Archive for October, 2009

Vyf en twintigduisend besoekers is sedert 1 Januarie 2009 op ons webwerf aangeteken.

Wednesday, October 28th, 2009

ATKV Centurion het reeds 3 jaar gelede met ‘n eie webwerf begin, maar het eers aan die begin van hierdie jaar begin rekord hou van hoeveel persone daagliks, weekliks en maandeliks die webwerf besoek.
Die 25,000e besoeker op ons webwerf hierdie jaar, is op Vrydag 22 Oktober aangeteken.

Die tak bestaan vanjaar alreeds vir 15 jaar. Al ons aktiwiteite van die afgelope drie jaar word op die webwerf weerspieël.

Al ons aktiwiteite word deur ondergenoemde missie gerig:
Ons bewaar en vertroetel ons eie taal- en kultuurerfenis.
Ons respekteer al die taal- en kultuurgroepe in ons land.
Ons identifiseer en bevorder sang- en musiektalent.
Ons plaas ‘n hoë premie op ‘n gesonde gesinslewe.
Ons onderskryf die christelike geloof.
Ons rus jeugleiers toe vir hul taak.
Ons bemagtig die stukkende kind.
Ons is positief oor die toekoms.
Ons gee om vir arm mense.
Ons ondersteun bejaardes.
Ons maak ‘n verskil.

Janita Claassen postuum met ‘n Vonktoekenning vereer.

Monday, October 26th, 2009

Janita Claassen is Maandagaand 26 Oktober in Benoni tydens die jaarlikse Rapport Vonk Afrikaanse Musiektoekennings postuum met ‘n Eretoekenning vereer. Laurika Rauch, ‘n jarelange vriendin en kunstenaarskollega van Janita, het by die geleentheid ‘n huldeblyk gelewer.
Janita se twee kinders Danie en Hannelie het die toekenning namens hul ma ontvang.

Janita het 18 baie suksesvolle albums uitgereik. Sy en Manuel Escorcio het 21 jaar lank saam in 350 konserte landwyd opgetree. “Feestyd se wysie” was maar een van hul talle treffers. Benewens haar eie trefferlirieke soos o.a. “Rolbos” , “Meisiekind” en “My Danklied” is talle ander deur die gevierde liriekskrywer Baps Pretorius geskryf. Baps is vroeër vanjaar in die ouderdom van 77 jaar in Pretoria oorlede.

Janita was vir baie jare lank tot en met haar dood ‘n inwoner van Centurion en lid van ATKV Centurion se Sangersforum. Sy is verlede jaar ook tydens ATKV Centurion se Eeufeesviering van die dorp Lyttelton/Verwoerdburgstad/Centurion postuum vereer.
Sy, Manuel Escorcio en Baps Pretorius is aldrie in 2004 individueel, maar ook as trilogie deur ATKV Centurion vereer vir die bevordering van Afrikaanse musiek en liriek.

Janita het vir 10 jaar lank teen kanker geveg maar is in haar eie woorde “gespaar” om haar dogter Hannelie se troue te beleef en nog later ouma van ‘n tweeling te word. Die doopplegtigheid het by haar hospitaalbed plaasgevind. Sy is op 24 Oktober 2005 oorlede.


Op die foto is vlnr.: Sakkie Kotze (een van die Vonkbeoordelaars en voorsitter van ATKV Centurion) Hannelie en Danie.

Lewensvreugde

Tuesday, October 13th, 2009

Afrikaanse Skryfkompetisie Pryswennerskonsert

Maandag 2 November om 19:00 by

NG-gemeente Lynnwoodrif

Program

Gewyde opening
Toekenning aan die skryfster Ester Steyn vir haar jongste publikasie:

Kinderkrag – gee jou kind vlerke…!!!

Bekendmaking van wenners van Afrikaanse Skryfkompetisie

Tema: Lewensvreugde

Gaskunstenaars:

Voordrag van wenprosa, en wenpoësie

deur stemkunstenaars: Mariëtte en Anton Engelen (SAUK)

ATKV Centurionsangers en -musikante

Duet: George Linde (tenoor) en Yvonne Lombaard (sopraan)

Rache Smit (pianis)

Nylstroom Mannekoor o.l.v. Santie Vanrenen-Henn

Toegang: silwerkollekte

Irene Konsentrasiekampkerkhof

Sunday, October 11th, 2009

Blomgerwe en kranse vir kinders en vrouens wat tydens die Anglo-Boereoorlog by Irene Konsentrasiekampkerkhof begrawe is.

Meer as vyfhonderd mense het Sondagoggend 11 Oktober 2009 met sonsopkoms die jaarlikse Kranslegging by die Irene Konsentrasiekampkerkhof bygewoon.
Kranse en blomgerwe is in die Gedenktuin en by die Gedenkmuur ter nagedagtenis van die meer as 2,200 kinders en volwassenes wat tydens die Anglo-Boereoorlog (1899-1902) daar gesterf het, geplaas.
“Die Doringboompie” en “Die Seepkissie” was die tema van vanjaar se Huldigingsprogram o.l.v. dr. Dioné Prinsloo.

Verteenwoordigers van ‘n Rekordgetal van 13 Nasionale Organisasies o.a. die Afrikanerbond, Dameskring, Gryskrag en die SAVF, is vanjaar by die Kranslegging verteenwoordig asook die wat op die foto verskyn.
Vlnr. Mnr. Flip Buys (Solidariteit) genl. Gert Opperman (Voortrekkermonument) Willem Scholtz (Voortrekkers) dr. Willem Cruywagen (Erfenisstigting) Lizbe Barnard (Dames Aktueel) dr. Dioné Prinsloo (Afrikaanse Taalraad) Lynette van der Merwe (FAK) dr. Rentia Landman (Stadsraad) Chris Calitz  (Rapportryers) en Sakkie Kotze (ATKV)

Die Irene Konsentrasiekampkerkhof is vandag ‘n Nasionale Gedenkwaardigheid onder beskerming van die Erfenis Hulpbronne Agentskap. Dit vorm ook deel van die Erfenisroete en word gereeld deur Suid-Afrikaners en oorsese toeriste besoek.
‘n Plakket waarop die kerngeskiedenis van die Konsentrasiekampkerkhof te lees is, is in 1999 daar aangebring en deur ATKV Centurion geborg. Sedertdien vervul dit ‘n baie belangrike historieskorrekte inligtingsbron vir besoekers.

Die stigting van die Suid-Afrikaanse Vrouefederasie (SAVF) en die Zuid Afrikaanse Hospitaal in Pretoria in 1904, is albei direkte uitvloeisels van die mediese versorging en welsynswerk wat in die Irene Konsentrasiekamp gedoen is.
Die SAVF en die ZA Hospitaal is in 2004 met hul 100e bestaansviering, deur ATKV Centurion vereer vir gehaltediens wat vandag nog steeds met ‘n passie aan die gemeenskap en in wyer kring gelewer word.

Ongeveer 4,000 vrouens en 23,000 kinders het in een van die 130 kampe, wat tydens die oorlog deur die Britse Militêre Owerheid ingerig is, gesterf. Die kampe was geleë in die twee Boererepublieke Transvaal (ZAR) en die Oranje Vrystaat.
‘n Tweede speelvak van “Ons vir Jou”, ‘n unieke multigenre verhoogproduksie oor die Anglo Boereoorlog o.l.v. die regisseur Deon Opperman, is onlangs in Pretoria voltooi. Meer as vyftigduisend mense het hierdie unieke produksie in die Staatsteater bygewoon.

Jeuglede van ATKV Centurion wag vir die teken om die ballonne met foto’s van vermistes los te laat.

Saturday, October 3rd, 2009

Ons gee om vir vermiste kinders en volwassenes in Suid-Afrika

Saturday, October 3rd, 2009

ATKV Centurion het Saterdag in samewerking met Supt. Fanie van Deventer van die SAPD se Buro vir vermiste persone, ballonne met vermistes se foto’s daarop tydens ‘n Omgee-aksie in Kerkstraat-Wes Pretoria, die lug ingestuur.

Daar word tans 499 kinders en 1,360 volwassenes in Suid-Afrika vermis.

Sakkie Kotze, voorsitter van ATKV Centurion het ‘n beroep op die publiek gedoen om hul “Ons gee om” -aksie te ondersteun en op die uitkyk te wees vir die ballonne en kinders en volwassenes wat positief met die foto’s geidentifiseer kan word, by die naaste SAPD-stasie aan te meld.
Kinders en volwassenes wat aangerand, gemolesteer, ontvoer, vereensaam, verkrag, verwaarloos, werkloos is en verwerp voel, kan ook onder dié baie mense tel wat tans vermis word. Ons bid vir hulle, hul gesinslede, familie en vriende.

Op die foto word daar gereed gemaak vir die loslaat van die baie ballonne.
Voor staan Sakkie Kotze (links) en Supt. Fanie van Deventer

“Goue Korrels”Nuwe Afrikaanse Sangbundel met 273 Afrikaanse liedjies is deur die ATKV geborg.

Saturday, October 3rd, 2009

“Goue Korrels” die tweede omvangryke Afrikaanse Sangbundel van die Afrikaanse Volksang en Volkspelebeweging is deur die ATKV geborg.
Die pragbundel bestaan uit 273 Afrikaanse liedjies wat strek van Gewyde Christen-, Vaderlands-, Liefdes-, Dank- en Afskeidsliedere tot Lekkersing-, Stap- Mars-, Kampvuur- en Verlangliedjies.

Die vorige omvangryke Sangbundel van die Beweging “Goue Gerf” in 1970, was ook ‘n groot treffer en is hoofsaaklik as verwerkings vir kooruitvoerings gebruik.


Op die foto ontvang Sakkie Kotze, namens die Direksie van die ATKV, die eerste eksemplaar van die Bundel van Mnr. Hansie le Roux, Voorsitter van die Nasionale Raad vir Volksang en Volkspele. Die Bekendstellingsfunksie het die afgelope naweek in Bloemfontein plaasgevind.

Sakkie het die Volksang en Volkspelebeweging namens die ATKV geluk gewens met die gehalte en samestelling van die Pragbundel en die hoop uitgespreek dat skole, kerke, ATKV-lede en ATKV-takke en ander Kultuurorganisasies die Sangbundel sal aanskaf om ook tydens skool-, kerk- en ander groepsamekomste gesellig saam te sing. (Bestel jou kopie by (011) 827 8538)
“Ons kan baie by die Walliesers leer as dit kom by samesang tydens sport-, kultuur- en ander samekomste, het hy onder andere gesê”.