Archive for September, 2009

Kultuurerfenistoer deur Suid-Afrika eindig luisterryk op Erfenisdag in Pretoria

Monday, September 28th, 2009

‘n Kultuurerfenistoer deur Suid-Afrika o.l.v. Johan de Beer, bestaande uit Volksdansgroepe van die Afrikaners (Volkspelers),
Duitsers, Belge en Vlaminge het luisterryk op Erfenisdag in Pretoria ten einde geloop.

Die toergroep het onder andere in George, Stilbaai, Kaapstad, Bethlehem, Bloemfontein en Boksburg opgetree en gehore
met hul unieke kultuureie tradisionele drag, passies, musiek en liriek trakteer. Beesvelgooi deur die Volkspelers het
gehore ook weer na hul asems laat snik. Die niggie op die beesvel wat deur die neefs die lug ingegooi is, het darem
net die plafon van die saal geraak en nie ‘n deurbraak gemaak nie…!!!

Die ATKV Centurion het by ‘n vorige geleentheid erkenning verleen aan mnre. Hansie le Roux (huidige voorsitter van
SA Volksang en Volkspele en twee vorige voorsitters Duimpie Strydom en Steve van der Merwe vir die bevordering van
die Afriaanse taal en kultuur d.m.v. volksang en volkspele.
By dieselfde funksie is daar ook aan Ursula Brenner (leier van die Duitse Volksdansgroep) erkenning verleen vir haar
jarelange ywer en sukses om interkulturele kontak tussen die Duitsers en Afrikaners te bewerkstellig. Sy was weer
vanjaar leier van die Duitse Volksdansgroep se besoek aan Suid-Afrika.

Volksang en Volkspele het onder andere ook deel uitgemaak van die ATKV Centurion se “Ons passie vir Afrikanerpassies,
-musiek en -liriekprogram” wat vroeër vanjaar by die Voortrekkermonument aangebied is en gelei het tot ‘n uitnodiging deur die
SAUK om op hul verhoog by die tiendaelange KKNK op te tree. Die program is ook met groot sukses tydens die onlangse
ATKV Kongres by Buffelspoort herhaal.

Op die foto verskyn vlnr. Anton van Vollenhoven (Volkspele Wyksbondvoorsitter) Ursula Brenner (Duitse Volksdansgroepleier)
Els Devriendt en Joris van Raemdonck (Belgiese/Vlaandere Volksdansgroepleiers).
Agter staan Sakkie Kotze (ATKV Centurion) en Johan de Beer (Gasheer en Toerleier namens Volkspele SA)

Beesvelgooi tydens afsluiting van landwye Erfenistoer op Erfenisdag in Pretoria

Monday, September 28th, 2009

Die toergroep het uit Afrikaners (Volkspelers), Duitse en Belgies/Vlaandere Volksdansgroepe bestaan.


Op die foto word ‘n niggie deur die Volkspelers die lig ingegooi. Sy het darem net die plafon geraak en nie ‘n deurbraak gemaak nie.

Steyn Fourie, Lid van ons Sangers- en Musiekforum word vir sy unieke Kinderbediening vereer.

Friday, September 25th, 2009

Ons loop reeds sedert 2004 ‘n pad met Steyn Fourie as Forumlid toe ons besoeke aan Laerskole landwyd gereël het waar hy kinders met sy unieke aanbieding van die XG-musiekprogram kon inlig oor Christelike norme en waardes.

Die program is opgevolg met nog ‘n unieke 10FM-musiekprogram waar die Tien Gebooie sing-sing, hip-hop en interaktief aan kinders bekend gestel word.

Bykans 340,000 kinders is al op die wyse by meer as 420 skole landwyd met hierdie christenprogramme bedien.

Ons kan met dankbaarheid getuig van die terugvoering wat van kinders en hul ouers asook skoolhoofde en onderwysers oor die impak van die program op die kinders, met Steyn en LuRiNa se unieke aanbiedingswyse ontvang word.

Hy tree ook tydens Aardklop by die ATKV-verhoog op.


Op die foto wens Sakkie Kotze (Voorsitter) hom geluk met die oorhandiging van ‘n oorkonde.

Andre van Dyk deur ATKV Centurion vir die bevordering van die Afrikaanse taal- en kultuur d.m.v. sy klank- en beligtingsregisseurswerk vereer.

Wednesday, September 9th, 2009

Andre van Dyk is ‘n stigterslid van ATKV Centurion Sangers- en Musiekforum.

Hy het in 1999 saam met ons sangers en musikante ‘n konserttoer na Hartenbos onderneem en vanaf Pretoria elke aand ‘n ander dorp op die roete op horings geneem met kwaliteitsangers, -musikante -klank en ‘n puik klankregisseur.
Die hoogtepunt was ons Oukersaand- en Oujaarsaandprogram in die Amfiteater op Hartenbos.
Sedertdien hanteer Andre nog elke jaar die klank- en beligting tydens al die Desemberkonserte op Hartenbos, ook periodiek by ander ATKV-oorde en ATKV-Hoofkantoorprojekte.

Andre is vroeër vanjaar in ‘n motorongeluk, oppad huistoe na ‘n konsert, ernstig beseer en is sedertdien in ‘n rolstoel.
Die Vriende vir ‘n Vriend-konsert wat vir Matthys Roets aangebied is, is ook die afgelope naweek vir Andre in die Aula gereël.

Hy hanteer al vir baie jare ook die klank- en beligting vir Anneli van Rooyen en baie ander bekende sangers.
Anneli het tydens die ”Vriende vir ‘n Vriend-konsert” wat die afgelope naweek in die Aula vir Andre aangebied is, verwys na die baie belangrike gehalte-ondersteuning wat hy as klankingenieur aan sangers en musikante op die verhoog bied. Sy het aangekondig dat as sy weer reg is vir die verhoog, Andre weer as haar klank- en beligtingsregisseur gaan optree.

Bekende sangers soos o.a. Hennie Smit, Pieter Koen, Pieter Smith, Steve Hofmeyr, Theuns Jordaan, Kevin Leo, Sunette Bridges, Arina de Witt en Matthys Roets, vandag self ook in ‘n rolstoel, het in die fondsinsamelingskonsert ter ere van Andre opgetree.

Sakkie Kotze het by die geleentheid aan Andre hulde gebring vir die kwaliteitwaarde wat hy tot verhoogkunstenaars se sukses toevoeg met sy puik regisseurswerk. Hy het ook al die kunstenaars bedank vir die hand van vriendskap en ondersteuning wat hulle aan medekunstenaars, verhoog- klank en beligtingstegnici en -regisseurs bied. Dit is ‘n baie mooi gebaar. Daar is ‘n neiging om hulle wat die kunstenaar op die verhoog nog beter te laat lyk en klink te vergeet.


Op die foto oorhandig hy die oorkonde aan Andre.

Van die ATKV Centurion Forumsangers sing ons nuwe Afrikaanse Sokkerliedjie by die Klofiefees.

Tuesday, September 8th, 2009

Voor vlnr.   Gunther Muller en Rochelle van der Merwe
Agter vlnr.: Louis Myburg en Tiaan Grundling

Nuwe Afrikaanse Sokkerliedjie ”Twintig Tien”

Tuesday, September 8th, 2009

Bejaarde liriekskrywer word deur ATKV Centurion vir haar nuwe Afrikaanse Sokkerliedjie vereer.

‘n Pensioenaris en lid van ATKV Centurion se Sangers en Musiekforum, word vereer vir haar nuwe Afrikaanse Sokkerliedjie ”Twintig Tien”

Thea de Kock het, as lid van ons Sangers- en Musiekforum, die voortou geneem en Afrikaanse lirieke geskryf vir die 2010 Wêreldbeker Sokker.
Die liedjie is tydens die Pretoriaskou aan sokkerspelers bekend gestel en voorgesing deur van ons Forumsangers en -musikante.
Die traporrel, konsertina, viool en ‘n saag is as musiekinstrumente gebruik.
Die wysie: ”Sarie Marais” –  ‘n liedjie en ‘n wysie waarmee die Afrikaner en Afrikaanssprekende dwarsoor die wêreld mee geassossieer word.

Die liedjie word binnekort op ‘n Cd opgeneem en ‘n kopie daarvan sal aan al die Radiostasies in Suid-Afrika, en stamlande Nederland, België, en Duitsland gestuur word.

Vertaling van die liedjie in al ons ander amptelike landstale, word tans ondersoek.


Op die foto ontvang sy ‘n oorkonde van Sakkie Kotze.

Tagtigjarige skilder deur ATKV Centurion by Pretoriaskou vereer. Skilder sonder hande ook daar

Friday, September 4th, 2009

Merkwaardige, beskeie en bejaarde skilder is Vrydag 4 September deur die ATKV by die Pretoriaskou vereer.

Sy het op 80-jarige ouderdom vir die eerste keer van haar kunswerke by

ATKV Centurion se Vaardigheidsekspo by die Pretoria Skou aan die publiek vertoon.

Rina de Villiers het diplomas in Onderwys- en Museumstudies verwerf, ‘n graad in die Kunste, ‘n Honneursgraad in Kultuurstudies en op 69 jarige ouderdom ‘n Meestersgraad oor J.H. Pierneef met lof verwerf.
Sy was eers onderwyser. Daarna was sy baie jare aan verskeie museums soos die Pretoria Kunsmuseum en Nasionale Kultuurhistoriese Museum verbonde waar sy onder andere gidse opgelei het en later as kurator menigte kunsuitstallings gereël en aangebied het – uit beskeidenheid altyd sonder haar eie unieke kunswerke.

Sy vertoon vanjaar op tagtigjarige ouderdom vir die eerste keer van haar kunswerke aan die publiek by die ATKV Centurion se Vaardigheidsekspo by die Pretoriaskou in Saal H.
‘n Groter verskeidenheid van haar meer as 300 kunswerke is nog tot Sondag 20 September by die Nasionale Kultuurhistoriese Museum in Skinnerstraat in Pretoria te sien.
Sy is vandag rolstoelgebonde en is Vrydag 4 September deur die ATKV by die Pretoriaskou vereer.

Zithulele Dlamini, nog ‘n ander kunstenaar wat drie jaar gelede ook by die Pretoriaskou deur ons vereer is, is sedertdien elke jaar deel van ons Vaardigheidsekspo, Sy grootste begeerte is om ‘n bestuurderslisensie te bekom.
Hy is sonder hande gebore en sy unieke kunswerke is ook by die Vaardigheidsekspo te sien.

Gestremde leerders van Transoranje Skool vir Dowes, Prinshofskool vir Blindes, die Sonitusskool en Via Novaskool se handewerk is ook by die ATKV Centurion se Vaardigheidsekspo,  wat vanjaar op die vaardighede van gestremdes fokus, in Saal H te sien.

ATKV Centurion het ook Vrydag 4 September ‘n Loslitdagprogram ten bate van gestremdes, namens en in samewerking met die Pretoriaskou, by die ABSA Inligtingstoring aangebied.

Sport was vanjaar die tema van Loslitdag ten bate van gestremdes
Uitstallers en Skoubesoekers is genooi om die Skou in sportdrag te besoek en hul Loslitkaartjie by ATKV Centurion se Vaardigheidsekspo in Saal H te kom koop.

Die Loslitdagprogram het uit musiek-, sang- en dansitems deur gestremdes bestaan;
Toekenning aan Rina de Villiers;
Bekendstelling van ‘n nuwe Afrikaanse Sokkerliedjie waaraan gestremdes ook deelgeneem het;
en ‘n Uitstalling van Rina de Villiers, Zithulele Dlamini en gestremde leerders se handewerk in Saal H.

Sondag 6 September was Internasionale Biddag vir die Dowe en is daar om 12:00 by die Skou se Inligtingstoring ‘n program vir Dowes deur Dowes aangebied. Skougangers is ook genooi om dit by te woon.