Archive for March, 2011

ATKV Centurion se kompetisies by die Wildsekspo in Pretoria.

Saturday, March 26th, 2011

Die ATKV Centurion het vir groot pret by die Wildsekspo in Pretoria gesorg met die aanbied van ‘n aartappel- en lemoenskilkompetisie asook ‘n brandende rissie-eetkompetisie.

Op die foto wys Heinrich Stander die lengte (1.75m) van sy aartappelskil waarmee hy die eerste plek verower het.
Niki van den Berg hou tans die SA-rekord met ‘n lengte van 2m 34cm uit een aartappel.
ATKV Centurion het ‘n paar jaar gelede al met die aanbied van sulke kompetisies by die Aartappelfees in Bethal en elders in die land begin.

So smaak 20 brandende rissies – wild maar lekker…!!!


Averyl Roos (regs) is as die wenner aangewys met 20 rissies wat binne een minuut gekou En gesluk is sonder enige vloeistof tussenin.
Langs haar worstel Kobus Symons met die brandende monsters in sy mond, terwyl Heinrich Stander met spyt wonder of hy nie maar met die aarappelskillery moes volstaan het nie.

ATKV Centurionsangers en -musikante tussen die visse by die Wildsekspo in Pretoria.

Van die ATKV Centurionsangers en -musikante het weer vanjaar by die Wildsekspo in Pretoria opgetree.
Dié altydbesige ATKV-tak het ook vanjaar ‘n baie interessante, gewilde en brandende rissie-eet asook ‘n aartappel- en lemoenskilkompetisie aangebied.

Hier verskyn van die sangers en musikante by een van die interessante taksidermie-uitstallings met ‘n verskeidenheid see- en varswatervisse.
Hulle staan tussen ‘n imposante Marlyn- (links) en Seilvis (regs) taksidermie.


Voor:    Trevor Nasser (kitaar en mandolien)
Agter:   Chanté Retief, Ina Labuschagne en Johan Fourie

ATKV Centurion vier Uitsaaiafrikaans

Thursday, March 24th, 2011

ATKV-toekennings aan Tinus Esterhuizen (RSG) en Peet van Staden (SABC2) vir die bevordering van Afrikaans.

Gasspreker: Riaan Cruywagen

Twee veterane in die uitsaaiwese van Suid-Afrika, Peet van Staden en Tinus Esterhuizen, tree vanjaar na baie jare uit die diens van die SAUK.
Hulle is Donderdagaand 24 Maart deur die ATKV in Centurion vereer.

Peet van Staden was vir 27 jaar aan die SAUK verbonde nadat hy oor ‘n tydperk van 14 jaar as joernalis aan Die Transvaler, Die Vaderland en Rapport verbonde was. Hy het later Sportredakteur van Rapport geword, was voorsitter van die Randse Sportskrywersvereniging en het ook die toekenning as Sportskrywer van die Jaar ontvang.
Hy het by die SAUK as TV nuusskrywer begin, later bulletinredakteur en daarna Uitvoerende regisseur geword. Onder sy innoverende en dinamiese leiding het die Afrikaanse TV-nuusuitsending op SABC2 tot die grootste kykertal naas die Zulu/Xhosa nuusprogram gegroei. ‘n Tweede Afrikaanse nuusbullitin het a.g.v. Sy inisiatief op SABC3 gevolg.

Tinus Esterhuizen het in 1965 met die trein na Johannesburg gery en by die SAUK gaan werk soek. Hy is in 1966 by Springbokradio aangestel as musiekopsteller en byklanke regisseur vir al daardie destydse bekende sepies.
Hy was later Fanus Rautenbach se “Plategeneraal” en het o.a. die byklanke vir radioprogramme soos “Staal Burger”, en F.A. Venter se “Geknelde Land”, “Beloofde Land” en “Belofteland” geskep. Hy was die organiseerder en/of samesteller en administrateur van  programme soos “Keep it Country” saam met Lance James, die Sarietoekennings, die eerste Boeremusiekkompetisie op radio ens.
Tinus het ook deur al die jare musiekkenner en musikant in eie reg geword. Hy het onder die verhoognaam Martin Lane ‘n baie bekende en suksesvolle klavier- en orrelspeler geword.

Gaskunstenaars by die glansaand was Anina Wasserman (sopraan) Sonja Herholdt en Kobus Muller as sangers, en musikante prof. Wessel van Wyk (klavier) en Martin Lane en Ockie Vermeulen (orrel), Lizelle le Roux (viool) en Jaco van Deventer (konsertina).

Bekende sangers en musikante soos Mimi Coertse, Carike Keuzenkamp, Lance James, Gert van Tonder en Theo Erasmus was onder die gaste wat die galafunksie bygewoon het.

Mnr. Phil Molefe (Groep Uitvoerende Hoof van SAUK Nuus), Jimi Matthews (Hoof van TV Nuus), TV-nuusaanbieders Riaan Cruywagen en Karlien Viljoen, prof. Debra Meyer wat die weer aanbied, Magdaleen Kruger  (Hoof van RSG) en omroepers Amanda Olivier, Ian Wessels, Wouter de Wet en Lynette Francis,  was onder die gaste wat by die glansfunksie teenwoordig was.


Riaan Cruywagen
, veteraanuitsaaier en TV-nuusaanbieder, was die gasspreker by die spoggeleentheid. Hy het gepraat oor Die uitsaaier as normeerder van Afrikaans en klem gelê op die belang van taalnorme en Standaardafrikaans in die uitsaaiwese.

Hy het daarop gewys dat in ‘n ontwikkelde land soos Nederland, die taal van die nuusleser volgens die gesaghebbende Meertensinstituut vir die meeste Nederlanders steeds as die beste voorbeeld van standaardtaal dien. Dit was vroeër ook in Suid-Afrika die geval, toe uitsaaitaal deur verreweg die meeste luisteraars as die norm beskou is waaraan hulle hul taalgebruik kon toets.

Cruywagen het gesê elke uitsaaiorganisasie wat sy sout werd is, sal terdeë daarvan bewus wees dat die taalgebruik in sy uitsendings die taal van sy luisteraars en kykers beduidend kan beïnvloed. Ofskoon hy baie dankbaar is dat Afrikaans vandag informeler en gemakliker oor die eter weerklink as dekades gelede, het hy gewaarsku teen die ondergrawing van die taal deur taalreëls te verontagsaam en Afrikaanse taalgebruik met Engelse woorde te deurspek.

Net soos ‘n verantwoordelike Afrikaanse koerant nie sal toelaat dat sy joernaliste taalreëls oortree, spel soos hulle wil en aan die publikasie ‘n onversorgde voorkoms besorg nie, behoort Afrikaanse uitsaaiers ook nie hulle luisteraars met halfgebakte Afrikaans en slordige aanbieding te vervreem nie, het hy gesê.

Hy het dit beklemtoon dat dit nie gaan oor purisme of aksente nie. ‘n Mens kan steeds met ‘n Wes-Kaapse of Namakwalandse aksent Standaardafrikaans praat deur eenvoudig die taalreëls te gehoorsaam en nie jou taalgebruik onnodig met Engelse woorde te ontsier nie, het hy gesê.

Cruywagen is ook besorg oor die standaard van Afrikaans in uitsaaireklame. Die indruk bestaan dat nie alle kopieskrywers en stemkunstenaars die Afrikaanse taal- en uitspraakreëls ken nie. Gevolglik doen baie van hulle lustig mee aan die verkragting van Afrikaans in hulle strewe om die kliënt tot elke prys ter wille te wees. Dié gedienstigheid aan Mammon geskied helaas ten koste van goeie Afrikaans.

Volgens Cruywagen bied die SAUK steeds aan uitsaaiers ‘n gulde geleentheid om gemaklike Standaardafrikaans te gebruik. In die vorige bedeling het dit voorskriftelik geskied, maar vandag rus die verpligting op die uitsaaier self. Ongelukkig benut nie alle uitsaaiers daardie geleentheid nie en gevolglik verloor moderne Uitsaaiafrikaans gaandeweg sy glans en sy normeringsrol.

Cruywagen het die ATKV beskryf as ‘n meestersjef wat help om die Afrikaanse taal te laat kook. Hy het egter almal wat saamkook gevra om daarteen te waak om nie te veel onnodige bymiddels in te roer wat ‘n wrang smaak in die mond laat nie – soos om Afrikaans met Engelse woorde, uitdrukkings en invloede te deurspek.

Want dan kóók Afrikaans nie meer nie. Dan brand hy lelik aan,” het hy gesê.


Vlnr.: Tinus Esterhuizen (RSG), Sakkie Kotze (ATKV Centurion) en Peet vanStaden (SABC2)

Gaste by ATKV Centuriondinee:

Vlnr.: Theo Erasmus, Lieb Bester, Carike Keuzenkamp, Gert van Tonder en Lance James.
Bekende sangers by ATKV Centuriondinee:

Vlnr.: Kobus Muller, Sonja Herholdt, Mimi Coertse en Nadine.
Kobus Muller en Sonja Herholdt het tydens die program van hul bekendste liedjies gesing.

 

ATKV Centurion bied ‘n Kultuurprogram by Kiepersol Dienssentrum vir Bejaardes in Centurion aan.

Monday, March 7th, 2011

Die program het op kultuurwerk in die algemeen gefokus en het as motivering gedien vir bejaardes met talent.

Een van ATKV Centurion se Kultuurgroeplede, mev. Lilly Krugel het aan haar mede tydgenote gesê dat ‘n mens is nooit te oud om te leer en talent verder te ontwikkel nie.
Sy word self later vanjaar 80, neem nog aan padwedlope deel, skilder, skryf kinderliedjies en het sopas nog ‘n Cd “Die Goggatjies” die lig laat sien. Sy is al verskeie kere as finalis van die SANLAM/RSG Dramaskryfkompetisie aangewys.

Sy is in 2009 as Centurion Vrywillige werker van die Jaar op Kultuurgebied aangewys.


Op die foto verskyn vlnr.: Mev.Elsa Coetzee (voorsitter van die Sosiale Komitee by Kiepersol), mnr. Jan le Roux (lid van die Beheerraad van Kiepersol), Mevv. Lilly Kruger en Beatrice Kotze van ATKV Centurion.

Bybel in al 11 amptelike tale van SA aan Justus Tshungu en sy vrou Esther geskenk.

Monday, March 7th, 2011

Op die foto word ‘n Bybel in al elf die amptelike tale van Suid-Afrika namens die ATKV Centurion aan mnr. Justus Tshungu oorhandig deur Dewaldt Minnaar en Roeline de Klerk.
Hulle is as Gautengskole vir leerders met Spesiale Onderwysbehoeftes se Gr. 12 Provinsiale Toptienpresteerders in hul moedertaal Afrikaans aangewys.
Dewaldt het verlede jaar by Prinshofskool vir Blindes gematrikuleer en Roeline de Klerk by Transvaliaskool. Roeline is hardhorend.

Die Bybel is goedgunstiglik deur die Bybelgenootskap van Suid-Afrika aan die ATKV beskikbaar gestel.


Op die foto staan Dewaldt Minnaar en Roeline de Klerk langs ‘n trotse en blymoedige mnr. Justus Tshungu.

ATKV se Avontuurstalletjie pret by Beeld Vakansieskou.

Thursday, March 3rd, 2011


Sakkie Kotze, voorsitter van ATKV Centurion en Nie-Uitvoerende Direkteur van die ATKV, het ook die Vakansieskou besoek en dit op die rondomtalie-apparaat by die ATKV se Avontuurstalletjie gewaag.


ATKV Centurionsanger Max van Heerden en Sakkie Kotze durf die klimmuur by die ATKV se Avontuurstalletjie by Beeld Vakansieskoeu aan.

ATKV Centurionsangers by Vakansieskou.

Thursday, March 3rd, 2011

Van die ATKV Centurionsangers het by die ATKV-verhoog by die Beeld Vakansieskou, wat onlangs by Gallagher Estates in Midrand gehou is, opgetree.
Die ATKV se sewe vakansieoorde is ook daar bemark.


Op die foto verskyn vlnr. Ferdi Pieterse (ATKV Klein Kariba) saam met drie van die ATKV Centurionsangers Tiaan, Andre en Max.