Archive for February, 2009

Internasionale Moedertaaldag. Toppresteerder Afrikaans in Noordelike Gauteng, naaswenner in Gauteng

Wednesday, February 25th, 2009

ATKV Centurion het as deel van Internasionale Moedertaaldag erkenning verleen aan verlede jaar se matrieks in hul moedertaal.

Neil van Heerden het verlede jaar by die Afrikaanse Hoër Seunskool matrikuleer.
Hy was eerste in Noordelike Gauteng en tweede in Gauteng in die vak Afrikaans – sy moedertaal.
Hy het verlede jaar aan die Nasionale Afrikaans Olimpiade deelgeneem en is as naaswenner aangewys. In Gauteng was hy die algehele wenner.

Op die foto word hy deur Sakkie Kotze, voorsitter van ATKV Centurion gelukgewens.

Ons is trots op jou taal

Saturday, February 21st, 2009

Die ATKV Centurion het, met die oog op Internasionale Moedertaaldag, gelukwense en erkenning verleen aan die Gr. 12 moedertaal-toppresteerders in Noordelike Gauteng. Dit sluit die gebied van Halfweghuis/Olifantsfontein in die suide tot Hammanskraal in die noorde, Atteridgeville in die weste tot Bronkhorstspruit in die ooste in.

Vier van die Gauteng-toppresteerders in hul moedertaal het ‘n verdere prestasie behaal deur as blinde of dowe matriek deur medium braille of gebaretaal te skryf nl. Sarel Greyling as blinde van Prinshofskool (Afrikaans), Calvin Botha ook van Prinshofskool (English) en Sarah Machaba van Philadelphia School in Soshanguve (Sepedi). Dewald Naude van Transoranje Skool vir Dowes was weer die Gauteng-toppresteerder deur medium gebaretaal (Afrikaans)

Drie van die ander Toppresteerders was ook die Toppresteerder in Gauteng nl. Sipho Mahlangu van Mahlenga H/s in Bronkhorstspruit (Isindebele) , Simelani Nontsikelelo van Cornerstone College in Mamelodi (Siswati) en Peter Sithole van Lethabong H/s in Soshanguve.

Nog drie ander Toppresteerders het ook die tweede plek in Gautengprovinsie behaal nl. Neil van Heerden van Afrikaanse Hoër Seunskool in Pretoria (Afrikaans), Laura de Lange van Sutherland H/s in Centurion (English) en Aron Mohale van Reitumetse H/s in Soshanguve (Xitsonga). Ndou Portia van Ribane Laka H/s in Mamelodi het ook die derde plek in Gauteng verower vir prestasie in sy moedertaal Tshivenda.

Die ander Toppresteerders in Noordelike Gauteng was: Gqada Luthando van Cornerstone College in Mamelodi (Isizulu), Lerato Mofokeng van Phelindaba H/s in Atteridgeville (Sesotho) en Dipuo Lehabe van Lethabong H/s in Soshanguve (Xitsonga)

Die byeenkoms is op besonderse wyse deur twee leerders van Prinshofskool deur medium braille met skriflesing en gebed geopen terwyl ‘n onderwyser van Transoranje Skool vir Dowes deur medium gebaretaal getolk het. Die koor van Prinshofskool het as gaskunstenaars opgetree en gewyde en volksliedjies in verskillende tale gesing.

‘n Gedig deur Sakkie Kotze ”My eie Moedertaal” is in al elf amptelike landstale voorgedra. Die gedig verskyn ook in van die huidige voorgeskrewe skoolboeke.
Mnr. Sakkie Kotze, voorsitter van ATKV Centurion, het by die geleentheid gesê dat Internasionale Moedertaaldag die reg op moedertaaltrots en -onderrig beklemtoon. Trots en respek vir die eie moedertaal het meestal ook trots en respek vir ander moedertale tot gevolg. ”Dit is presies wat ons met hierdie Toekenningsfunksie wou bereik – verbeterde begrip, gesindhede en verhoudinge tussen al die taal- en kultuurgroepe in Suid-Afrika. Ons is trots op jou taal” het hy onder groot toejuiging van die Toppresteerders en die gehoor, gesê.


Op die foto verskyn vlnr.: Laura de Lange (Sutherland H/s), Gqada Luthando (Cornerstone College), Dipuo Lehabe (Vukani Mawethu H/s), Simelani Nontsikelelo (Cornerstone College), Ndou Portia (Ribane Laka H/s) en Peter Sithole (Lethabong H/s)