Archive for July, 2010

Petronel saam met drie Afrikaanse musiekikone op die verhoog.

Monday, July 26th, 2010

ATKV Centurion Sangers- en Musiekforum

Nico Carstens

Nico Carstens het as dertienjarige tienerseun ‘n 48 bastrekklavier by sy pa as verjaarsdaggeskenk gekry.
Hy is sedert 1945 al voltyds musikant toe Hendrik Susan hom in sy orkes opgeneem het. Later het hy met sy eie orkes die “Uitsaaiboereorkes” en nog later die “Nico Carstensorkes” begin. Nico het al in bykans elke dorp en stad in Suid-Afrika en ook in Duitsland en Frankryk opgetree. Hy het in altesaam 12 Afrikaanse flieks gespeel – die eerste fliek in 1948 “Kom saam vanaand” en die twaalfde een in 1975 “Oliekolonie. Hy het In 1963 ook die temamusiek in “Kimberley Jim” gekomponeer. Nico het al bykans eenduisend gepubliseerde liedjies gekomponeer. Van sy komposisies het wêreldtreffers geword. “Zambezi” is al deur 56 orkeste wêreldwyd opgeneem, onder andere Bert Kaempfert, Eddy Calvert en The Shadows. “Zambezi was vir meer as ses agtereenvolgende weke in die tweede plek op die Treffersparade van Brittanje en die Europese Vasteland. Die “Klokkiewals” is in Los Angeles opgeneem terwyl “Circus Polka” en “Impi Zulu” Top 20-treffers in Frankryk was. Nico het tussen 1953 en 1957 alreeds sy eerste miljoen plate verkoop. Hy het nou al 100 kommersiële albums laat verskyn en in totaal meer as twee miljoen plate verkoop.
Nico het benewens baie ander radio-optredes, in verskeie gereelde radiojoernaal- en vermaakprogramme opgetee onder andere: “Stadig oor die Klippe”, “Kannieklanie”, “Blou Maandag”, “Maak ‘n Las” en “Spies en Plessis”. Hy het ook 30 langspelers en 64 transkripsie-opnames vir die SAUK gemaak. Nico het reeds 7 Sarietoekennings, ‘n KKNK-, SAMA- en Huisgenoottoekenning ontvang. ‘n Gedenkalbum “Lewenslied” is ook deur sy Platemaatskappy Gallo uitgereik uit dankbaarheid vir sy lewenslange musiekbydrae.
Nico Carstens is ‘n wêreldbekende Suid-Afrikaanse ikoon en musikant wat ons nog steeds met sy eie unieke musiekkomposisies en trekklavierspel bekoor. Nico Carstens het ‘n legende in sy eie leeftyd geword.
Ons vereer vanaand vir Nico Carstens vir die bevordering van Afrikaanse musiek oor ‘n tydperk van meer as 65 jaar.

Albie Louw

Albie Louw het al as twaalfjarige vir sy onderwyser Philip McClachlin gehelp met kooroefening en klavierbegeleiding by sy alma mater Hoër Jongenskool Stellenbosch (vandag Paul Roos Gimnasium). Hy het daar ook vir sy skoolmaats met sy orkes “Suikerbossie” musiek gemaak. Albie het op skool al die een na die ander Unisa Klaviereksamen geslaag.
Albie is al vir baie jare ‘n voltydse musikant met vele talente – ‘n pianis, komponis, opera- en operettesanger. Hy het vir baie jare vir KRUIK (Kaaplandse Raad vir die Uitvoerende Kunste)in verskillende rolle as pianis, opera- en operettesanger opgetree. Hy het ook die musiek van ‘n operette vir Kruik gekomponeer. Albie het destyds die hoofrol vertolk in die wêreldpremiére van die opera “Silas Marner” wat by die Universiteit van Kaapstad op die planke was. Hy het ook as klaviersolis in Gershwin se “Rhapsody in Blue” en die Klavierkonsert in F” saam met die Kaapstadse Stadsorkes opgetree.

Albie het jare gelede al ‘n orkes vir ligte musiek vir die SAUK op die been gebring. Hy was die stigter en dirigent van die baie bekende Safarisangers, het hulle op die klavier begelei en saam gesing. Die sanggroep was vir baie jare baie gewild oor die radio en op verhoë dwarsoor Suid-Afrika met hul unieke vertolking en verwerking van Afrikaanse tradisionele volksliedjies wat vandag nog steeds baie gewild is.

Albie het deur die jare verskeie landwye toere met eie optredes onderneem, maar ook vele kere saam met Gé Korsten, Nellie du Toit en Lawrence Folley as begeleier opgetree.

Hy het vier Cd’s die lig laat sien met talle eie komposisies soos onder andere: “Alleen”, “Oujaarsdrome”,”Mymering” en “Aandskemering”, “Serenade in F” en “Die Lied van die Stilte”. Albie het ook die gedigte van Philip de Vos getoonset.

Hy het met die FAK se vyftigste bestaansjaar die Nuwe Volksangbundel met ‘n landwye konserttoer bekendgestel. Albie het ook talle musiekverwerkings vir die ATKV se gewilde jaarlikse Applous Koorkompetisie gedoen.

Albie bevorder nog steeds Afrikaanse ligte musiek en is vandag nog steeds bedrywig met optredes veral in die Weskaap.

Hy is ‘n Suid-Afrikaanse ikoon, musikant en sanger wat ons nog steeds ons met sy unieke komposisies, verwerkings, sang en klavierspel bekoor. Albie Louw het ‘n legende in sy eie leeftyd geword. Ons vereer vanaand vir Albie Louw vir die bevordering van Afrikaanse musiek oor ‘n tydperk van meer as 65 jaar.

Min Shaw

Min Shaw het in die Wesrand grootgeword en bly vandag nog steeds daar. Sy het op skool as sesjarige al “Die Spinnekop” gesing en daarna menige kunswedstryde gewen, aan operettes en skoolkonserte deelgeneem.

Sy was op haar dag die grootste ster in Suid-Afrika met die een trefferplaat na die ander. Met rolle in van die gewildste Afrikaanse flieks ooit, soos onder andere “Hoor my Lied” en “Lied in my hart” saam met Gé Korsten, asook “Jy is my Liefling” en “Die Danie Bosmanstorie” saam met Frans Marx, was sy ‘n huishoudelike naam. Sy het ook in die TV-reeks “Familiedae” opgetree met Frans Marx as regisseur.

Sy was eers ‘n onderwyseres voordat sy voltyds begin sing het.

Haar musiekloopbaan het ‘n groot inspuiting gekry toe sy in 1964 ‘n Sangtalentkompetisie van die destydse baie gewilde LM Radio gewen het. Glenis Lynn het die tweede plek verower. Haar eerste Solo Sewe “Kleine Nagtegaal” is in 1966 vrygestel. Kort daarna volg ‘n hele rits langspelers onder andere “Nooi soos min”, “Die Laaste Wals”, “Blonde Visserman” ens.

Min Shaw en Gert van Tonder het ook baie saam opgetree. Sy en Lance James se stemme het baie goed harmonieer en het hulle vir baie jare baie suksesvolle optredes en toere deur die land onderneem. Hulle is met ‘n Sarietoekenning bekroon. Sy het ook vele konserttoere saam met Fanus Rautenbach en Dana Niehaus onderneem.

Alhoewel sy vandag nog steeds ligte Afrikaanse liedjies sing, het sy in 1973 as’t ware die ligte Afrikaanse Musiekaflosstokkie aan Carika Keuzenkamp en Sonja Heroldt oorhandig en voltyds op Afrikaanse Christenmusiek begin konsentreer.

Haar eerste album “Ek wandel met Hom” het in dieselfde jaar verskyn en daarna sou nog 20 albums volg waarvoor sy goue, platinum en dubbele platinumtoekennings gekry het. Van haar suksesvolste bedieningsliedjiedjies sluit onder andere in: “Saggies en teer…”, “Deurgedra” en “Ek het die stem gehoor”

Die minsame Min is nog steeds ‘n suksesvolle verhoogkunstenaar en ikoon. Sy bekoor die gehoor nog steeds met haar mooi stem, sprankelende persoonlikheid, outydse glorie en eietydse sjarme. Min Shaw het ‘n legende in haar eie leeftyd geword.

Ons vereer vanaand vir Min Shaw vir die bevordering van Afrikaanse ligte musiek en Christenmusiek oor ‘n tydperk van meer as 50 jaar.

ATKV Centurion bied aan:

Friday, July 2nd, 2010

ATKV Crescendowenner Petronel en bekende kunstenaars saam op die verhoog.

Wanneer:    Maandag 26 Julie
Waar:          Centurionteater
Tyd:             20:00

Petronel stel haar vierde Cd “Vonnie” Maandag 26 Julie om 20:00 in die Centurionteater bekend.

Haar eerste Cd “Hangers in ‘n kas” was deel van die wenprys wat sy as ATKV Crescendowenner ontvang het.

Sy sing die 26e Julie in die Centurionteater van haar eie lirieke soos onder andere “Vonnie” die titelsnit, “By die see”, “Weergaloos”, “Voluit mens”en “Mooier as ooit”terwyl sy deur die bekende musikante Albie Louw op klavier, Wouter Van De Venter en Deon du Toit (albei kitaar) en die wêreldbekende Nico Carstens op trekklavier begelei word.

Die altyd minlike Min Shaw is terug op die verhoog en sing saam met Petronel onder andere die baie bekende nostalgiese liedjies “Jy is my Liefling” en “Eiland van ons liefde”

Dit beloof ‘n genotvolle aand vol outydse sjarme, nostalgie en eietydse vonkel te wees.

Kaartjies is by Computicket beskikbaar.

Navrae: Sakkie Kotze    082 925 1488
Pieter de Wet   082 854 2225    Asante Records (pjdewet(by)mweb.co.za)