Archive for September, 2010

Centurionsangers van ATKV gaskunstenaars by Soccer City.

Wednesday, September 15th, 2010

Die enigste Afrikaanse Sokkerondersteuningsliedjie wat ooit in Suid-Afrika die lig gesien het, het uit die geledere van die Centuriontak van die ATKV gekom. Die Cd- en musiekvideo van hierdie unieke Sokkerliedjie is vanjaar al, met die oog op die Wêreldbeker, op bykans elke Radio- en TV-kanaal in Suid-Afrika gehoor en gesien. Die sangers het ook by verskeie geleenthede in ‘n Radio- en TV-ateljee opgetree.

Van die sangers het Saterdag ook as gaskunstenaars by die Soweto Derby by Soccer City opgetree voordat Orlando Pirates en Kaizer Chiefs mekaar die stryd aangesê het.


Op die foto maak twee van die Centurionsangers, Tiaan Grundling en Andre Mostert, gereed om op die veld te gaan.
Hulle het die reuse skare gou-gou, met ritmiese saamdans en handeklap, in die regte stemming vir die groot wedstryd gekry.

Vroeër die dag het hulle saam met voormalige spelers van Bafana en beide spanne, asook ander gaskunstenaars al singende op ‘n bus deur die voorstede van Johannesburg, Soweto en selfs na Mamelodi buite Pretoria gery om geesdrif vir die wedstryd op te bou.
Die twee spanne het die aand uiteindelik, na ‘n titaniese stryd gelykop gespeel, sonder om ‘n doel aan te teken.

Die Kultuurgroep van Centurion, wat ook hul dansers en musikante ingesluit het, het verlede week as gaskunstenaars opgetree toe die Minister van Kuns en Kultuur haar Departement se Nasionale Erfenismaandvieringe by Vryheidspark aangekondig het.

Nog ‘n slag is geslaan vir wedersydse begrip, waardering en gesonde taal- en kultuurverhoudinge onder al die mense van Suid-Afrika.

Dansers van ATKV Centurion se Kultuurgroep, tydens Departement se Afskop van Erfenismaandvieringe in SA.

Thursday, September 9th, 2010

Nicolene Nelson en Shanique Bleeker het die luisterryke program met ‘n gewyde dansitem geopen.
Hulle en Ina Myburg, in tradisionele Afrikanerdrag, het die het die Minister van Kuns en Kultuur met haar aankoms na haar sitplek begelei. 

Kultuurgroep van ATKV Centurion gaskunstenaars by afskop van Vryheidsmaandvieringe by Vryheidspark.

Thursday, September 9th, 2010

Ina Myburg, een van die Kultuurgroeplede, sing ‘n gepaste Afrikaanse lied: “Gee hierdie land nuwe hoop, nuwe krag…” tydens die afskop van Erfenismaandvieringe deur die Departement Kuns en Kultuur.

Kinderteaterkunstenaars vermaak kinders by ATKV Centurion se Kindervaardigheidsekspo.

Wednesday, September 8th, 2010

Verskeie kinderteaterkunstenaars het vanjaar by die ATKV Centurion se Tiende Vaardigheidsekspo by die T-skou in Pretoria opgetree.
Kinderopvoeding was vanjaar die fokus by die Ekspo wat oor tien dae gestrek het.

Benewens verskeie gepaste uitstallings oor onder andere kindervaardighede en kreatiwiteit, kinderboeke, kindertalent en opvoedkundige speelgoed, was daar ook ‘n Kindervermaakverhoog. Verskeie kindervermaakkunstenaars en lede van ATKV Centurion se Musiekforum, het daar opgetree.


Op die foto verskyn van die lede van ATKV Centurion Musiekforum vlnr.: Daisy die Nar, Swannie met Padda en Bekkige Bobbejaan, Kobie met Flobba, een van haar haar Kokkelollies van Reënboogland, Gert van Tonder en met Willie Wakkermaak.

ATKV Centurion Kultuurgroep en Zuludansers die gaskunstenaars by die afskop van Erfenismaandvieringe oral in Suid-Afrika.

Wednesday, September 8th, 2010

Die Minister van Kuns en Kultuur Me. Xingwana het Maandag 6 September, tydens ‘n luisterryke geleentheid by Vryheidspark in Pretoria, haar Departement se Nasionale Erfenismaandvieringe oral in die land bekend gemaak.

Die ATKV Centurion Kultuurgroep het o.a. uit dansers, sangers en musikante bestaan.
Van die dansers het die Minister by haar aankoms na haar sitplek begelei en die program met ‘n gewyde dansitem begin.
Ina Myburg het daarna, in haar tradisionele Afrikanerdrag, heel gepas ‘n Afrikaanse lied “Gee hierdie land nuwe hoop nuwe krag” gesing.
Na die Zuludansers se optrede, het Tiaan Grundling en Andre Mostert die gehoor op hul voete gehad met hul opgewekte Afrikaanse liedjies en ‘n Afrikalied.
Arrie de Ridder, blinde musikant van die groep, het na die Zuludansers se tweede optrede, die gehoor tydens ete met opgewekte luistermusiek vergas. 

Dit was opvallend hoe die musikale Zulus, tydens die sangers en Arrie se klawerspel, spontaan verhoog toe gekom en op die maat van Afrikaanse musiek gedans het.


Op die foto is van die lede van ATKV Centurion se Kultuurgroep saam met die Minister en LUR vlnr.: Nicolene Nelson, Me. Thusi, LUR vir Kuns en Kultuur in KwaZulu Natal, Me. Xingwana, Minister van Kuns en Kultuur en Shanique Bleeker. Agter staan Ina Myburg.

Bekende sangers met ‘n kinderbediening ook by ATKV Centurion se Tiende Vaardigheidsekspo.

Wednesday, September 8th, 2010

Die Tiende Vaardigheidsekspo van ATKV Centurion het vanjaar op Kinderopvoeding gefokus.

Twee bekende sangers met ‘n kinderbediening, Nedine Blom en Willie en die Wenspan het ook by die ATKV-verhoog opgetree.
Hulle is albei ook sopas as finaliste vir vanjaar se Rapport Vonk Afrikaanse Musiektoekennings aangewys.
  

Op die foto verskyn vlnr.: Sakkie Kotze (Voorsitter ATKV Centurion en lid van die ATKV Direksie), Nedine Blom en Willie Wenspan.

Jennifer Zamudio kry ATKV-erkenning vir haar 10 jaar in die Afrikaanse Musiekbedryf.

Wednesday, September 1st, 2010

Jennifer was 10 jaar gelede een van die eerste sangers wat lid van die Sangersforum van ATKV Centurion geword het. Die Forum skep optree- en bekendstellingsgeleenthede vir Afrikaanse sangers en musikante met bewese talent.

Jennifer het haar “Dekade van Musiek” die week met ‘n glanskonsert in die Centurionteater gevier. Sy het die gehoor met van haar treffers deur al die jare soos o.a. “Lewe” en “Onthou jy” bekoor.

Sakkie Kotze, voorsitter van ATKV Centurion en ‘n Direksielid van die ATKV, het haar gelukgewens met die sewe Cd’s wat die afgelope 10 jaar uitgereik is en die sukses wat sy daarmee behaal het.
Hy is ook ‘n beoordelaar van die Afrikaanse Vonktoekennings en het verwys na die feit dat Jennifer verlede jaar as ‘n finalis in die kategorieë Beste Album en Beste Vroulike Kunstenaar aangewys is.
“Jy het nou inderdaad goue status met jou musiekloopbaan bereik”, het hy onder groot toejuiging van die gehoor gesê. “Jy is een van ons top Afrikaanse Vroulike Kunstenaars in Suid-Afrika met die sukseskombinasie as sanger, musikant en liedjieskrywer,” het hy bygevoeg.