Archive for November, 2008

ATKV Centurion toer na die Oos-Vrystaat.

Wednesday, November 26th, 2008

Verskeie Centurions het verlede week die ATKV Centurion se toer na die Oos-Vrystaat meegemaak.

Interessante plekke is besoek soos o.a. Golden Gate, Clarence, die bedrywighede op ‘n tipiese kersieplaas en die tradisionele Kersiefees op Ficksburg.

Op die foto proe hulle aan die handevol kersies op ‘n kersieplaas.

Vlnr.: Ina Myburgh en Sappie du Plooy, Rina en Theo van Wyk, Beatrice Kotze, Kobie Coetzee en Mari Flint.

ATKV Centurion vereer leerders en onderwysers vir prestasies in Afrikaans nie-moedertaal.

Wednesday, November 26th, 2008

Die ATKV Centurion het erkenning verleen aan Mev. Iolanthe Grobler wat na 42 jaar by Lyttelton Manor as Adjunkhoof uit diens tree.
Sy het oor ‘n tydperk van 37 jaar Afrikaans aan Engelsprekende leerders onderrig.
Sy het die taal ook by baie ander Engelsmediumskole promoveer deur o.a. die Woordfees waaraan leerders vlytig deelgeneem het.
Twee van haar matriekleerders vanjaar, ‘n identiese tweeling, is as Toppresteerders Afrikaans aangewys met hul feitlik dieselfde persentasie van meer as negentig persent vir Afrikaans nie-moedertaal.

Op die foto verskyn vlnr.: Megan en regs Mairin (of is dit andersom..??) saam met haar tydens die skool se afskeid van mev. Grobler en vanjaar se matrieks.

Lyttelton/Centurion Eeufeesjaar 100jr

Tuesday, November 18th, 2008

Die dorp Lyttelton het gegroei en ontwikkel tot die stad Verwoerdburg, toe die stad Centurion en vandag is dit deel van die Tshwane Munisipaliteit.

Die laaste Eeufeesfunksie vind Saterdag 29 November plaas met ‘n uitstappie wat deur ATKV Centurion gereël word na plekke van kultuurhistoriese belang in Lyttelton/Centurion

Ons vertrek Saterdag 29 November om 8vm met eie motors vanaf die Lyttelton Biblioteek oorkant Lyttelton Koopsentrum en behoort 10vm. weer daar terug te wees.

Ons gaan volgende jaar gereeld sulke uitstappies onderneem.

Stuur ‘n SMS na 082 925 1488 as jy belangstel om Saterdag saam te gaan.

Mooi so..! aan Toppresteerders Afrikaans (nie-moedertaal) by Laudium Hoërskole

Tuesday, November 18th, 2008

Die ATKV Centurion het die Toppresteerders Afrikaans (nie-moedertaal) van Laudium Hoërskole gelukgewens met hul prestasie en dank en waardering teenoor die leerders en ouers uitgespreek wat nog Afrikaans as Tweede Taal van Gr. 1 tot en met Gr. 12 neem.

Sakkie Kotze, voorsitter van ATKV Centurion het die Bestuursliggame en skoolhoofde bedank dat hulle nog Afrikaans Tweede Taal as matriekvak by hul skool aanbied.

Op die foto is van die Toppresteerdes vlnr.: Naadiya Ahmed (PMT Sunni School). Zubaida Ebrahim (Al-ASR School), Npho Sethaba (Rosina Sedibane Sport School), Hajira Hoosainmia (Himalaya Secondary School) en Whelan Naidoo (Pretoria Hindu School)

Vierde sondag VONK Afrikaanse Musiektoekennings vol vonk

Tuesday, November 4th, 2008

Die vierde Sondag Vonk Afrikaanse Musiektoekenningsaand het weer vanjaar vol vonk en swier by Emperors Palace aan die Oosrand plaasgevind.

Tweehonderd en vyftig sangers en musikante het vanjaar vir die vyf en twintig kategoriee ingeskryf.

Verskeie sangers het vanjaar presteer:
Ronell Erasmus vir die beste Geestelike Album (”Amen”);
CH2 vir die beste Instrumentale Album van die Jaar (”CH2 en die Sowetan Strings Quartet”),
Juanita du Plessis vir beste Vroulike Kunstenaar en beste Cd-verkope van die Jaar.
Kurt Darren as beste Manlike Kunstenaar en vir die beste Album van die Jaar (”Voorwaarts Mars”)
Hy het ook die Ambassadeurstoekenning vir sy optredes in die buiteland ontvang.

Ander Vonkwenners van die aand was onder andere:
Theuns Jordaan as Gewildste Kunstenaar;
Lianie May as beste Nuweling en vir beste Musiekvideo (”Jy soen my nie meer nie” met Sean Else as regisseur)
Johan Vorster en Remcha Neethling as beste Liedjieskrywers (”Jy soen my nie meer nie”)
Die tagtigjarige konsertinaspeler Manie Bodenstein is as Musiekpionier aangewys.
Carike Keuzenkamp het ‘n Vonk ontvang vir die beste Kinderalbum (”Carike en Ghoempie in Kinderland”). Sy is ook as Lewenslange Legende aangewys en het met die nuutste Mercedes Sportmodel, geborg deur Mercedes Centurion, daar weggery.


Op die foto verskyn vlnr.: Sakkie Kotze (een van die beoordelaars) Kurt Darren, Corneille Hutten-Burger (CH2) Kobie Koen (Besturende Direkteur van Vonk) en Leon Gropp (CH2)

Tradisionele Boeredanspioniers van Suid-Afrika word vereer

Sunday, November 2nd, 2008

Die oudste Tradisionele Boeredansklub van Suid-Afrika het onlangs sy 21e bestaan in Centurion, waar die stigting ook destyds plaasgevind het, luisterryk gevier.

Alhoewel hierdie kultuurproduk al meer as ‘n eeu bestaan, en verskeie individue in die verlede hieroor navorsing gedoen het en selfs magister- en doktorsgrade behaal het, het die praktiese kultuurbeoefening en genieting daarvan ongelukkig deur al die jare al meer in onbruik geraak.

Fred en Alida van Zyl, stigters van die oudste Tradisionele Boeredansklub van Suid-Afrika, het al hierdie stappies en passies weer gaan opdiep en weer ‘n kultuur van tradisionele beoefening en genieting geskep.
Hulle het oor ‘n lang tydperk baie navorsing gedoen en by ons oupas en oumas op plase, in aftreeoorde en ouetehuise landwyd gaan kersopsteek, in al die ou Afrikaanse flieks gaan rondsnuffel en self nuwe passies en stappies vir die kadriel, mazurka, outydse wals, polka en seties bygevoeg.

Gedurende hierdie tydperk was daar konsekwent elke Vrydagaand ‘n saamtrek en was daar altesaam meer as eenduisend optredes landwyd by konserte, skole, kerke, aftreeoorde, openbare funksies ens. Die ATKV Centurionsangers het ook van tyd tot tyd die tradisionele danse met tipiese tradisionele Afrikaanse volksliedjies afgewissel.

Die Oudag en Namakwalandse Boereorkeste asook die befaamde konsertinaspeler Hannes Schoeman het deur al die jare vir die musiekbegeleiding gesorg.
Die ATKV Centurion Sangers- en Musiekforum het in 2000 tydens Bekroningsfunksies in Centurion, Kaapstad en Port Elizabeth, aan al die boeremusiekmusikante in Suid-Afrika wat toe al langer as 40 jaar boeremusiek in orkesverband bevorder het, vereer. Die manne wat al die langste boeremusiek in Suid-Afrika en in die buiteland bevorder soos onder andere Ollie Viljoen, Nico van Rensburg, Manie Bodenstein, Flippie van Vuuren en Willie Fourie was ook almal daar.

Die Tradisionele Boeredansklub van Suid-Afrika het deur al die jare ook kultuurvennootskappe met die Skotse-, Nederlandse-, Duitse- en Portugeuse Madeiras se Tradisionele Dansgroepe gevorm en dikwels by baie plekke saam opgetree. Hulle het ook tydens die 21e bestaansviering van die Tradisionele Boeredansklub opgetree.

Die Klub het ook sopas ‘n DVD van al die passies voltooi en word binnekort bekendgestel.

Die Tradisionele Boeredansklub van Suid-Afrika gaan ook deel uitmaak van die ”Ons Passie vir Afrikaanse Passies, Wysies en Liedjies” projek wat volgende jaar deur die ATKV Centurion Sangers- en Musiekforum, wat vanjaar sy 10e bestaan vier, landwyd van stapel gestuur gaan word.

Boeremusiekmusikante het vir die musiekbegeleiding gesorg tydens die 21e bestaansviering van die Tradisionele Boeredansklub van SA.

Sunday, November 2nd, 2008



Op die foto. voor vlnr.: Karel Swanepoel, Piet Snyman en Danie Grey.
agter vlnr.: Stefaans van Zyl, Hannes Schoeman, Dawie Beukes, Philip Raath en Chris Farrell.

Kultuurvennote by tradisionele boeredansklub van SA se 21e bestaansviering.

Sunday, November 2nd, 2008

Verskeie Afrikanerkultuurorganisasies asook Tradisionele Volksdansgroepe van ons stamlande het die afgelope naweek die 21e bestaansviering van die Tradisionele Boeredansklub van Suid-Afrika in Centurion bygewoon.

Voor vlnr.: William en Sarie Cronje (Volksang en Volkspele), Elindi Steynberg (gaskunstenaar, ATKV Centurion Sangersforum), Alida en Fred van Zyl (Stigters van die Tradisionele Boeredansklub van SA)
Middel vlnr.: Joe en Teresa de Sousa (Madeira Folcloric Group), Paul Kluge en Irmgard Aschenborn (Duitse Volksdansgroep),Lia de Jong (Nederlandse Volksdansgroep)
Agter: vlnr.: Sakkie Kotze (ATKV Centurion), Liebet en Wouter Joubert (Skotse Volksdansgroep), Ingrid Houtzageb (Nederlandse Volksdansgroep)

Die Boeremusiekgilde en die Tradisionele Boeremusiekklub van SA was ook verteenwoordig en het vir die musiekbegeleiding gesorg.

Boeredanspioniers van Suid-Afrika deur ATKV vereer.

Sunday, November 2nd, 2008

Fred en Alida van Zyl doen al vir 25 jaar navorsing oor tradisionele boeredanse soos die mazurka, kadriel, kotteljons, outydse wals, seties, polka ens. Die beoefening van die tradisionele danse het egter jare gelede in onbruik verval. Fred en Alida het die Tradisionele Boerdansklub van SA gestig om die beoefening en genieting daarvan te laat herleef.
Die ATKV het die egpaar en danspaar tydens die 21e bestaansviering van die Tradisionele Boeredansklub van SA vereer vir die bevordering van hierdie volkskultuurproduk oor ‘n tydperk van 25 jaar.


Op die foto vlnr.: Sakkie Kotze (ATKV Centurion) Alida en Fred van Zyl (Tradisionele Boeredansklub van SA)