeleenthede by ATKV-aktiwiteite, skole, kerke, feeste ens. Sangers en musikante word na ons verwys deur Sang- en Musiekskole, Sang- en musiekmentors en Cd-opnameateljees. Ons nooi ook wenners van ons eie en ander erkende Sang-, Musiek- en Liriekkompetisies om lid te word.

Die Forum beplan nou om sy sangers- en musikantlede verder te ondersteun deur hul beste liedjie en/of musiek op velerlei wyses o.a. op hul Forumwebwerf en ander netwerke bekend te stel.

Verskeie sangers en musikante het al by die Forumblootstelling gebaat en is vandag baie suksesvolle verhoogkunstenaars in eie reg. Chris Coetzer het bv. een van die bekende “Drie Tenore” geword en bestuur vandag bo en behalwe sy eie optredes, ‘n Sangskool met studente wat selfs in die buiteland presteer en optree.

Ander sangers en musikante wat nie lede van die Forum is nie en van hierdie bekendstelling en -blootstellingsgeleentheid gebruik wil maak, kan ATKV Centurion Sangers en -Musiekforum kontak deur die woorde “liedjie en musiek” na 082 925 1488 te SMS of ’n epos na iakotze@mweb.co.za te stuur. Ons sal elke aansoek op meriete hanteer.

Verskeie nuwe komposisies en lirieke is d.m.v. ATKV Centurion se Musiek- en Liriekkompetisies vrygestel soos byvoorbeeld twee unieke Afrikaanse sportliedjies en twee unieke Afrikaanse liedjies met “Oupa en Ouma” as tema. Al hierdie liedjies het reeds wye nasionale mediadekking ook op Radio en TV geniet.:

  • Die Sokkerondersteuningsliedjie “Viva Bafana Viva” wat met die oog op die Wêreldbeker in Suid-Afrika in 2010 geskryf en gekomponeer is, was baie suksesvol en tot dusver die enigste Afrikaanse Sokkerliedjie ooit. Van die Centurionsangers het die liedjie onder andere in Soccer City in Johannesburg, voor ‘n volgepakte sokkerskare gesing. ‘n Kopie van die Cd is ook aan die Spanbestuurder van die Bafanaspan oorhandig.
  • Die Afrikaanse Springbokondersteuningsliedjie “Bokke Hakka” was weer so suksesvol dat die ATKV Centurionsangers en -musikante o.l.v. Pertronel Baard, deur die SAUK TV genooi is om die liedjie in die ateljee te sing voordat die uitsending van die Wêreldbeker Kwarteindwedstryd teen Wallis begin het (2012). ‘n Kopie van die Cd is voordat die span vertrek het, op die O.R. Thambo Lughawe aan kaptein John Smit oorhandig.
  • ‘n Gratis Cd aan Ouetehuise, Aftreeoorde en Dienssentrums “Ons eer ons Senior Burgers” is met die oog op Seniorsweek in Suid-Afrika en Internasionale Dag van die Bejaarde saamgestel. Dit bevat, benewens die twee wenliedjies van ons Liedjiekompetisie, ook 16 ander liedjies deur bekende sangers met “oupas en oumas” as tema. Daar is ook boodskappe deur die jeug aan ons Bejaardes op hierdie unieke Cd.

Sakkie Kotze
Voorsitter ATKV Centurion en ATKV Direksielid