Archive for November, 2011

Vervlakking

Sunday, November 27th, 2011

Sakkie Kotze, ATKV-direksielid, meen ook daar is ‘n vervlakking op verskillende terreine van ons samelewing.

(Het ons ‘n vlak nasie geword ? Vrouekeur 18 November bl.10 en 11)

“Norme en waardes word nie meer op alle lewensvlakke as belangrike riglyne geag nie en daarom word integriteit en dissipline nie meer as waardebepalers toegepas nie” sê hy.

 

“Ek dink dit het verander en vervlak omdat die werksplek so dramaties verander het. Die etiek by die werksplek beïnvloed nou ons lewens- en wêreldbeskouing in die algemeen. In die staatsdiens word laatkonmmery as Afrikatyd aanvaar, korrupsie word traag ondersoek en dissiplinêre verhore teen werknemers sloer só lank dat dit naderhand maar net ‘n formaliteit is wat afgehandel moet word. Wetstoepassing het so vervlak dat dit nou hoogmode geword het om oor ‘n rooi lig en ‘n stopstraat te ry.”

 

“Al hierdie tendense beïnvloed ons ouers en syfer deur na ons kinders. Die probleme in die onderwys dra ook hiertoe by. Die gebrek aan dissipline in ons skole beïnvloed die gedragspatrone, norme en waardes van ons kinders. Groepsdruk bepaal deesdae die norm.”

 

“Die handhawing van ons taal en bevordering van ons kultuur ly ook onder hierdie vervlakking. Regstellende aksie bring mee dat die Afrikaanssprekende al meer wil inval, wil aanvaar en wil doen soos die politici voorskryf. Baie van ons mense wil ander ter wille wees om net ook ‘n plekkie in die son te kry.”

 

Sakkie sê: “In my jarelange samewerking en goeie verhoudinge met ons ander taal- en kultuurvennote in Suid-Afrika, het ek baie kere al uit hul kommentaar duidelik afgelei dat hulle Afrikaners juis respekteer omdat ons beginselvaste mense is en ons taal en kultuur met trots koester en bevorder. Mag dit steeds so wees ter wille van ons kinders se toekoms in hierdie land”

 

Laerskoolseun van Centurion se prestasies as akteur en filmster is uitsonderlik

Thursday, November 17th, 2011

Paul Loots van Laerskool Swartkop is onderhoofseun Kultuur, maar sy Afrikaanse taal- en kultuurprestasie strek reeds tot op Nasionale vlak.

 

  • Op vanjaar se SA Nasionale Talentkompetisie behaal hy goud in die Drama-afdeling en Platinum as toptien uit 470 inskrywings.

 

  • Hy speel die hoofrol in die bekroonde film “Roepman”.

 

  • Paul vertolk die rol van Tekkies in “Ratels” – Leon van Nierop se huidige Radiovervolgverhaal op RSG.

 

  • Hy is ook binnekort ‘n gas op die Kyknetprogram “Daar doer in die Flieks”

 

Sakkie Kotze, voorsitter van die ATKV Centurion, het tydens die skool se Meriete-aand gesê dat nie net die skool, die gemeenskap en die ATKV nie, maar die hele land met trots vervul is oor die besondere Afrikaanse taal- en kultuurtalente van hierdie jong begaafde laerskoolseun.

Hy het by die geleentheid aan Paul die Centuriontak se prestigepenning vir Afrikaanse taal- en kultuurprestasie oorhandig en die wete en vertroue uitgespreek dat ons in die toekoms nog baie van hierdie akteur en filmster gaan hoor en sien.

 


Op die foto staan ‘n trotse skoolhoof mnr. Carel Cronje links van Paul Loots en Sakkie Kotze regs van hom.

 

ATKV Centurion Sangers- en Musiekforum vier vanjaar sy 15e bestaansjaar.

Sunday, November 13th, 2011

Die ATKV Centurion Sangers- en Musiekforum gaan steeds van krag tot krag.

Sangers, dansers en musikante met bewese talent word deur Sangskole, Opname-ateljees en Cd/Platemaatskappye na die Forum verwys. Ons nooi ook wenners van ons eie en ander Sangtalentkompetisies om by ons in te skakel.

 

Verskeie sangers, dansers en musikante het die afgelope jare by die talle optreegeleenthede by onder andere skole, kerke, feeste en ATKV-oorde gebaat deurdat hul eie talent en musiekprofiel daar onder die verhooglig gekom en verder belig en bevorder is.

Leiding en advies word ook deurentyd aan lede gegee oor onder andere verhoogoptrede, klerekeuse, mikrofoontegniek, liedjiekeuse vir elke geleentheid ens.

Ledewerwing, bekendstelling van die ATKV se vele nasionale taal- en kultuurprojekte, asook die sewe puik ATKV-vakansieoorde, vind deurentyd tydens optredes van die Forum plaas.

 

Van die vele hoogtepunte deur al die jare sluit onder andere in:

  • ‘n Konserttoer van dorp na dorp tot by ATKV Hartenbos met ‘n Afsluitingskonsert Oujaarsaand in die Amfiteater;
  • ‘n Program van tradisionele sang, -musiek en –danse by die Voortrekkermonument, tydens die ATKV Algemene Jaarvergadering by Buffelspoort en by die SAUK-verhoog tydens die KKNK;
  • Optrede tydens die SA Regering se Nasionale Erfenisdagvieringe by die Uniegebou;
  • Optrede by ‘n volgepakte Soccer City in Johannesburg met ons unieke enigste Afrikaanse Sokkerliedjie ooit “Viva Bafana Viva” ter ondersteuning van ons Bafanaspan en Sokker SA as gasheer van die Wêreldbekertoernooi;
  • Optrede in die SAUK se TV-ateljee in Johannesburg vanjaar met ons Springbokondersteuningsliedjie “Bokke Hakke” voordat die uitsending van die Wêreldbekerkwarteindwedstryd teen Australië begin het;
  • Ons unieke Cd “Ons eer ons Senior Burgers” met die wenliedjies van ons landwye liedjiekompetisie met “Oupa en Ouma” as tema, gepaste liedjies van o.a. Jurie Ferreira, Rudi Neitz, Lance James, Min Shaw en Gert van Tonder. Nadine sing die liedjie “Tiekie se Koffie” wat deur haar ouma geskryf en gekomponeer is. Die Cd bevat ook groeteboodskappe deur ons Jeugleiersforum en die wenners van ons landwye Opstelkompetisie met “Oupa en Ouma” as tema.

 

Op die foto verskyn ‘n paar van die Forumlede by die ATKV-oordebanier:


Vlnr.: Elize Vos en Beverley Weber (dansers), Chrismarchė (sanger), Charnė Kemp en Junior Mulder (dansers)

 

Suid-Afrika se suksesmusiekpaar Christa Steyn en Jannie du Toit deur die ATKV in Centurion as ikone vereer

Tuesday, November 1st, 2011

Suid-Afrika se suksesmusiekpaar Christa Steyn en Jannie du Toit, is die afgelope week deur die ATKV in Centurion as ikone vereer vir die bevordering van die Afrikaanse taal en kultuur deur hul kwaliteitlirieke, -sang en -musiekkomposisies oor ‘n tydperk van meer as 40 jaar.

Jannie du Toit tree in die laaste 40 jaar van sy musiekloopbaan saam met verskeie kunstenaars op. Sy grootste en langste verbintenis was egter saam met Christa Steyn met wie hy dusver die verhoog oor ‘n tydperk van 25 jaar gedeel het.

Christa se musiekloopbaan begin met haar insluiting as lid van die Alabama Studentegeselskap by die P.U. vir C.H.O. Sy was regisseur van twee PUK-produksies “Sound of Music” en “Fiddler on the Roof”.

Sy was in samewerking met Jannie, musiekregisseur van TRUK se “Kerslig, Vers en Melodie-reeks. Sy was beoordelaar en musiekregisseur van die TV-program “Debuut”. Benewens haar tien solo-albums, begelei sy deur al die jare verskeie topkunstenaars.

Hul saamaanbiedinge begin in 1986 met  “Blik en Snaar” as deel van Johannesburg se Eeufeesvieringe. Daarna volg verskeie optredes in die kabaret-genre soos “Skadus teen die Muur”, “De Kleine Man”, “Spoorloos”, “Generasies gaap nie” saam met Liz Meyring, “Hande innie as” saam met Rouel Beukes ens.

Albei was al aanbieders van die ATKV se jaarlikse liedjieskryfwerkswinkel en beoordelaars van die gesogte ATKV Crescendo Musiekkompetisie.

Albei het konsertreise na België, Kanada, VSA, Australië en Nieu-Zeeland onderneem.

Van hul ander saamprojekte sluit o.a. in “Nagkantoor” oor die lewe en werk van Koos du Plessis, “Die Rooi Lorrie”, “Houtkruis” waar sy as regisseur optree en Jannie een van die hoofrolle vertolk. Hulle vier in 2006 hul  20 jaar van saamoptree met “Ons kom ‘n lang Pad.”

Hul optredes was nog altyd gekenmerk deur goeie smaak, uitstaande talent en topvermaak.

Die oorkondes is deur mnr. Japie Gouws, Groep besturende Direkteur van die ATKV, aan die musiekikone oorhandig.