Archive for December, 2008

Lyttelton/Centurion Eeufeesviering feestelik op die oewer van die Hennopsrivier afgesluit.

Friday, December 12th, 2008

Rouel Beukes (akteur en sanger) en Flippie van Vuuren (musikant) vereer

Die Eeufeesviering is deur ATKV Centurion gereël en aangebied.
Vroeër vanjaar is verskeie inwoners wat al langer as 50 jaar in Centurion woon vereer. Inwoners wat op enige wyse nasionaal en internasionaal presteer het, is ook vereer. Dit sluit kabinetministers, ambassadeurs en Provinsiale Raadslede in.

Die Eeufeesviering is verlede week luisterryk op die oewer van die Hennopsrivier in Centurion afgesluit.
Presteerders wat nie by die vorige funksie was nie, is toe ook vereer.

Rouel Beukes is as akteur en sanger vereer. Hy was die eerste wenner van die eerste Crescendo Sangkompetisie van die ATKV.
Hy vertolk die hoofrol in die “Houtkruis”-produksie wat tans deur die land toer.
Hy tree ook in ‘n internasionale opera op waarvan die wêreldpremiêre sopas in Kaapstad plaasgevind het.
Rouel het vroeër vanjaar uit die buiteland teruggekeer waar hy meer as 800 optredes van “Phantom and the Opera” in verskeie lande voltooi het.
Hy het gedurende Oktober die hoofrol van genl. Kooos de la Rey in die uiters gewilde en suksesvolle produksie ”Ons vir Jou” in die Staatsteater vertolk. Bykans vyf en dertigduisend mense het dit gesien. Die produksie is volgende jaar weer terug op die planke.

Flippie van Vuuren was vir baie jare tot en met sy aftrede ‘n voltydse musikant in die Suid-Afrikaanse Weermag.
Hy was ook vir baie jare en nog steeds ‘n gewaardeerde lid van die Boeremusiekgilde van Suid-Afrika.
Hy bespeel 42 verskillende musiekinstrumente met die grootste gemak. Noem ‘n instrument en hy bespeel dit met gesag en gemak. Is dit dalk ‘n wêreldrekord. Flippie wag op die oomblik vir terugvoering van die Guiness World Book of Records.

Op die foto verkeer Rouel Beukes (links) en Flippie van Vuuren (regs) in gesellige luim nadat hulle die toekenning van Sakkie Kotze namens die inwoners ontvang het.

Lyttelton/Centurion Eeufeesjaar Centurion Stadsvaders van weleer vereer.

Friday, December 12th, 2008

Die ATKV Centurion het tydens die laaste Eeufeesprogram vanjaar, namens die inwoners hulde gebring aan drie stadsvaders van weleer.

Drs. Willy Scott en Kobie Naude was die langsdienende Stadsraadslede en mnr. Piet Geers langsdienende Stadsklerk (almal bykans 25jaar) in die eeulange munisipale geskiedenis van die Stadsraad van Lyttelton/Centurion. In die tydperk was Centurion op ‘n stadium ook bekend as die enigste stadsraad in die land wie se finansies op daardie tydstip nie in die rooi was nie.

Drs. Willy Scott en Kobie Naude was in die tydperk (1972-1997) afwisselend Burgemeester en Voorsitter van die Bestuurskomitee. Hulle was ook jare lank by gemeenskapsorganisasies soos o.a. die Sakekamer betrokke.
Hulle hou ook die rekord vir die langslopende tandartspraktyk in Lyttetlton/Centurion oor ‘n tydperk van 44 jaar tot en met hul aftrede. Die praktyk bestaan vandag nog en word deur dr. Scott se seun voortgesit.

Die drie Stadsvaders van weleer het in ‘n gesamentlike verklaring hul dank en waardering teenoor die inwoners betuig vir hul jarelange lojale ondersteuning aan die Stadsraad van weleer.

Hulle het ook die ATKV Centurion o.l.v. Sakkie Kotze bedank vir die inisiatief om vanjaar ‘n Eeufeesviering vir die dorp Lyttelton te organiseer. Die dorp het gegroei en ontwikkel tot die stad Verwoerdburg en die stad Centurion.
Vandag vorm Centurion deel van die Munisipaliteit van Tshwane.

Die drie Stadsvaders en die ATKV Centurion wens al ons inwoners ‘n misdaadvrye Geseënde Kersfees en ‘n voorspoedige Nuwejaar toe.


Op die foto verskyn vlnr. dr.Willy Scott, dr. Kobie Naude en mnr. Piet Geers.

Narrian Singh onderrig Afrikaans al vir 39 jaar by dieselfde skool.

Saturday, December 6th, 2008

Hy het sy onderwysloopbaan in 1969 by Laudium Secondary High School begin en tree vanjaar na 39 jaar by dieselfde skool af.
Narrian het al die jare net een vak daar onderrig…Afrikaans.

Tussen al die komiese gebeure gedurende sy onderwysloopbaan vertel hy van die keer toe hy jare gelede Toon van den Heever se gedig “In die Hoëveld” met die leerders moes bespreek. Hy moes toe op navraag die betekenis van die woord “tering” wat in die gedig voorkom, aan ‘n leerder verduidelik. Hy vra toe vir hulle waarvoor staan TJ ? “Johannesburg” kom die antwoord. “En TP” vra hy. ? “Pretoria” kom die antwoord. “En waarvoor staan TB”, vra hy.? “Dis ‘n nommerplaat Meneer”.

ATKV Centurion het hom by die skool gaan gelukwens en hom vir sy jarelange bevordering van Afrikaans vereer.
Sakkie Kotze, voorsitter van ATKV Centurion, het by die geleentheid gesê dat dit sekerlik ‘n SA- of wêreldrekord moet wees en dat dit die moeite werd is om dit met die Guiness World Book of Records te kontroleer.

Hy het voorts gesê dat daar groot waardering bestaan vir ouers wat hul kinders nog Afrikaans as tweede taal laat neem en skole wat die vak onder moeilike omstandighede aanbied.
Na wat verneem word, bied al die departementele en privaatskole in Laudium, Afrikaans as matriekvak aan.

Lyttelton/Centurion Eeufeesviering met ‘n omgewingsuitstappie afgesluit.

Wednesday, December 3rd, 2008

Die Eeufeesviering wat vanjaar deur ATKV Centurion georganiseer en aangebied is, is Saterdag onder blyke van groot belangstelling met ‘n besoek aan twee historiese bakens in Centurion afgesluit.

Die groep het Cornwall Hill, ‘n Britse vesting tydens die Anglo Boereoorlog, asook die vesting van die boeregeneraal Koos de la Rey besoek.


Op die foto wys Albert Jansen (regs) aan van die belangstellendes waar genl. De la Rey se vesting teen die hange van die Waterberguitlope (naby die huidige Erasmia en Laudium) was.

Vlnr.:  Theo en Rina van Wyk, Rienie Wilken, Janine van der Merwe, Karen en Desmond Loubser, Albert Jansen.

Die uitstappies na interessante plekke van historiese belang word volgende jaar voortgesit.

”Brieweboks” Cd en DVD-vrystelling van NX uniek en oorspronklik.

Tuesday, December 2nd, 2008

Nadia Beukes en Xander Steyn het met die vrystelling van hul Cd en DVD ”Brieweboks” al hul akteur-, liriekskryf-, komponeer- en sangtalente ingespan vir ‘n uiters suksesvolle en genotvolle aand.

Nadia vertolk tans die rol van Erika in die Kyknetreeks ”Villa Rosa”. Sy is ook die aanbieder van Tuine en Tossels. Sy en Xander tree ook saam in ”Snowwhite” op.

Bykans al die liedjies op die Cd/DVD is deur hulself geskryf en gekomponeer. Dit vertel die storie van al die briewe in die ”brieweboks” wat hulle al aan mekaar geskryf het.

Sakkie Kotze van die ATKV Centurion Sangersforum het hulle tydens die bekendstelling gelukgewens met hul oorspronklike lirieke, moderne komposisies en unieke vertolking daarvan. ”Die feit dat al die liedjies om ‘n bepaalde tema nl. al die verskillende briewe in ‘n brieweboks geskep is, maak die Cd/DVD nog meer uitsonderlik,” het hy voorts gesê. Hy is een van die beoordelaars by die Jaarlikse Vonktoekennings en het hul aangemoedig om die Cd en DVD volgende jaar in te skryf.

Carika Keuzenkamp, wat tydens vanjaar se Vonktoekennings as ”Lewende Musieklegende” aangewys is, was ook in die gehoor en was ook in haar noppies met hierdie twee jongmense se puik talent.

Lyttelton/Centurion vier vanjaar hul eeufees en Nadia is as ‘n boorling van Centurion, ook namens die inwoners vir haar prestasies met die Cd/DVD, op die verhoog en op TV vereer.