‘n Baie geslaagde program is Woensdag 21 Maart op Menseregtedag met groot belangstelling, by die Voortrekkermonument aangebied.
Die program is deur Janie Fourie geopen wat uit die Braillebybel gelees en daarna vir vrede, en verdraagsaamheid onder al die inwoners van Suid-Afrika gebid het. Stefan Olivier het namens hom en Janie op die regte van gestremdes gefokus en o.a. verwys na geboue, openbare toilette en sypaadjies wat nie rolstoelvriendelik is nie. Hy het ook namens gestremdes in Suid-Afrika, ‘n beroep op die publiek gedoen om verdraagsaam en behulpsaam teenoor hulle te wees en parkeerplekke wat vir gestremdes gereserveer is oop te laat.
Die ATKV Centurionsangers en ‘n musiekensemble van Hoёrskool Waterkloof het tussendeur die voordragte opgetree.
Sakkie Kotze het in sy verwelkoming by haar aangesluit en gesê dat ATKV Centurion met die Viering van Menseregtedag in Suid-Afrika op die regte van alle Suid-Afrikaners op verskeie vlakke en situasies van die samelewing wil fokus: kinders, die jeug, gestremdes, maar ook menseregte in terme van taal-, kultuur- en godsdiens. Hy het o.a. gesê “Ons is trots Suid-Afrikaans in Afrikaans, en respekteer al die taal-, kultuur- en godsdiensgroepe in ons land”. Hy het egter alle Suid-Afrikaners opgeroep tot “Wees ook trots Suid-Afrikaans in jou taal, jou kultuur en jou godsdiens”.
Lize-Marie Smit het namens die kinders van Suid-Afrika o.a. gesê dat haar oupa altyd gesê het dat kinders gesien en nie gehoor moet word nie. “Vandag is dit anders. Ons het ook ‘n reg op ‘n mening.”
Adv Chris Maree, Senior Gesinsadvokaat het daarna by haar aangesluit en gesê dat die dae toe ‘n kind gesien en nie gehoor is nie, vir ewig verby is. Hy het o.a. na art. 28 (2) van die grondwet verwys wat bepaal “Die beste belang van ‘n kind geniet die hoogste prioriteit in elke aangeleentheid wat die kind raak”. Hy het verder o.a. bygevoeg dat “as ons dit regkry om al hierdie wonderlike wetgewing wat daargestel is om kinders en hul regte te beskerm en te implimenteer, sal ons ‘n onskatbare bydrae maak tot ons konstitisionele visie van ‘n gemeenskap gebaseer op menswaardigheid, regte en vryhede.”
Dr. Frikkie Labuschagne het navorsing gedoen oor nuwe tendense en fokusse oor leierskap. Hy het o.a. gewys op leiers se rol t.o.v. Menseregte. “Menseregtedag hou verband met menswees en die reg om te wees wie ek is.” Hy het voorts klem gelê op die rol van leiers om menseverhoudinge te bevorder.
Clarinda Greeff het dr. Labuschagne bedank en namens ATKV Centurion Jeugleiersforum ook ‘n woord van dank teenoor alle mense wat vir die regte van die jeug opstaan, betuig. Sy het voorts gesê dat hulle besef dat regte met verantwoordelikheid gepaard gaan en jeugleiers opgeroep tot verantwoordelike leierskap.
Dr. Christo Landman het as voormalige Grondwetkommissaris en navorser van Menseregte, voorgestel dat ‘n Omgewingshandves vir die regte van plante en diere geskryf word omdat die grondwet ook vir ander regte as menseregte voorsiening maak. Hy het sy verbasing uitgespreek dat daar nog geen Handves vir Kultuurgemeenskappe, Christenregte of Afrikanerregte geformuleer is nie.

Op die foto verskyn vlnr.:
Voor: Janie Fourie en haar gidshond Domino, Stefan Olivier en Lize-Marie Smit.
Agter: Sakkie Kotze, adv. Chris Maree, dr. Christo Landman, dr. Frikkie Labuschagne en Clarindi Greeff.