Archive for May, 2011

ATKV-toekenning vir eerste en enigste Afrikaanse Sokkerliedjie.

Friday, May 27th, 2011

ATKV Centurion se Afrikaanse Sokkerliedjieprojek is die afgelope week tydens die ATKV se Algemene Jaarvergadering by ATKV Goudini Spa, met ‘n ATKV-toekenning vir ‘n unieke hoë gehalteprojek vereer.
Die Kunsuitstalling by die Voortrekkermonument en verering van die skilder en beeldhouer Jo Roos, is ook as hoë gehalteprojek bekroon. Die tak is ook weer vir die soveelste keer as tak met ‘n hoë graad van funksionaliteit aangewys.

Die Afrikaanse Sokkerliedjie het baie wye Nasionale en Internasionale Mediadekking ontlok. Die Cd- en Video-opname is op bykans al die Suid-Afrikaanse Radio- en Televisiekanale gehoor en gesien. Dit is ook onder andere op Sky News en Belgiese TV vertoon.

Die projek het verlede jaar afgeskop met ‘n landwye Sokkerliriekkompetise wat op die wysie van die wêreldbekende “Sarie Marais” geskryf moes word. Baie inskrywings is ontvang en uiteindelik is die liriek van Thea de Kock, ‘n afgetrede dame van die Wesrand as wenner aangewys.
Benewens die deelname van sommige ATKV Centurionsangers, het Nadine, Ghapi, Tiro, Steyn Fourie en Jaco van Deventer (konsertina) verdere luister en kwaliteit aan die Cd- en Video-opname verleen. Leerlinge van Rosina Sedibane Sportskool, Transoranje Skool vir Dowes en Prinshofskool vir Blindes het ook aan die Video-opname deelgeneem.
Die liedjie is onder andere ook by die Voortrekkermonument onder luide toejuiging vir besoekende Sokkertoeriste uit Argentinië gesing.
Die Sokkerliedjie kan op die webwerf www.tak.co.za gesien en gehoor word. Kliek op die openingsbladsy op die skakels regs.


Sakkie Kotze, voorsitter van Centurion en Johan van Schoor is weer op die ATKV-Direksie verkies. Op die foto wens hulle mekaar geluk. Johan is ook weer as Voorsitter verkies

Volkshumor herleef met ‘n nuwe verhoogkomedie: “Die Riemlanders en die lyksbesorger.”

Saturday, May 21st, 2011

Die premiere van “Die Riemlanders en die lyksbesorger” het die afgelope naweek onder blyke van groot belangstelling by die Lemon Jackteater in Centurion plaasgevind. Die komedie is deur Coert Grobbelaar geskryf. Hy het ook die regie behartig en die rol van die “lyksbesorger” as die hoofkarakter vertolk.

Verskeie bekende Afrikaanse akteurs en kultuurleiers het die premiere as gaste bygewoon.

Op die foto verskyn van die genooide gaste saam met die lyksbesorger vlnr.: Tobie Cronje, Coert Grobbelaar (lyksbesorger), Marga van Rooy, Sakkie Kotze (ATKV)

ATKV Centurion Omgeeprojek: Ons ondersteun Huis Oase.

Monday, May 16th, 2011

Die ATKV Centurion se jongste Omgeeprojek het op Huis Oase in Centurion gefokus.
‘n Kermis is die afgelope naweek saam met die huisouers en afgetrede inwoners aangebied om fondse vir die tehuis in te samel.
Benewens die tradisionele kontreikos, stalletjies, en ‘n baie geslaagde veiling van oudhede, is daar deurentyd sang en musiek verskaf. 

Marie van Staden het as weldoener en jarelange vrywillige welsynswerker, Huis Oase drie jaar gelede in Gerhardsville geopen.
Sy is einde verlede jaar skielik oorlede. Haar dogter Elsa en Fanie Vosloo sit haar passie voort en het begin vanjaar as huisouers oorgeneem.

Van die ATKV Centurionsangers en -musikante het ook deurentyd by die Kermis opgetree.

Susan Broodryk, ‘n besoeker en ondersteuner van Huis Oase, het tydens ‘n gelukkige trekking ‘n gratis 4-dagvakansie by een van die sewe ATKV-oorde losgeslaan.

Op die foto wens Sakkie Kotze, voorsitter van ATKV Centurion en ‘n ATKV Direksielid, haar geluk. Dawie Weyers, een van die inwoners en mede-organiseerder, staan links met Elsa Swanepoel, die trotse huismoeder, langs hom.

ATKV Centurion Musiekgroep

Sunday, May 8th, 2011

Van die lede van die ATKV Centurion Musiekgroep het onlangs vir die “Sokkieskuifmusiek” by die kermis van die Hervormde gemeente Verwowerdburg gesorg. Daarna het hulle buite by die kamvuur verder “Voetekieliemusiek” verskaf.


Op die foto verskyn vlnr.: Albert Wentzel (konsertina), Willie Jooste (trekklavier), Willem Barnard (kitaar) en Gert Barnard (banjo).

ATKVeertjies Mediatoekennings 2011

Saturday, May 7th, 2011

Die ATKV se jaarlikse ATKVeertjies Mediatoekennings het vanjaar weer wye belangstelling gelok.
Die toekennings word jaarliks aan toppresteerders in Afrikaanse radio, televisie en die gedrukte media gemaak.


Op die foto verkeer Sakkie Kotze (ATKV Direksielid), mnr. Japie Gouws (ATKV Besturende Direkteur) en genl. Gert Opperman (Hoof Uitvoerende Beampte van die Voortrekkermonument) in gesellige luim tydens die glansfunksie.