Archive for August, 2010

Romanz toer saam met die Drakensbergse Seunskoor na Pretoria.

Tuesday, August 31st, 2010

ATKV Centurion nooi Pretorianers om nie hul besoek aan die Jakarandastad mis te loop nie.
Woensdag 15 September om 20:00 by NG Moreleta se ou-kampus in Rubensteinrylaan. Kaartjies by Computicket.

Die baie gewilde Afrikaanse Musiekgroep Romanz snoer in September kragte saam met die internasionaalbekende Drakensberge Seunskoor, toer deur die land en tree Woensdag15 September ook in Pretoria op.
“Hierdie kombinasie gaan sorg vir ‘n musiekervaring soos min” sê Sakkie Kotze van ATKV Centurion en Direksielid van die ATKV. Hy is ook ‘n beoordelaar van die Rapport Vonk Afrikaanse Musiektoekennings en is in sy noppies met hul aankondiging dat Romanz as finaliste aangewys is in die kategorie: Album van die Jaar.
Die groep is skaars twee jaar oud, maar is vinnig besig om een van die gewildste “boybands” te word. Hulle is in 2009 met ‘n Tempo-toekenning bekroon as beste nuweling op die musiektoneel.
Hul debuutalbum het in minder as ‘n jaar platinumstatus bereik met verkope van meer as 40000. Hulle het ook vroeër vanjaar ‘n christenalbum vrygestel en is ook genooi na Skouspel later vanjaar. Voorwaar vier manne om dop te hou…!!!

Die Drakensbergse Seunskoor is die enigste koorskool in Afrika en is in 1967 gestig.
Altesaam 100 seuns word in die skilderagtige bergmooi omgewing van die Drakensberge onderrig.
Die Drakies, soos hulle in die omgang bekend is, het al by die Huisgenoot Skouspel van 2007 opgetree en het ook al saam met Luciano Pavarotti gesing tydens sy Suid-Afrikaanse besoek in 2005.
Die koor het al in die VSA, Europa, Japan, China, Taiwan, Hong Kong, Mauritius en talle Afrikalande opgetree.

ATKV Centurion se Slimwordtassie vir kinders lok groot belangstelling.

Sunday, August 29th, 2010

Die opvoeding van kinders was vanjaar die tema van ATKV Centurion se Tiende Vaardigheidsekspo.
Dit is ‘n uitvloeisel van die Onderwys as tema tydens vanjaar se AJV van die ATKV. Daar is besin oor maniere waarop die ATKV Hoofkantoor en -takke ondersteuning kan gee met die oplos van probleme in die onderwys in ons land.
ATKV Centurion is van mening dat ons ouers moet help om hul kinders te help en het toe die inisiatief geneem deur tydens vanjaar se Tiende Vaardigheidsekspo by die T-skou op kinders te fokus.

“My Slimwordtassie”is ook onder blyke van groot belangstelling by die Vaardigheidsekspo bekend gestel.
Die tassie is ‘n “Saamwees- en ‘n “Saamwerkstassie” tussen ouer en kind.
In die tassie is daar nie die tradisionele liniaal, potloodskerpmaker, uitveër, sakrekenaar, pen en papier nie, maar verskeie tuisgemaakte apparaat om die kind se kreatiwiteit, denk- en vaardigheidsontwikkeling te stimuleer.
Op die foto maak vlnr. Cornelia Havenga en Beatrice Kotze van ATKV Centurion, drie van die kinders wat by die bekendstelling was, touwys in die gebruik van die Slimwordtassie. Hulle is vlnr.: Nicolene Willemse, en twee niggies Karlien en Marinda Duvenhage.

Verskeie rolspelers wat fokus op kinders.
Verskeie rolspelers in die opvoeding van kinders neem aan die Kinderekspo deel – van opvoedkundige speelgoed, kinderboeke, kindermusiek tot by kindervermaak, kinderteater en ‘n modeparade vir klein mensies.

Ouerleiding.
Daar is ook ruim geleentheid vir ouers om tydens die Ekspo by spesialisadviseurs en lede van ATKV Centurion se Ouerleidingpaneel raad en advies te kry oor verskeie aspekte van kinders grootmaak soos o.a. beter kommunikasie met my kind, identifisering van talente en tekortkominge by my kind, ontwikkeling van denke, kreatiwiteit en vaardighede by my kind en “wanneer is my kind skoolgereed”.

ATKV Centurion nooi ATKV-lede, ouers en hul kinders na ons:

Friday, August 20th, 2010

Tiende Vaardigheidsekspo by die Pretoriaskou fokus vanjaar op die opvoeding van kinders.
‘n Slimwordtassie vir kinders word bekendgestel.
Biokinetika-demonstrasie deur kinders.
Ons kinders is ons toekoms…!!!
Kinders moet gesien EN gehoor word.
Kinders grootmaak is nie vir sissies nie…!!!

Vr. 27 Aug. tot So. 5 Sept. in Saal G (oorkant die Arenapawiljoen)
Uitstalling van: Kinderkreatiwiteit, -vaardighede en -biokinetika, kinderkarakters, -speelgoed, -Cd’s, -musiekvideos. Inligting oor: Vermiste kinders, dwelmverslaafde kinders, kinderverwaarlosing, -molestering, en -verkragting. Bekendstelling van: LAPA Kinderboeke, ATKV-projekte, -oorde en -lidmaatskap.

Kinderverhoog (Saterdae en Sondae 11:00 – 13:00)
Kindersterre, poppekas, kulkunsies, marionette, narre en ‘n Modeparade deur klein mensies. Gaskunstenaars: Gert van Tonder, Willie en die Wenspan, Melanie Steenkamp, Die Goggatjies, Daisy en die Kokkelollies.

Ouerleiding (Saterdae 13:00 – 15:30)
Spesialisadviseurs gesels oor o.a.
  Breingimnastiek en denkontwikkeling.
  My kind se bewegingsvaardighede.
  Beter kommunikasie met my kind.
  Ouers, kinders en christenwees.
  My kind se skoolgereedheid.
  Ouers, sit aan die TV…!!!

Navrae: Sakkie Kotze 082 925 1488

ATKV Postmatriek Fietstoergroep van Drakensville word by die Fonteinesirkel ontvang.

Friday, August 6th, 2010

Studente wat vanjaar die Postmatriekkursus by die ATKV se Jeuginstituut by die ATKV-oord Drakensville bywoon, het sopas ‘n fietstoer deur die noordelike dele van ons land voltooi.

Hulle het die sneeubedekte Drakensberge meer as twee weke gelede verlaat en na meer as ‘n duisend kilometers se getrap, in Pretoria aangekom waar hul gasheer Sakkie Kotze (voorsitter van ATKV Centurion en lid van die ATKV Direksie) hulle by die Fonteinesirkel ingewag het.

Hulle het verskeie skole in Pretoria besoek om aan matrieks van hul wedervaringe dusver op die Postmatriekkursus te vertel.

Die kursus sluit o.a. persoonlike ontwikkeling, leierskap-, kommunikasie- en bestuursvaardighede, loopbaan- en finansiële beplanning, entrepreneurskap en besigheidsbestuur in.

Blootstelling aan ‘n wye verskeidenheid geakkrediteerde ekotoerisme- en avontuurkursusse soos o.a. bergfietsry, lewensredding, noodhulp, oorlewing ens. vind ook tydens die kursus plaas.

‘n Krap maak dat die seekospotjie toe wen.

Friday, August 6th, 2010

Skaapnek-, beesstert-, hoender-, krap- en vispotjies het vanjaar teen mekaar meegeding.

Sewentien geesdriftige potjiekossmullers het vanjaar aan die Regio Kleuterskool se Potjiekoskompetisie deelgeneem.
Saterdag het die vuurtjies al vroeg begin knetter, die bykosse is voorberei, die korrekte en gepaste geurmiddels en speserye uitgepak en die tafels keurig gedek.

Die beoordelaars moes proe en weer proe, die spyskaart bekyk en die keuriggedekte potjiekostafels in ag neem.
Uiteindelik het die seekospotjie van Nic Smit en Carel Cruynauw as wenner na vore gekom.

Die krap het die ding toe gedoen.  Saam met die garnale, stokvis en inkvis (calamari) was dit ‘n wenkombinasie.
Die regte speserye soos onder andere steranys, kaneelbas, kerrie- en lourierblare het die seekossmaak verder gekomplimenteer.
Die seekospotjie was die algehele wenner en was ook eerste leeg toe die ete na die beoordeling begin het.


Op die foto staan die beoordelaars Sakkie Kotze (voorsitter ATKV Centurion en lid van die ATKV Direksie) en Elsie Calitz (skoolhoof) by Nic Smit die bobaaskok.
Agter is Chris Calitz, die organiseerder en Carel Krynauw (medewenner)