Archive for September, 2011

ATKV Centurion vier Seniorsweek en Internasionale dag van die Bejaarde saam met Veteraanakteurs en -sangers.

Tuesday, September 27th, 2011

Veteraanakteurs en –sangers by ATKV Centurion se Seniorsweekviering en Internasionale Dag van die Bejaarde. 26 September 2011

Van ons land se bekendste veteraanakteurs en -sangers het die ATKV Centurion se Huldigingsprogram vir Senior Burgers  bygewoon en met groot waardering van die gehoor, ook aan die program deelgeneem.

Petru Wessels en Carel Trichardt het die wenopstelle van ons landwye Opstelkompetisie met “oupas en oumas” as tema voorgelees, terwyl Min Shaw en Lance James hul bekendste liedjies soos “Jy’s my Liefling” en “Dankie” gesing het.


Op die foto verskyn hulle vlnr.: Petru Wessels, Carel Trichardt, Min Shaw, en Lance James. Sakkie Kotze die voorsitter van ATKV Centurion en ATKV Direksielid, staan heel regs.

 

Nadine en haar ouma vier saam met ATKV Centurion Seniorsweek en Internasionale Dag van die Bejaarde.

Monday, September 26th, 2011

Nadine se ouma Helleen, het twee van die liedjies wat Nadine gesing het, nl. “Dankie Liewe Ouma” en “Tiekie se Koffie” geskryf en gekomponeer. Sy het self ook aan die program deelgeneem en nog ‘n liedjie wat sy ook geskryf en gekomponeer het, “Huisie in die Vrystaat” saam met Max van Heerden gesing.

Verskeie sangers wat liedjies oor ‘n oupa of ouma geskryf/gekomponeer en/of sing, het saam met ATKV Centurion Seniorsweek in SA en Internasionale Dag van die Bejaarde gevier.

 

Al die sangers het hul liedjie wat oor ‘n pa, ma, oupa of ouma gaan, vir die waarderende gehoor gesing.

 


Op die foto verskyn vlnr.: Lee Magnum, Nadine en haar ouma Helleen Wentzel, Zelmia Reis en Sarina Briedenhann. Sakkie Kotze, voorsitter van ATKV Centurion en ATKV Direksielid, staan heel regs.

 

Veteraanleiers vier saam met ATKV Centurion Seniorsweek in Suid-Afrika en Internasionale dag van die Bejaarde

Monday, September 26th, 2011

Verskeie veteraanteoloë, -uitsaaiers, -rugbyspringbok en –sangers het Seniorsweek en Internasionale dag van die Bejaarde saam met die ATKV Centurion gevier.


Op die foto verskyn voor vlnr.: Ds Amie van Wyk (98jr. Oudste predikant van die NG Kerk), Monica Breed (Veteraanuitsaaier en TV-akteur by die SAUK) en prof. Victor d’Assenville (Veteraanteoloog van die Gereformeerde Kerk).

Agter staan Sakkie Kotze (Voorsitter ATKV Centurion en ATKV Direksielid), Hendrik du Bruyn (Veteraanuitsaaier by die SAUK en voormalige Hoof van Radio Suid-Afrika wat vandag RSG heet). Piet Malan (93jr. Oudste Rugbyspringbok), Gert van Tonder (Veteraansanger van Groep 2)

 

ATKV Centurionsangers laat hul talent gehoor word.

Sunday, September 4th, 2011

Verskeie lede van die ATKV Centurion Sangersforum het Saterdag in Wonderboom opgetree en hul talent laat hoor.

Die Sangersforum bestaan al vir etlike jare en skep optreegeleenthede vir sangers en musikante met bewese talent.
Sangers word deur sangskole, platemaatskappye en opnameateljees verwys. Wenners en finaliste van erkende sangtalentkompetisies word ook genooi om lid van die Forum te word.


Op die foto verskyn van die Sangersforumlede wat deelgeneem het.
Vlnr. Derk de Lange, Carolyn van Zyl, Bernadette Joubert en Branvon du Toit.

Mans wys dames hoe om aartappels en lemoene te skil.

Saturday, September 3rd, 2011

Dit was groot pret Saterdag in Wonderboom toe mense van oraloor aan die ATKV Centurion se Aartappel- en Lemoenskilkompetisie deelgeneem het.
Die mans het die dames met die skillery uitgestof, of is dit nou eintlik uitgeskil…!!!

Dit was egter pret maar ook erns. ATKV Centurion bied die kompetisies van tyd tot tyd oral in die land aan en hou rekord van die beste prestasies wat met die korrekte toepassing van die reëls aangebied is.

Willem Jansen het die lemoenskilkompetisie met ‘n lengte van 1,4m gewen en Lourens du Plessis van Nissan Sinoville het ‘n lengte van 1,6 m met die aartappeldkilkompetisie behaal.
Weerskante van hulle sit die twee dames wat onderskeidelik tweede was.


Vlnr.: Cindy Jansen, Willem Jansen, Lourens du Plessis en Betsie Wannenburg.

ATKV Centurionsangers se Springbokondersteuningsliedjie “Bokke Hakka”

Thursday, September 1st, 2011

Die ATKV Centurionsangers het hul baie suksesvolle en gewilde Afrikaanse Bafana-ondersteuningsliedjie “Viva Bafana Viva” met die oog op die Sokkerwêreldbeker verlede jaar, opgevolg met ‘n Afrikaanse Springbokliedjie “Bokke Hakka…!!!”.

Hiermee ondersteun ons die Springbokke met hul deelname aan die Rugbywêreldbeker in Nieu-Seeland vanjaar.
Die liedjie word gesing onder leiding van Petronel Baard, ‘n ATKV Crescendowenner. Sy het ook die musiek gekomponeer en die liriek geskryf.

Ons wil die hoop en vertroue uitspreek dat hierdie ondersteuningsliedjie ons Springbokke nog meer sal motiveer om weer as wêreldkampioene uit die stryd te tree.
Ons wens hulle alle voorspoed en sukses in elke wedstryd toe.
Mag hierdie liedjie ook daartoe bydra om al Suid-Afrika se inwoners in ons ondersteuning aan die Springbokke te verenig.
Ons bevorder die Afrikaanse taal en kultuur as deel van ‘n suksesvolle Suid-Afrika.
Ons is trots Suid-Afrikaans in Afrikaans.
“Bokke Hakka…!!!

Baie dankie aan ons sangers en musikante: Petronel Baard, Beth du Toit en Schalk Maas met mondfluitjie, kitare en klavier.
Dankie aan Bay Studios en Deon du Toit wat vir die opname, redigering en produksie verantwoordelik was.

LW.    Luister na die liedjie deur op die btrokke skakel regs op die openingsbladsy te klik.