Archive for January, 2012

ATKV Centurionmusikant se saag is stil.

Sunday, January 8th, 2012

Oom Snaar Coetzee, kleurryke en mees senior jarelange ATKV Centurionmusikant is die afgelope naweek op 86-jarige ouderdom oorlede.
Hy was heelwaarskynlik een van die min musikante in Suid-Afrika wat nog tot en met sy dood op so ‘n hoë ouderdom voltyds musikant was met so ‘n unieke en uitsonderlike musiekinstrument – ‘n saag wat hy in 1946 by ‘n Hardewarewinkel in Pretoria gekoop het.

Oom Saag, soos hy ook bekend was, het as lid van ATKV Centurion se Musiekforum o.a. by ‘n Algemene Jaarvergadering van die ATKV opgetree
Hy was ook lid van die Musiekforumspan wat ‘n program van Afrikaanse tradisionele danse, sang en musiek by die Voortrekkermonument en  by die SABC-verhoog tydens ‘n vorige KKNK aangebied het. Hy was deel van ons musiekspan wat al by verskeie skole, kerke, skoue en feeste opgetree het.
Hy was ook deel van ons musiekspan wat ‘n tradisionele opname van “Sarie Marais” gemaak het met o. a. sy saagspel en ‘n konsertina-, trekklavier-, traporrel- en kitaarspeler waarmee ons die publiek aangemoedig het om aan ons unieke Afrikaanse Sokkerliriekkompetisie op die maat van “Sarie Marais” deel te neem. Dit was met die oog op die Wêreldbeker toe Suid-Afrika die gasheer was. “Viva Bafana Viva” is vandag nog steeds die enigste Afrikaanse Sokkerliedjie ooit.

Oom Snaar het ook aan ons Omgeeprojekte deelgeneem. Hy speel saam met ons musikante “Die Swaeltjie“ wat ook op ons Cd “Ons eer ons Senior Burgers” opgeneem is.
Sakkie Kotze. voorsitter van ATKV Centurion en lid van die ATKV Direksie, het mnr. Snaar Coetzee as ‘n nederige, talentvolle mens beskou wat die kultuur- en skeppingsopdrag van God ten volle uitgeleef het.
“As boekbinder en musikant was dit sy passie om voluit te lewe en God met al sy talente te prys en te dien. Hy was ‘n geemens en nie ‘n ontvangmens nie. Hy laat ‘n kultuurskat na wat uniek. tradisioneel en eie aan die Afrikaner is. Dit mag nie verlore gaan nie en ook nooit uitsterf nie.”

“Daar bestaan nie bladmusiek met note vir ‘n saag nie. Jy leer dit slegs deur fyn musikale aanvoeling en jarelange ervaring.”
het oom Snaar altyd gesê.
Oom Snaar se oudste seun Gert en van die kleinkinders gaan hierdie musikale kleinnood en kultuurskat met die hulp en ondersteuning van die ATKV Centurion Musiekforum voortsit.

Oom Snaar was ook sy lewe lank entrepreneur en boekbinder van beroep tot en met sy dood. ‘n Beroep wat net soos die saag as musiekinstrument besig is om uit te sterf.

Hy word oorleef deur sy vrou Babsie met wie hy in September 2009 in ‘n tweede huwelik getroud is en ses kinders uit sy eerste huwelik met Miemie wat in Augustus 1996 oorlede is. (Vier seuns en twee dogters: Gert 63, Hendrik 58, Driekie 58, Tjaart 70, Willie 53, en Annatjie 50)  asook 17 kleinklinders en 13 agterkleinkinders)

Die begrafnis vind Donderdag 9 September om 11:00 vanuit die Koinoina Christensentrum in Tuine plaas. Oom saag was ook daar lid van die gemeente se musiekbediening met sy saag, en het nog die vorige sondag voordat hy hospitaal toe is, daar opgetree.

Huis Oase in Centurion se Uithoustappers kry erkenning.

Monday, January 2nd, 2012

‘n Stapklub is onlangs deur die Senior Burgers van Huis Oase in Centurion gestig. Dawie Weyers is eenparig as die klubkaptein verkies. Hy was vir baie jare Organiseerder: Projekte by die ATKV Hoofkantoor.

 

Huis Oase is aan die westekant van Centurion in die landelike omgewing van Gerhardsville geleë. Die klub gee aan stappers die geleentheid om die omgewing te verken, voëlwaarneming te doen, fiks te bly en dit terselfdertyd te geniet.

 

ATKV Centurion is sedert die ingebruikneming van Huis Oase ‘n paar jaar gelede, intens by ondersteuning en fondsinsameling betrokke. Musiekprogramme word gereeld daar aangebied en ‘n groot Musiekfees word later vanjaar daar in samewerking met die bestuur beplan.

‘n Kopie van ATKV Centurion se Cd “Ons eer ons Senior Burgers” is ook aan die direkteur mnr. Fanie oorhandig sodat inwoners te eniger tyd daarna kan luister. Die Cd bevat o.a. die wenliedjies van ons landwye Musiek- en Liriekkompetisie met “Oupas en Oumas” as tema, die wenopstelle van ons landwye Skryfkompetisie met dieselfde tema, asook Groeteboodskappe deur ons jeugleiers. Bekende Afrikaanse sangers se gepaste liedjies is ook op die Cd opgeneem soos o.a. “Moeder” deur Jurie Ferreira, “Dankie” deur Lance James en “Tiekie se Koffie” geskryf en gekomponeer deur ouma Heleen en gesing deur haar kleinkind Nadine.

 

Erkenning is tydens die inrigting se Jaareindfunksie ook aan die Uithoustappers wat nog steeds elke dag aan die Stapklub se aktiwiteite deelneem, verleen.


Op die foto verskyn van hulle voor vlnr.: Dawie Weyers (Klubkaptein), Jannie Pretorius, Bella Hall, Joey en Frank Robinson, Gert Kemp, Fanie Vosloo (Direkteur van Huis Oase)
Agter: Sakkie Kotze (Voorsitter ATKV Centurion, ATKV Direksielid. Beskermheer van die Stapklub)