Archive for October, 2010

Vonktoekennings aan Pretorianers Steyn Fourie en Ghapi

Monday, October 25th, 2010

Steyn Fourie en Ghapi het Maandagaand 25 Oktober Vonktoekennings ontvang tydens die Rapport/Vonk Afrikaanse Musiektoekennings wat by Carnival City aangebied is. Steyn Fourie is vir die beste Kinderalbum en Ghapi vir die beste Crossover Album bekroon.

Hulle het saam met Nadine, wat een van die gaskunstenaars by die Vonktoekennings was, vroeër vanjaar saam met Tiaan en Andre aan die ATKV Centurion se unieke Afrikaanse Sokkerondersteuningsliedjie deelgeneem. Die enigste Afrikaanse Sokkerliedjie en DVD het wye belangstelling in die media en selfs oorsee geniet. Dit kan nog steeds hier op die ons webwerf afgelaai, na geluister en gekyk word.


Op die foto voor vlnr.: Sakkie Kotze (een van die Vonkbeoordelaars), Nadine, en Steyn Fourie. Agter: Tiaan, Ghapi en Andre.

Sangers van Pretoria en Centurion laat die vonke spat by vanjaar se Rapport/Vonk Afrikaanse Musiektoekennings

Monday, October 25th, 2010

Bobby van Jaarsveld van Centurion was vanjaar die groot Vonk by die Rapport/Vonk Afrikaanse Musiektoekennings. Hy is as die beste manlike kunstenaar aangewys en het nog drie Vonktoekennings ontvang vir die beste inheemse liedjie van die jaar (Spieëltjie), beste liedjie van die jaar (met ‘n R250.000 skenking van Jacaranda 94.2) en beste album van die Jaar.  

Gerhard Steyn is met ‘n Vonktoekenning beloon vir die gewildste Album “Diamante vir Jou”, Paulo (Eden) vir Beste Groepalbum “Dekade”en Retief Burger vir die beste geestelike album.

Ander Pretorianers wat Vonktoekennings ontvang het is onder andere: Juanita du Plessis, Lianie May, Dozi en Nianell, Bok van Blerk en Sorina.

Oud-Spoorwegvakleerling, -onderwyser en -dosent deur ATKV vereer vir jarelange Kultuurbevordering deur sy beeldhou- en skilderwerk.

Wednesday, October 20th, 2010

Jo Roos (84) is deur die ATKV vereer vir kultuurbevordering, deur sy beeldhou- en skilderwerk oor ‘n tydperk van meer as 60 jaar. Sy beeldhou- en skilderwerk van onder andere Afrikaanse skrywers en digters, asook tipiese SA wild- en landskaptonele, word hoog na waarde geskat.

Hy het ook van bykans al Suid-Afrika se vorige Staatspresidente en Eerste Ministers ‘n borsbeeld en/of ‘n skildery gemaak.
Hy was die eerste beeldhouer in die wêreld wat ‘n borsbeeld van Mandela gemaak het. Mandela het dit self in 1994 in Polokwane onthul.
‘n Muurpaneel deur Roos van die Eerste Wêreldoorlog, is in die Delvillebos Oorlogsmuseum in Frankryk te sien. 


Op die foto verskyn Jo Roos en Sakkie Kotze (Voorsitter Centuriontak en Direksielid van die ATKV) by van die beeldhou- en skilderwerke van Jo Roos wat nog tot Sondag 24 Oktober by die Voortrekkermonument in Pretoria te sien is.
Hier staan hulle by twee skilderye van Eugene Marais (links) en Totius (regs). ‘n minireplika van die Totiusbeeld in Potchefstroom vorm deel van die uitstalling.
Die uitstalling duur nog tot Sondag 24 Oktober.

Hy was al in 1946 ‘n medewerker van die ATKV-tydskrif Die Taalgenoot, wat vandag nog verskyn. Hy het toe al bypassende sketse vir kortverhale in die Taalgenoot geteken.
Jo was jare terug ‘n leerling van die ou Laerskool President Kruger in Pretoria. Later sou sy borsbeeld van Paul Kruger tot vandag toe nog wêrelderkenning geniet.

Jo is op die oomblik in die Eugene Marais Hospitaal in Pretoria waar hy ‘n operasie moet ondergaan.
Ons het spesiale toestemming gekry dat hy Maandagaand die Amptelike Opening van die Kunsuitstalling kon bywoon en sy ATKV toekenning kon ontvang.

‘n Pragbundel oor Jo Roos se kunswerke o.l.v. Willie van Niekerk is onlangs internasionaal bekendgestel.
Die boek is ook by die Uitstalling, wat deur die Centuriontak van die ATKV georganiseer is, te sien.

ATKV vereer Jo Roos as ‘n Internasionaalbekende SA Beeldhouer en Skilder van formaat.

Thursday, October 14th, 2010

Kunsuitstalling by die Voortrekkermonument. (19 – 24 Oktober 2010)
‘n Profiel van Jo Roos
deur Sakkie Kotze

Jo Roos het as Afrikaner oor ‘n tydperk van meer as 70 jaar, ‘n buitengewone en lewenslange bydrae tot die visuele kunste nasionaal in Suid-Afrika, maar ook internasionaal gelewer. Hy is as beeldhouer en skilder ook bekend in veral die VSA, Europa en Japan.

Hy is heelwaarskynlik die beeldhouer in Suid-Afrika en dalk in die wêreld wat al met die meeste mediums gewerk het:
Van skoolklei tot brons; van SA inheemse hout soos Boekenhout, Hardekool en Maroela tot die wonderklip van Ottosdal; van spykers tot graniet; van sement tot leiklip; van Yskor se vlekvrye staalstafies tot marmer. Alles is unieke nuutskeppinge, selfs ‘n Buffel gemaak van vier- en agtduimspykers…!!! 
Sy instrumente: ‘n teelepel, ‘n sakmes, ‘n beitel en ‘n hamer…!!!

As Skoolkind.
Die onderwysers by sy alma mater die Laerskool Pres. Kruger in Pretoria, wou in 1937 nie sy skoolkleimodel van ‘n skilpad, as gr. 1-inskrywing vir die Kunswedstryd aanvaar nie omdat hulle gemeen het dit nie sy eie werk is nie – toe moes hy maar weer een in hul teenwoordigheid en tot hul verbasing, met sy klei en teelepel maak – min wetende dat hy later ‘n bronsbeeld van Paul Kruger sou maak wat vandag nog wêrelderkenning geniet.

Hy het nou nog as 84-jarige, ‘n knipmes in die sak en was van kleins af al altyd aan die kerf – van biltong tot hout tot leiklip. Tydens ‘n skoolkermis het hy die meeste punte met veerpyltjiegooi aangeteken en ‘n “Joseph Rodgers” sakmes gewen. Daarmee het hy as sy eerste model, uit Ottosdalklip ‘n tafelbeeldjie van genl. Christiaan de Wet en ‘n swaeltjie vir sy pa in die hospitaal gekerf. Sy pa is later daar in die hospitaal oorlede.

Die jaar daarna het hy as deel van die Simboliese Ossewatrek in 1938, ‘n Kakebeenwaentjie van sement vir die skool gemaak wat vandag nog daar staan.
Portrette van sy twee sussies het toe al in die destydse koerant “Die Transvaler” verskyn, maar nie voordat hy hulle eers moes omkoop om te poseer nie.

As student.
Tydens sy vakleerlingskap by die SAS en H (Suid-Afrikaanse Spoorweë en Hawens) is van sy sketse by kortverhale, in die Desember 1946- en Februarie 1947-uitgawe van die ATKV-tydskrif Die Taalgenoot, (wat vandag nog steeds verskyn) gepubliseer.

As kunsstudent by die Onderwyskollege Pretoria (NKP) het hy ‘n granietbeeld van dr. Verwoerd gemaak wat vandag op Orania staan. Hy het toe ook ‘n bronsbeeld van die Voortrekkerleier Gerrit Maritz gemaak, dit vir ‘n landwye kompetisie ingeskryf en gewen. Die beeld staan vandag by die Voortrekkerkerk in Pietermaritzburg.

As kunsonderwyser en kunsdosent.
Sy landskapskilderwerk het as kunsonderwyser tussen die Maroela- Kremetart- en Hardekoolbome by Laerskool Alldays ‘n inspuiting gekry. Vandaar is hy heel gepas na die Laerskool Pierneef in Pretoria en toe na die Hoërskool Ben Viljoen op Groblersdal. Daar het hy die marmer van Marble Hall leer ken en sou hy later ‘n kopbeeld van Totius maak wat vandag nog in Totiushuis op Potchefstroom te sien is.

Jo is toe as kunsdosent by sy alma mater, die Onderwyskollege Pretoria aangestel. Sy Bronspaneel “Abstrak” pryk vandag nog op die kampus. (deesdae die Groenkloofkampus van die Universiteit van Pretoria.)
Hy was ook betrokke by die totstandkoming van Kunsskole, samestelling van die leerplan vir beeldhou, eksaminator en nasiener.
Jo Roos se invloed op skoliere, kunsstudente en -onderwysers, toe en nou, is ongekend en kan moeilik na waarde geskat word.

Vele beeldhouwerk sou daarna volg soos onder andere ‘n bronsbeeld van Paul Kruger (tans in Polokwane), ‘n bronsbeeld van Totius (tans in Potchefstroom), ‘n bronspaneel by die Majuba Monument, ‘n graniet- en marmerbeeld van dr. Verwoerd (tans by Orania en die Voortrekkermonument onderskeidelik), hardekoolhoutbeelde van John Vorster en J.G. Strydom asook borsbeelde van Mandela, Mbeki en Sam Nujoma. ‘n Meer as lewensgrootte bronsbeeld van Sol Plaatjies is sopas op die Potchefstroomkampus van die NWU onthul.

Jo Roos was as Afrikaner en Suid-Afrikaner die eerste beeldhouer in die wêreld wat ‘n bronsbeeld van Mandela gemaak het. Dit is op 23 September 1994 deur Mandela self in Pietersburg (vandag Polokwane) onthul.

Een van sy wêreldbekende meesterstukke is sekerlik die bronspaneel van tonele uit die Eerste Wêreldoorlog wat in die Delvillebos  Oorlogsmuseum in Frankryk gemonteer is.
L.W. Van sy oorspronklike sketse sal ook by die uitstalling te sien wees.

Hy het self ook al 2 uitstallings in Duitsland en een in die VSA gehou. Van sy beeldhou- en skilderwerk is vandag deel van permanente uitstallings in Switzerland, Engeland, en Ierland. In Dublin Ierland is daar o.a. “kleiosse” in brons, en ‘n renoster van vlekvrye staalstafies gemaak, te sien.

Jo is nie slegs ‘n indrukwekkende beeldhouer nie, maar het ook reeds vele skilderye voltooi. Sy gebruik van kleur is meesterlik en die skilderye het ‘n kenmerkende impressionistiese styl soos sy olieportrette van politici, naakstudies van vroue, Afrikaanse digters en skrywers soos o.a. Eugene Marais en Totius, asook tipiese Suid-Afrikaanse landskappe, uitsonderlike dierestudies soos bv. leeus en gemsbokke.

Jo se vrou Dingi is ook ‘n baie suksesvolle skilder in eie reg. Haar skilderwerk oor die Suid-Afrikaanse natuur is deel van die Jo Roosgallery. Sy hou ook gereeld saam met hom uitstallings in verskillende dele van ons land.
Hul tweelingseuns Johannes en Hendrik se belangstelling is ook deur hul ouers gekielie. Hulle is albei voltydse bronsgieters en het hul opleiding in New Jersey in die VSA gehad. Johannes woon hier en Hendrik is in Israel. Carlien hul dogter, skilder ook en woon in Nieu Zeeland. 

‘n Versameling van sy beeldhou- en hul skilderwerk kan bedags vanaf Dinsdag 19 tot Sondag 24 Oktober in die Senotaafsaaal van die Voortrekkermonument in Pretoria besigtig word.

Bekende Pretorianer en Tukkieprofessor kom spog met die Drakensbergse Seunskoor.

Monday, October 4th, 2010

Die ATKV Centurion se aanbieding van “Romanz en Drakensbergse Seunskoor in konsert” in samewerking met Vision Promotions was ‘n groot sukses.
Romanz en die Drakies, was ‘n puik kombinasie van twee suksesgroepe met fyn stemharmonie, in ‘n program vol verskeidenheid van gewilde Afrikaanse, Engelse en ander inheemse taalliedjies, christenliedjies sowel as nasionale en internasionale koorwerk.
Benewens hul gesamentlike optrede voor ‘n waarderende volsaalgehoor, het die dirigent van die Drakies Johann van der Sandt, ook weer sy meesterskap as komponis, koormeester en regisseur kom bewys.

Hy was destyds as student ‘n lid van die Tukkiekoor. Hy het al sy musiekstudies daar met ‘n D.Mus in Koorleiding voltooi.
Johann sou later daar ‘n pos as lektor en nog later as professor in Koorleiding beklee.
Hy het koorleiding as akademiese vak by UP gevestig en ‘n unieke model oor koorsang oor ‘n tydperk van 10 jaar uitgebou.
Johann is al vele kere genooi om as gaslektor by verskeie universiteite oorsee op te tree.

Johann is ook ‘n komponis van formaat en baie van sy koorkomposisies is al deur nasionale en internasionale kore uitgevoer.
Hy het ‘n “Liedereboek vir Gemengde kore” in samewerking met Niel van der Watt gepubliseer en daarna ook ‘n reeks Cd’s met “Suid-Afrikaanse Koormusiek” die lig laat sien.

Hy tree al vir 20 jaar as koorleier op. Sy debuut het in 1989 begin met die Impronto Kamerkoor, daarna die Oosrandse Jeugkoor en toe die Randse
Afrikaanse Universiteitskoor.

Johann was vir 4 jaar die dirigent van Hoërskool Waterkloof en was in 2007 ATKV Applouswenner vir gemengde kore. Die skool se meisieskoor is as wenner in die kategorie vir minder ervare kore aangewys.
Hy was vir 13 jaar koorleier van UP se Singkronies Kamerkoor en het ‘n SAMA-toekenning vir Christenmusiek verower. Hy was vir 10 jaar Tukkiekoorleier en was in 2001 en 2007 wenner van twee Internasonale Koorkompetisies in Oostenryk en Italië. In Italië is hy as beste dirigent aangewys.

Johann is ook ‘n beoordelaar en spreker op Internasionale vlak. Hy was voorheen ‘n beoordelaar by die Europese Koorkompetisie in Italië en is tans ‘n permanente beoordelaar by die jaarlikse Internasionale Peter Eben Advent Koorkompetisie in Praag.


Op die foto wens Sakkie Kotze (regs) voorsitter van ATKV Centurion en lid van die ATKV Direksie, hom geluk met die puik regie van die gesamentlike optrede deur die Seunskoor en Romanz.

ATKV Centurion Kultuurgroep vier “Ons Erfenis saam met ander Kultuurgroepe in Suid-Afrika.

Monday, October 4th, 2010

Die Centurion Kultuurgroep van die ATKV het die Afrikanerkultuur by verskeie Erfenisvieringe verteenwoordig.
Verskeie ander kultuurgroepe soos onder andere die Indiër-, Venda-, en Zulu Kultuurgroepe het ook aan die onderskeie Erfenisprogramme gedurende September in Pretoria en Johannesburg deelgeneem.

Die Erfenisdagvieringe is gekenmerk deur spontane toejuiging en ritmiese handeklap vir elke groep wat deelgeneem het.
Die respek en waardering vir mekaar se unieke kultuureie sang, dans en musiek was ‘n uitstaande kenmerk van die luisterryke byeenkomste.


Op die foto verskyn van die lede van die ATKV se Centurion Kultuurgroep.
Voor vlnr.: Nicolene Nelson (danser), Elindi (sopraan) en Shanique Bleeker (danser)
Agter: Willie Joooste (trekklavier), Coert Grobbelaar (tenoor) en Karel du Toit (konsertina)

ATKV Centurion se Omgee- en Bewusmakingsveldtog fokus vanjaar op vermiste mense in Suid-Afrika

Sunday, October 3rd, 2010

‘n Tweelingsussie al 21 jaar vermis…!!! (Die persoon in Suid-Afrika wat nou al die langste vermis word.)

Veronique Adams, ‘n tweelingsussie van Veronishe, word al 21 jaar lank vermis. Haar ma Junice was ook by die Omgee- en Bewusmakingsveldtog. Sy en Veronishe treur nog steeds oor ‘n kind en ‘n tweelingsussie wat weg is…

Volgens Lt. Kol. Fanie van Deventer van die SAPD Hoofkantoor, is bykans vyfduisend kinders en volwassenes in Suid-Afrika tans as vermis by die SAPD aangemeld. (Meer as 1,500 kinders en meer as 3,200 volwassenes)

Voorbidding is vir hulle en hul ouers en naasbestaandes gedoen voordat die ATKV Centurion Saterdag ballonne met van die vermistes se foto’s daaraan vasgeheg, die lug ingestuur het.

Dr. Isak Burger, President van die AGS in Suid-Afrika, het ‘n beroep op die publiek gedoen om by sulke Omgee- en Bewusmakingsaksies van die ATKV, Kerke, en Welsynsorganisasies betrokke te raak. “Dit is ook ons Christenplig om naasteliefde in sy wydste sin en op alle moontlike wyses te betoon,” het hy onder andere gesê.
Hy het al die vermistes in Suid-Afrika, hul ouers en familie aan die Here opgedra en gebid vir die opsporing en hereniging met hul geliefdes.

Die ATKV ondersteun en werk baie nou saam met die SAPD. Sakkie Kotze, Voorsitter van ATKV Centurion en lid van die ATKV Direksie, het ‘n beroep op die publiek gedoen om, indien hulle van die ballonne met die foto’s daarop in die hande kry en so ‘n persoon in hul omgewing gewaar, dit onverwyld by die naaste SAPD-stasie aan te meld.
“Is die bedelaar by die stopstraat, by die kerkhek en by die winkelsentrum nie dalk ook een van die vermistes nie”, het hy onder andere gevra.


Op die foto vlnr.: Luit Kol Fanie van Deventer van die SAPD Hoofkantoor, Me. Junice Adams (ma van die persoon wat al die langste in SA vermis word) en Sakkie Kotze (Voorsitter van die Centuriontak en lid van die ATKV Direksie).