Archive for August, 2011

Oud-Polisiegeneraal en ATKV-lid skryf Afrikaanse gedigte met diehand as terapie vir sy siekte.

Wednesday, August 3rd, 2011

Hy dra sy 35,000e Afrikaanse gedig aan die ATKV op.

Ons bied gratis hulp en raad oor die genot en ontspanning van gedigskrywery.

Genl-maj Jan Lourens het in 1995 na 37 jaar diens by die Suid-Afrikaanse Polisiediens met mediese pensioen afgetree.
Hy het as jongman by die SAP aangesluit en met bevordering al die range in die Mag tot en met generaal-majoor beklee.

Die generaal het hierdie 35,000 Afrikaanse gedigte dusver met die hand geskryf – sonder ‘n rekenaar. Hy beskou die skrywery as sy suksesvolle terapie vir die osteo-artritus en hipertensie wat by hom gediagnoseer is en tot sy aftrede op mediese gronde gelei het. Jan is lid van ATKV Centurion en het sy 35,000e gedig aan die ATKV opgedra. Sakkie Kotze het weer met ‘n gedig aan hom reageer. en voer sy liefde vir die Afrikaanse taal en kultuur verder deur te help om ‘n genotvolle en ontspannende digkultuur by mense te skep.
“Dit moet maklik, verstaanbaar, lekker, genotvol en ontspannend wees om ‘n gedig te skrywe” sê hy.

Jan dig en skryf oor enige onderwerp of tema onder die son. en kan van elkeen van hierdie 35,000 Afrikaanse gedigte volledig verslag gee t.o.v. die tema en die dag en datum waarop dit in watter een van die 117 folioboeke geskryf is. Hy het ook deur al die jare sedert sy aftrede rekord gehou van hoeveel gedigte al oor ‘n spesifieke onderwerp of tema geskryf is.
Al die gedigte is van die begin af in ewegroot folioboeke geskryf. As al die folioboeke teen die muur opgestapel word, reik dit verby sy kop tot teen die kosyn. Hy het in 2010 sewe digbundels publiseer en as geskenke uitgedeel. Vyfhonderd en negentig gedigte is toe uitgesoek en daarin vervat. Prof. Ian Raper en Nilla Vosloo het as resensente opgetree.

Sakkie Kotze het tydens die uitstalling en besigtiging van die gedigte in Centurion gesê dat dit ‘n aangename wyse is om die Afrikaanse taal prakties te geniet en te bevorder.
Hy het ook aangekondig dat gratis inligtingsessies oor die genot van gedigskrywery deur ATKV Centurion aangebied gaan word. Die eerste geleentheid vind binnekort in Centurion plaas. Dit sal opgevolg word met soortgelyke byeenkomste in ander woonbuurtes, dorpe en stede.
Belangstellendes kan ‘n epos na iakotze@mweb.co.za of ‘n SMS na 082 925 1488 stuur.


Op die foto oorhandig Sakkie Kotze (links) en genl maj Jan Lourens hul gedigte aan mekaar met die rooi opgestapelde folioboeke met die 35,000 gedigte daarin, agter hulle.

ATKV Centurion trakteer minderbevoorregte kinders met ‘n Gautreinrit vanaf Pretoriastasie.

Tuesday, August 2nd, 2011

ATKV Centurion trakteer ‘n busvol minderbevoorregte kinders met ‘n Gautreinrit vanaf Pretoriastasie. (Die eerste dag waarop die Gautrein vanaf Pretoriastasie begin opereer het.)

ATKV Centurion het bykans sewentig deur armoedegeteisterde kinders wat nog nooit trein gery het nie, met ‘n Gautreinrit trakteer op dieselfde dag as wat die Gautrein vir die eerste keer vanaf Pretoriastasie begin opereer het.

Ons het verskeie akteurs en sangers genooi om saam met ons trein te ry en met die kinders bemoeienis te maak: Danie Botha, Mnr. Suid-Afrika 2011 (Adriaan Berg). Pieter Koen (Kwela), Altus Theart (“Getroud met Rugby”) asook sangers Karen Ferreira, Armand Hofmeyr en Esti van Rooyen.

Danie Botha het die opgewonde kinders met kitaarsang trakteer en met ‘n motiveringspraatjie bemoedig terwyl al die ander rolmodelle op die bus en op die trein met die kinders geselsies aangeknoop het.

“Dit was vir ATKV Centurion ‘n lekker voorreg om hul verwondering en genot te aanskou” sê Sakkie Kotze, die voorsitter.
“Ons Omgeeprojekte konsentreer op uitreik na en herstel van mense in nood se menswaardigheid”.

Van ons vorige Omgeeprojekte sluit benewens kos en klere onder andere ook die volgende in: Ons het:

  • ‘n Klompie jare gelede ‘n hele treinvol kinders wat nog nooit by die see was nie, Suidkus toe geneem;
  • ‘n Musiekprogram vir Fondsinsameling by Huis Oase, wes van Erasmia aangebied;
  • ‘n TV-stel aan Betlehem Oord in Andeon geskenk;
  • ‘n Uitreikaksie na jong ongetroude meisies wat hul naamlose babas by ‘n skenkmuur in Sunnyside weggee sonder dat enigiemand ooit sal weet wie die ouers is; Ons het al verskeie kere babaklere en -kos gaan skenk;
  • Verskeie kere al saam met die SAPD Nasionale Hoofkantoor in Pretoria programme aangebied wat op vermiste kinders en volwassenes in Suid-Afrika fokus;
  • Uitreikaksie na kinders in ‘n vorige Xenofobiese kamp in Pretoria-Noord.


Op die foto staan van die kinders in hul ATKV-hempies saam met van die akteurs en sangers wat saam trein gery het vlnr:
Heelvoor: Ulrich Rossouw en Marnus Nel
Middel: Marnich Visser, Mariska van der Walt en Janet Harmse. Die sanger Karen Ferreira staan heel regs.
Agter: Pieter Koen (Kwela), Adriaan Berg (Mnr. Suid-Afrika), Danie Botha, Altus Theart (“Getroud met Rugby”) Esti van Rooyen en Armand Hofmeyr.