Archive for September, 2008

“Ons vir jou” musiekspel in die Staatsteater is ‘n groot treffer.

Friday, September 12th, 2008


Op die foto wens Sakkie Kotze, tydens die eerste produksie, vir Deon Opperman, geluk met die meesterstuk. Hy is as regisseur, saam met Sean Else en Johan Vorster vir hierdie uitstekende produksie oor die Anglo Boereoorlog verantwoordelik.

Unieke Boereoorlogmusiekblyspel begin in die Staatsteater Pretoria.

Friday, September 12th, 2008

Prof. Danie Goosen van die FAK (middel) en Sakkie Kotze van die ATKV (regs) was van die genooide gaste by die eerste produksie van “Ons vir Jou” – die eerste Boereoorlogmusiekblyspel in die geskiedenis van Suid-Afrikaanse teater wat van 12 September tot 12 Oktober in die Staatsteater Pretoria op die planke te siene is.

Johan Vorster het splinternuwe liedjies vir die produksie geskryf en gekomponeer maar sy “Ons vir jou Suid-Afrika”, “Vergeet my nie” en “De la Rey” is op meesterlike wyse afgestof en ook in die produksie ingesluit.

Beide kultuurleiers het hul opregte dank en waardering teenoor Opperman, Else en Vorster uitgespreek vir ‘n uiters geslaagde produksie met puik akteurs en sangers sowel as ‘n baie effektiewe en fyn beplande teks, innoverende lied en dekor – daarom het hulle ook aan die einde so lank staande toejuiging van die gehoor ontvang.

“Ons vir jou” is ‘n unieke kombinasie van drama, blyspel, tragedie, liefde, opregte geloof in en afhanklikheid van God, vaderlandsang en musiek.

Rouel Beukes, internasionale sanger en akteur, speel die rol van genl. Koos de la Rey. Hy het al 800 oorsese optredes van “Phanton of the Opera” agter die blad en het akteursrolle in 7e Laan en Villa Rosa vertolk.

Hy tree ook in “Die Houtkruis” op wat binnekort ‘n landwye toer onderneem. Rouel tree ook later vanjaar in die primiere van “Poet and Prophetess” in Kaapstad op.

Hy is ook ‘n jarelange lid en mentor van ATKV Centurion Sangersforum.

Ander akteurs sluit o.a. in Paul Luckoff as Paul Kruger, Neels Coetzer as Siener van Rensburg, en Paul Buckby as Lord Methuen.

Jy moet dit gaan sien en hoor.
Kaartjies by Computicket, Checkers en Shoprite.


Op die foto staan hulle by Deon Opperman (links) bekroonde Hertzogpryswenner, wat “Ons vir jou” in samewerking met Sean Else (van Edenfaam) geskryf het.

ATKV CENTURION FOKUS VANJAAR OP “ONS ERFENIS” BY DIE PRETORIASKOU.

Tuesday, September 2nd, 2008

Wereldbekende akteur en historikus besoek ons Uitstalsentrum by Pretoriaskou.

Benewens die uitstallings en videos oor die ATKV se taal- en kultuurprojekte, die Willem Prinsloo Landboumuseum, die Pioniersmuseum, die Voortrekkermonument en ook die Bybelgenootskap met die 75e herdenking van die Bybel in Afrikaans, fokus ATKV Centurion vanjaar ook op die lewe en werk van die Voortrekkerleier Genl. Koos de la Rey.

Wat is die gemene deler tussen Rouel Beukes (akteur), prof. Fransjohan Pretorius (historikus en navorser) en Bok van Blerk (sanger) – al ken hulle mekaar nie?

Rouel Beukes vertolk die hoofrol van genl. Koos de la Rey in die produksie “Ons vir jou” wat volgende week in die Staatsteater begin;

Prof. Fransjohan Pretorius van die Universiteit van Pretoria het navorsing oor die lewe en werk van genl. Koos de la Rey gedoen en ‘n baie suksesvolle DVD oor “die Leeu van Wes-Transvaal” die lig laat sien;

Bok van Blerk se trefferliedjie “De la Rey” het verlede jaar aan hom meer as een Vonktoekenning besorg.

Rouel Beukes is wereldwyd bekend vanwee sy 800 oorsese optredes in “Phantom of the Opera”. Hy was die eerste wenner van ATKV Crescendo. Hy sing in “die Houtkruis” wat later vanjaar ‘n toer deur die land onderneem. Hy het akteursrolle in 7e Laan en Villa Rosa vertolk en tree later vanjaar in die Premierre van “Poet and Prophetess” in Kaapstad op.

Rouel is vroeer vanjaar tydens die Eeufeesviering van Lyttelton/Centurion deur die ATKV namens die inwoners van Centurion en Suid-Afrika vir sy nasionale en internaasionale sang en akteuroptredes vereer.

Prof. Fransjohan Pretorius het ook bekendheid verwerf met sy navorsing oor die Anglo Boereoorlog. Hy het in 2002 die 100 jaar herdenking van die ondertekening van die Vrede van Vereeniging in Melrosehuis presies op datum en tyd (31 Mei 2002) briljant gerekonstrueer met slegs ‘n handjievol uiters bevoorregte historici en kultuurleiers wat teenwoordig kon wees. Hy is ook bekroonde skrywer van “Geskroeide aarde” en “Kommandolewe tydens die Anglo Boereoorlog”. Hy het ook ‘n toekenning van ATKV Centurion ontvang vir sy waardevolle navorsing, geskiedskrywing en kultuurwerk in Suid-Afrika.


Op die foto verskyn vlnr.: prof. Fransjohan Pretorius, Rouel Beukes en Sakkie Kotze (ATKV Centurion)