Archive for November, 2010

Sportman deur ATKV Centurion met ‘n Spesiale Toekenning vereer.

Monday, November 22nd, 2010

Johan Ackermann het vir die Blou Bulle, die Leeus, die Haaie en die Sprinbokke gespeel. Tans is hy hulpafrigter van die Leeus.
Johan woon in Bloubulland. “Ons leen jou met graagte aan die Leeus” het Sakkie Kotze skertsend bygevoeg.

Hy is deur die ATKV Centurion met ‘n spesiale toekenning vereer, nie net vir sy puik sportprestasies nie, maar ook vir die wyse waarop hy sy Christenskap en Afrikanerskap as Sportman uitleef. Hy skroom ook nie om as Sportman Afrikaans te praat nie.

Johan het as gasspreker by die ATKV Centurion se jaarlikse Toppresteerderfunksie opgetree en die matrieks voorspoed en sterkte vir hul lewenspad vorentoe toegewens.
“Wees jouself, gebruik jou talente ten volle, beoefen en behou jou geloof in God as jou Leidsman elke dag,” het hy onder andere gesê.


Op die foto word hy deur Sakkie Kotze die voorsitter gelukgewens.

Vier Pretorianers is deur die FAK met Nasionale Toekennings vereer.

Wednesday, November 17th, 2010

Tydens die pasafgelope FAK Prestige-aand in Pretoria is vier Pretorianers met Nasionale Toekennings vir Opvoedkunde- en Kultuurprestasies vereer.

Retha Bloem.
Sy is met die HB en MJ Thom-Onderwystoekenning vereer. Sy het ‘n passie om kinders te help om hul volle potensiaal te bereik. Sy maak van haar eie kreatiewe leerstyle gebruik en fokus op elke kind se sintuiglike modaliteit vir leer. Hierin maak sy onder andere gebruik van Mind Moves, spelterapie, fisiese aktiwiteite, emosionele ontwikkelingstegnieke om ‘n holistiese benadering en heelbreinontwikkeling by kinders te bewerkstellig. Sy hou haarself op hoogte van die nuutste onderwystegnieke.

Etienne Theart, en prof. Joseph Stanford is albei met die FAK-Toekenning vir besondere Kultuurprestasie bekroon.

Etienne Theart was Kommandoleier, Streeksleier en Provinsieleier van die Transvaalse Voortrekkers, lid van die Hoofdagbestuur en Hoofsekretaris van die Voortrekkers.
Hy is verder ook betrokke by die Afrikaans Ekspo, Voortrekkermonument, Erfenisstigting en die Rapportryersbeweging.
Mnr. Theart het self ook vele Rapportryerskorpse gestig.

Prof. Joseph Stanford is aan die Universiteit van Pretoria verbonde.
Hy is ‘n klavierpedagoog en eksaminator vir Unisa Praktiese en Teoretiese eksamens.
Hy dien ook op die juriepanele van verskeie SA- en Internasionale Musiekkompetisies.
Prof. Stanford het klavieronderwys in Suid-Afrika gevestig. Onder sy baie suksesstudente tel onder andere die bekende pianiste Ben Schoeman en Petronel Malan.

Sakkie Kotze het die Toekenning vir sy besondere Opvoedkunde- en Kultuurprestasies ontvang.
Hy is al baie jare in die onderwys, het Departementshoof- en Adjunkhoofposte by verskeie skole beklee, was jare lank Skoolhoof en tans weer vir baie jare al ‘n Senior Onderwysbestuurder waar hy o.a. professionele leiding aan skoolhoofde en ander onderwysleiers gee.
Hy het as skolier al die FAK-Jeugraad se Jeugleierskursusse bygewoon en is daarna as student en onderwyser genooi om met die aanbied van verdere kursusse te help. Hy het vele Volksang- en Volkspelelaers gestig en die NSR op die Nasionale Raad verteenwoordig. So het hy ook vele Voortrekkerkommandos gestig en die Staatmakers op die Hoofbestuur verteenwoordig. Mnr. Kotze is lid van die Forum vir Tradisionele Danse en Musiek, beoordelaar by Sangtalentkompetisies en die Rapport/Vonk Afrikaanse Musiektoekennings. Hy is al vele jare ‘n Nie-Uitvoerende Direkteur van die ATKV.


Op die foto  verskyn vlnr.:
Etienne Theart, Sakkie Kotze, prof. Joseph Stanford, Retha Bloem en prof. Danie Goosen (Voorsitter van die FAK)

ATKV Centurionsangers kry nog mentors.

Wednesday, November 17th, 2010

Die ATKV Centurionsangers en -Musiekforum, skep al vir baie jare bekendstellings- en optreegeleenthede vir sangers en musikante van oraloor, met bewese sang- en musiektalent.

Afrikaanse sangers en musikante, sang- en musiekonderwysers asook Afrikaanse liedjieskrywers wat reeds die kruin van hul loopbaan bereik het, word ook genooi om ander sangers en musiekante met hul loopbaanontwikkeling te ondersteun en by te staan.

Petronel Baard, ‘n vorige ATKV Crescendowenner en Pieter de Wet van Asante Records het nou ook hul ondersteuning aan die Forum kom aanbied.
Drie van die Forumsangers wat nou ook by hul mentorskap gaan baat vind is onder andere Carike, Max en Petro.

Volgens Sakkie Kotze die Voorsitter, het hulle die afgelope jare groot suksesse behaal met Forumlede wie se loopbane koers gekry het, danksy hulp en ondersteuning van mentors. Hy is self ‘n beoordelaar by die Rapport/Vonk Afrikaanse Musiektoekennings en ‘n lid van die ATKV Direksie.


Op die foto verskyn vlnr.:  Sakkie Kotze, Max, Petronel Baard, Pieter de Wet, Petro en Carike.

ATKV-oorde skenk pryse by reuse Afrikaanse Musiekfees.

Sunday, November 14th, 2010

Afriforum se vierde Afrikaanse Musiekfees Saterdag by die Voortrekkermonument, het meer as 35,000 toeskouers en 29 sangers bymekaar gebring vir ‘n heeldag Sang- en Musiekfees in Afrikaans.

Drie gelukkige toeskouers het met ‘n trekking, elk ‘n naweek by ‘n ATKV-oord losgeslaan. Sakkie Kotze het dit gereël en die geskenkbewyse aan die wenners oorhandig. Hy is voorsitter van die Centuriontak en Nie-Uitvoerende Direkteur van die ATKV.


Op die foto verskyn vlnr.: Sakkie Kotze (ATKV), Poy Snyman, Johan van der Craght en Fanie van der Walt.