Archive for January, 2011

Nuwejaar, boeretroos, pannekoek en brood uit die bakoond…!!!

Monday, January 3rd, 2011

“Dis Nuwejaar, en ons is bymekaar…by die Pioniersmuseum in Pretoria…!!!
Wat is ‘n Nuwejaarsfees sonder boeretroos, pannekoek, varsgebakte brood, potjiekos, pap en kaaiings, braaivleis en gemmerbier…!!!

Benewens die heeldag sang en musiek, was daar weer iets vir almal: toutrek, jukskei, sakresies, sweepklap, nuwejaarsbaba-, oudste oom/tannie- en Mnr. & Mej. Nuwejaarskompetisies. Daar was heeldagmusiek en sangers, onder andere van die ATKV Centurionsangers wat opgetree het.
Die Nuwejaarsfees deur die Pioniersmuseum, in samewerking met die ATKV, is ‘n kuierfees vir die hele gesin.
Die geskiedenis van die Pioniersmuseum was deurentyd in die kollig met kultuurdemonstrasies en begeleide toere by die Pioniershuisie wat uit die delwerstydperk dateer. Die Pioniershuis was destyds ‘n verversingspos tussen Pelgrimsrus en Pretoria.


Op die foto konsentreer Annete Potgieter ernstig op een van die pannekoeke wat sy gelyktydig bak, terwyl dié agter haar met koffie in die hand, angstig op ‘n gaar een wag…
Vlnr: Sakkie Kotze (ATKV Direksielid) Kobus van Rooyen (ATKV Jakarandatak), Soekie Nel (Aksie en Woordvreugdetak) Mariet Conradie (Museumkurator) en Caroline Griesel (Pioniersmuseum) met ‘n warm brood uit die bakoond.